Dit was ’n doodgewone Saterdagkuier in ’n gewilde gesinsrestaurant, ’n plek waar kinders sorgeloos en veilig behoort te kan speel. Sommer vroegaand nog. Maar toe gebeur die nagmerrie wat elke ouerhart vrees.

Die een oomblik was haar kind nog in die speelarea van die restaurant – en toe die ma weer kyk, was sy weg. By die kelnerin wat toesig hou, moes die ma hoor haar dogtertjie is badkamer toe. Toe sy gaan ondersoek instel, tref sy haar kind huilend in een van die hokkies aan . . .

Suid-Afrikaners is tot in hul siel geskok en gewalg deur die onlangse beweerde verkragting van die sewejarige meisie in ’n Dros-restaurant in Silverton, Pretoria-Oos. Die blote gedagte dat jou kind se veiligheid in haas geen openbare plek verseker is nie – nie eens ’n besige restaurant nie – vul elke ouer opnuut met paniek en vrees.

Sedert die voorval op 22 September bly die vermeende slagoffertjie en haar verpletterde ma uit die kollig en weier hulle om met enigiemand te praat. Maar alle aandag en openbare woede is gefokus op die naakte jong man wat deur personeellede en klante van die restaurant betrap is.

In ’n video wat in die sosiale media versprei is, ontken ’n bebloede Nicholas die verkragting. Foto: Facebook.

In ’n selfoonvideo wat deur iemand geneem en aanlyn versprei is, kan bloed aan sy gesig, bors en maag gesien word nadat hy deur verwoede omstanders aangerand is.

In die ontstellende video probeer die beweerde verkragter, die 20-jarige selfoonverkoopsman Nicholas Ninow, sy naaktheid met ’n bebloede hemp bedek terwyl hy skree: “There is nothing f****** wrong with me; I’m sober! I’m a mental man!”

Die video is intussen van die meeste sosiale media verwyder – maar nie voor duisende woedende Facebookkommentare na Nicholas afgevuur is nie.

In ’n bisarre wending het Huisgenoot vasgestel Nicholas bedryf nie minder nie as drie Facebook-profiele. Twee is kort voor ons druktyd gesluit. Op die oorblywende profiel poseer hy glimlaggend saam met sy eksverloofde en lyk hy soos ’n doodgewone jong man.

Maar dié profiel, nes die twee wat intussen van Facebook verwyder is, het streng privaatheidskontroles en verklap min oor hom.

Praat jy met kennisse, noem sommige Nicholas, wat drie jaar gelede nog ’n leerder aan die Hoërskool Die Wilgers in Pretoria was, ’n “moeilikheidmaker” en “aggressief”. Maar ’n kinderverkragter? Dít vul almal met skok en afgryse.

‘Toe die deur oopgaan, was die man binne kaal en die meisie in trane’

Nicholas sou kort ná ons druktyd, op 2 Oktober, in die hof verskyn op aanklag van verkragting. Dít terwyl sy swanger eksverloofde in Januarie die lewe aan hul seuntjie sal skenk, vertel ’n vriendin van die verloofde wat nie haar naam genoem wil hê nie.

“Almal is geskok, maar sy eksverloofde sukkel veral om te verwerk wat gebeur het,” vertel die vriendin. “Dit gaan nie goed met haar nie. Ons het geweet Nicholas is soms ’n moeilikheidmaker, maar niemand het hierdie ding sien kom nie. Niemand het gedink hy sou so ver kon gaan nie.”

Nog ’n vriendin van die verloofde vertel sy het haar verlowing met Nicholas verbreek ná die verkragting op 22 September. “Sy kan nie eens haar huis verlaat sonder om sleggesê te word nie.”

By ’n meenthuiskompleks elders in Pretoria kom ’n rooikopvrou sleepvoet na die veiligheidshek waar ons haar inwag. Haar oë lyk moeg en haar lyftaal spreek van gebrokenheid. Sy is Nicholas se ouma by wie hy in onlangse jare gewoon het. Ons is nie welkom nie.

Toe ons later bel, sê sy net: “Dis nog te vroeg. Die wonde is te rou om nou daaroor te praat. Ons doel is nou om te fokus op wat in die volgende weke in die hof gaan gebeur.”

Die beweerde verkragting het glo in die Dros-­restaurant in die Silverwater Crossing-winkel­sentrum in Silverton plaasgevind. Foto: Google Earth.

’n Voormalige skoolvriend vertel Nicholas het met verkeerde vriende deurmekaargeraak. “Ek het vroeg op hoërskool besluit om ons vriendskap te beëindig omdat hy later met dagga en ander dwelms geëksperimenteer het. Ek het geweet ek kan nie daarby betrokke raak nie.”

Ander vertel Nicholas het hom later probeer regruk. In Februarie 2016 het hy op sy Instagramprofiel verklaar hy is al ’n jaar lank dwelmvry. “Nicholas het in ’n stadium in sy lewe die Here probeer vind,” vertel nog ’n skoolvriend anoniem. “Hy het skielik kerk toe begin gaan en gesê hy wou sy lewe regruk.”

Op ’n tydstip was hy selfs ’n goeie sportman, vertel Bernhard de Vos, hoof van Die Wilgers. “Hy was maar ’n besige kind. Nie altyd sonder moeilikheid nie – maar nie ’n slegte kind nie.”

Tog het talle van Nicholas se vriende aan Huisgenoot gesê hy was dikwels aggressief. “Hy wou rusies met sy vuiste oplos – dis maar net hoe almal vir Nicholas geken het,” vertel een.

By die selfoonwinkel waar Nicholas die afgelope vier maande gewerk het, beskryf sy bestuurder hom as ’n uitstekende verkoopsman. “Ons het nie geweet wat aangaan toe hy verlede week nie by die werk opdaag nie. Ons het gewonder of hy iets oorgekom het. Dae later het ’n familielid laat weet hy is in die tronk.

Nicholas op een van vele kaalbolyffoto’s wat hy in die sosiale media gedeel het. Foto: Facebook.

“Dit was ’n ongelooflike skok. Ons kon dit nie glo nie. Hy het altyd die meeste komplimente van kliënte gekry. Hulle het gesê hoe hy graag na hul versoeke luister en altyd sy tyd neem om hulle werklik te help.”

Watter afgryslike tonele presies daardie vroegaand in die badkamer afgespeel het, is nog ’n donker geheim. By die Dros vertel een werknemer anoniem ’n “oproer” het losgebars toe die ma haar dogter in die badkamer gaan soek het.

“Die ma het begin hamer teen die deur van een van die drie toilethokkies wat van binne gesluit was . . . Toe huil die kind binne. Kelners het die ma te hulp gesnel en die deur oopgeruk. Toe die deur oopgaan, was die man binne heeltemal kaal en die meisie in trane,” vertel die werknemer.

Nicholas het toe glo na die mansbadkamer gehardloop en homself in een van die hokkies toegesluit, maar omstanders het die deur oopgebreek en hom aangerand. “Hy het bebloede klere by hom gehad – vermoedelik syne en die meisietjie s’n.”

Francois Pieterse, operasionele bestuurder van die restaurant, sê hy moes tussenbeide tree om te verhoed dat sy klante Nicholas ernstig beseer. “Anders het ons ’n moord op hande gehad.”

Die toilethokkie waar Nicholas homself volgens ‘n omstander glo ná die beweerde verkragting toegesluit het. Foto: Facebook.

Nicholas is in die badkamer aangehou en toe deur die polisie van die toneel weggeneem. Hy het op 28 September vlugtig in die streekshof in Pretoria verskyn.

Hoe dit emosioneel en fisiek met die kind gaan, wil niemand in hierdie stadium sê nie. Ook nie of sy in staat sal wees om agter geslote deure te getuig nie.

Aan Huisgenoot is wel bevestig die Dros sal help met die betaling van haar mediese onkoste. Wat die sielkundige tol op die kind op lang termyn sal wees, is ook nog nie seker nie.

Maar een ding is wel seker – ná dese het derduisende ouerharte rede om te vrees vir die veiligheid van hul kinders – selfs op klaarblyklik kindervriendelike openbare plekke.

Want soos een van Nicholas se vriende dit stel: “As hy dit regtig gedoen het, weet ek nie wat hom besiel het nie. Ek weet nie of enigeen ooit regtig sal verstaan wat aangaan in die kop van iemand wat so iets aanvang nie.”