Nádine vertel aan Huisgenoot die voorval het gebeur ongeveer 18:00 die aand ná 'n opname van Musiek Roulette, waarvan sy die aanbieder is.

“My ma het voor my gery en ons was in Malibongweweg in Randburg toe ek ’n man wat netjies aangetrek is na haar kar toe sien stap. Ek besef toe hy verkoop niks nie en leun by haar venster in,” sê sy. Die verkeerslig was rooi en hulle het stilgestaan. Haar ma se venster was halfpad oop.

Sy sien toe hoe dié man en haar ma in die motor spartel. “Ek het soos ’n besetene geskree. ‘Leave my mom alone, leave my mom’ en die toeter geblaas maar hy het net aangehou om verder by haar venster in te leun,” sê sy.

Sy sê sy het so magteloos gevoel. “Daar was ’n klomp karre om ons, maar niemand kon iets doen nie toe trap ek die petrol en jaag in my ma se kar vas,” sê sy.

Nádine sê die man het haar ma toe uitgelos maar sy aandag op haar gevestig. “Hy het heel kalm na my toe geloop en probeer om die kar se deur oop te maak. Ek het net aanhou skree en toe reverse. Toe het hy weer agter my aangeloop maar ek dink hy het besef dié ding trek nou te veel aandag toe hardloop hy weg toe ander karre om ons begin ry,” sê sy.

Sy sê eers toe sy uit haar kar spring en haar ma omhels het haar ma vir haar gesê dié man het ’n wapen op haar gerig toe hy by haar venster ingeleun het.

“Hy kon haar in haar bors geskiet het. Ek het haar kar so hard getref dat sy die kar voor haar getref het en haar foon (by die venster uitgevlieg het en) onder haar kar beland het,” sê Nádine.

Genadiglik is Nádine fisies ongeskonde en haar ma het net ligte harsingskudding ná die ongeluk.

“Dit was so erg. ’n Mens voel so magteloos. Ek weet dit gebeur met soveel mense in die land. Ek weet, maar dis vreeslik as jy iemand wat jy lief het in so ’n situasie sien”.

Nádine sê sy verstaan waarom ander mense nie stilhou as so iets gebeur nie, want almal moet hulself beskerm.

“Ek wil net dankie sê aan die drie polisiemanne wat meer as 40 minute lank saam met ons gery het om te kyk of hulle die man kon opspoor. Een van die konstabels het my selfs later gebel en gevra of ons veilig en oukei is. Mense sê altyd die polisie is korrup maar, daar is soveel goeies nog,” sê sy.

Nádine sê hoewel sy vreeslik emosioneel en bewerig was Donderdagaand en Vrydagoggend is sy net dankbaar sy en haar ma het nie ernstig seergekry nie.

“Dit maak ’n mens se oë oop. ’n Mens moet paraat wees by verkeersligte. Moenie omdat daar baie karre om jou is of omdat dit nog nie donker is, dink hulle gaan jou nie teiken nie. Hulle sal.”

'n Saak is nog nie geopen nie. "Ons sal later vandag (Vrydag) een oopmaak," sê Nádine.