Lindsay en Lindani ­Myeni saam met hul kinders. Hu
Lindsay en Lindani ­Myeni saam met hul kinders. Hulle het mekaar in Suid-Afrika ­ontmoet en vanjaar na ­Hawaii getrek. Foto: Facebook/Lindani Myeni

Dit was ’n lieflike dag in hul eilandparadys. Die paartjie het sorgeloos saam met hul twee klein kinders al langs die asemrowende kus van Hawaii gaan ry en by die strand stilgehou vir iets te ete.

Toe die Suid-Afrikaanse rugbyspeler Lindani Myeni (29) later sy vrou, Lindsay, en die kinders tuis in Honolulu aflaai en sê hy gaan ’n ent ry “om sy kop skoon te kry”,  het sy geen onheil vermoed nie.

En toe sy hom kort daarna bel, het hy vir haar gesê hy is op pad terug huis toe.

Maar sy sou hom nooit weer lewend sien nie – en sedertdien is daar net haar hartseer en al die onbeantwoorde vrae: “Hoe praat jy met iemand en 18 minute later is hulle dood?” vra die bedroefde Lindsay.

Sy is nie die enigste een met vrae nie. Want die dood van die KwaZulu-Natalse boorling in sy aangenome tuiste, Honolulu, maak wêreldwyd opslae as die jongste geval van noodlottige geweld teen ’n swart man deur polisiebeamptes.

Die ANC se jeugliga het buite die Amerikaanse amba
Die ANC se jeugliga het buite die Amerikaanse ambassade in Pretoria betoog om geregtigheid vir Lindani te eis. Foto: Verskaf

Lindani is doodgeskiet net drie dae ­nadat die Amerikaner Daunte Wright (20) deur ’n polisievrou in Minnesota doodgeskiet is. En ses dae ná Lindani se dood is die polisiebeampte Derek Chauvin skuldig bevind aan die dood van ­George Floyd nadat hy in Mei verlede jaar byna nege minute lank op sy nek ­gekniel het.

“As Lindani ’n wit man was, sou hy nie dood gewees het nie,” sê Lindsay, ’n Amerikaner, sonder om te skroom.

Lindani se familie het ’n saak van onregmatige dood teen die polisie geopen. Want die beeldmateriaal van ’n polisielid se lyfkamera wys glo minstens drie skote is afgevuur voor die polisielede hulself geïdentifiseer het.

Maar die polisiebeamptes beweer hulle het niks verkeerds gedoen nie. Volgens hulle het hulle ’n inbraak ondersoek toe dinge skeefloop.
Wat presies daar gebeur het, is nog onduidelik.

Sy tante van KwaZulu-Natal, Nonhla­nhla Myeni, sê luidens ’n verslag het Lindani glo buite iemand se huis stilgehou, sy skoene uitgetrek en ingegaan.

Lindani is deur die polisie in Hawaii doodgeskiet.
Lindani is deur die polisie in Hawaii doodgeskiet. Sy dood plaas polisiegeweld in die kollig. Foto: Verskaf

“Hy het gaan sit en deurmekaar begin praat,” sê sy. “Die huiseienaars het 911 gebel om ’n inbraak aan te meld, en toe die polisie aankom, het hulle hom buite die erf aangetref en beveel om op die grond te gaan lê.”

Beeldmateriaal van die toneel toon hoe ’n beampte Lindani beveel om op die grond te lê – en toe’s dit choas.

Lindani storm op die beampte af en slaan hom teen die grond. ’n Tweede beampte probeer Lindani vang terwyl laasgenoemde heeltyd “hey, hey, hey!” skree.

’n Derde polisielid daag op en probeer Lindani met ’n skokgeweer bedwing, maar dit werk nie.

Toe weergalm die skote . . .

Lindani is na die hospitaal gehaas, maar het aan sy wonde beswyk.  Die polisie hou vol die beamptes het hulself ­net beskerm, maar sy woedende familie verwerp dit.

“Dit is nie die seun wat ons ken nie,” sê Nonhlanhla. “Die Lindani wat ons grootgemaak het, het soveel positiwiteit gehad.”

Lindani in 2015 in aksie vir die eSikhaleni-­rugby
Lindani in 2015 in aksie vir die eSikhaleni-­rugbyklub teen die Eshowe-klub in Eshowe, KwaZulu-Natal. Foto: Verskaf

Lindsay is steeds oortuig daarvan haar rugbyspeler-man se ras het ’n rol gespeel. “Mense het hom altyd soos ’n wapen behandel omdat hy so sterk was.”

Sy kan steeds nie glo hy is weg nie. “Wat sê ek vir my babas wanneer hulle vir hom huil?”

In Esikhawini, naby die KwaZulu-­Natalse dorp Empangeni waar Lindani grootgeword het, sukkel sy familie om die polisie se beeld van ’n aggressiewe, verwarde man te versoen met die sagmoedige reus wat hulle geken het.

Kleintyd was hy versot op sport en musiek en het hy op elke familiegeleentheid gesing, vertel Nonhlanhla.

Sy ma, Lindeni Nhleko (Mchunu), was ’n onderwyseres aan die Sikhula Nge­mfundo Higher Primary School in Esi­khawini. Sy was ook die leier van die skool se padvindersklub, waarvan Lindani lid was.

Sy groot passie vir rugby het hy van jongs af in Empangeni ontwikkel. Later het hy vir die Hoër Tegniese Skool ­George Campbell in Durban en die Jaguars-klub flank gespeel. Volgens sy jeugvriend en eertydse spanmaat Njabulo Dludla was hy baie talentvol.

Lindani en Lindsay by ’n rugbywedstryd in 2017. Fo
Lindani en Lindsay by ’n rugbywedstryd in 2017. Foto: Facebook/Lindsay Myeni

Toe Lindani op Lindsay verlief raak, was Njabulo een van die eerste mense vir wie hy vertel het. Die twee het mekaar by ’n hotel ontmoet waar die Jaguars op toer oorgebly het. Lindsay het in daardie tyd bedieningswerk in Suid-Afrika gedoen.

“Hy was gek oor haar,” vertel Njabulo. “Hy het haar as sy vrou beskou nog voor hy die jawoord gevra het. Hulle was onafskeidbaar.”

Die twee het in 2016 ná ’n blitsromanse getrou en het beplan om eers ’n paar jaar lank in Amerika te woon en hulle dan in Suid-Afrika te vestig. Hulle het einde 2017 na Amerika getrek, maar was kort daarna terug in Suid-Afrika.

“Lindani en sy vrou het my met ’n ­kuier verras,” sê Nonhlanhla. “Toe ek van die werk af kom, het hulle my skoenstalletjie reggemaak. Dit staan steeds sterk.”

In 2018 is die egpaar terug na Amerika, en in Februarie vanjaar het hulle na Hawaii verhuis. Daar het hulle die stil buurt Nuuanu in Honolulu gekies om hul eenjarige seun en dogter (5 maande) groot te maak.

Lindany en Lindsay. Foto: Facebook/Lindsay Myeni
Lindany en Lindsay. Foto: Facebook/Lindsay Myeni

Nonhlanhla, wat Lindani se tweede ma geword het nadat sy ma, Lindeni, in 2017 oorlede is, was gereeld met hom in kontak. Sy vertel hul laaste gesprek was ’n video-oproep op 6 April – agt dae voor sy dood. “Dit was soos enige ander gesprek. Toe ek inskakel, het hy vertel hoe groot die kinders geword het en dat dit goed gaan met hulle almal,” sê sy.

Lindani en Lindsay wou in Mei na Suid-Afrika kom sodat sy familie die kinders kon leer ken.

“Ons het almal uitgesien na ’n heerlike kuier,” sê Nonhlanhla. “Ons kon nie wag om ons kleindogter te ontmoet nie.”

Lindani se familie ondersteun sy weduwee se soeke na geregtigheid vir haar man. Die familie eis ook dat die polisie van Hawaii alle lyfkamerabeeld­materiaal van die voorval oorhandig sodat hulle die legkaart kan uitpluis.

“Dit maak ons kwater dat die polisie sê hy het vreemd gepraat. Hy het gaan sit, maar daar is geen bewys dat hy iets gevat het nie,” sê Nonhlanhla.

“Hoekom het hulle gedink hy was ’n inbreker en nie iemand wat dalk van sy verstand af geraak het nie? Die enigste manier om ’n antwoord op ons vrae te kry is om al die polisiebeeldmateriaal te sien.”

Honolulu se polisiehoof, Susan Ballard, het haar volle steun aan die polisielede verleen. “Hulle het om hul lewe geveg en het dus baie goed gedoen. Hulle was baie dapper,” sê sy in ’n verklaring.

“Ek dink ons moet onthou dit het niks met ras te doen gehad nie. Dit het te doen gehad met gedrag, die feit dat die persoon die beamptes ernstig beseer het en hul lewe in gevaar was.”

Die Hawaiise polisieondersoek duur voort. Intussen het die Suid-Afrikaanse regering aangebied om sy lyk huis toe te bring, en die familie het ’n skarefinansieringsveldtog vir hul regskoste begin.

Lindsay vertel sy is steeds verslae. Sy sê dit was juis oor Amerika se geskiedenis van polisiegeweld dat hulle besluit het om na Hawaii te trek. Sy het gevoel die eilandparadys sou ’n veiliger plek wees om hul kinders groot te maak.

“Lindani het my hart,” sê sy in ’n emosionele Facebookhuldeblyk. “Ek sal nooit weer ’n volmaakte liefde soos hy vind nie. Hy was onbeskryflik . . . Geregtig, maar nie eiegeregtig nie. Liefdevol en wys.

“Hy was te goed vir hierdie gebroke wêreld.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe