Nou, sewe weke later, kan hulle met hul lewens aangaan. 

Jaco Badenhorst (13) en Marius Mathee (30) het een Saterdag in Mei gebraai toe die fratsongeluk gebeur het.

Marius is verloof aan Jaco se suster, Kyla Steyn. 

“Jaco se stem is nog bietjie hees omdat sy longe en stembande gebrand het en hy is nou bang vir vuur. Hy kry ook nagmerries, maar hy herstel goed,” vertel sy ma, Mariette Mans, aan Huisgenoot. 

Die twee was besig om die vuur aan te steek by Kyla en Marius se huurhuis op Krugersdorp toe 'n houer met vlambare vloeistof ontplof het. Hulle glo die walms van die houer het vlam gevat. Hulle het nie besef dié houer staan so naby aan die vuur nie. 

“Hulle het dadelik in die swembad gespring. Jaco het brandwonde op 42% van sy lyf opgedoen. Die ergste is aan sy nek en onder sy arms waar dit derdegraadse brandwonde is. Dié aan sy gesig is tweedegraadse brandwonde.”

Foto: Verskaf
Jaco was sommer vroeg na sy ongeluk positief oor die pad vorentoe.
Foto: Verskaf
Hulle het aanvanklik nie geweet hoe erg die interne brandwonde is nie.
Foto: Verskaf
Jaco saam sy ma, Mariette Mans en sy stiefpa Riaan Mans toe hy nog in die hospitaal was.

 Haar aanstaande skoonseun het nog erger gebrand.

“Marius het oor 48% van sy liggaam heen gebrand. Baie erge brandwonde op sy bors veral. Hy was vir drie weke in ’n private hospitaal onder verdowing. Jaco net vir twee dae onder verdowing in ’n staatshospitaal en ná nege dae huis toe,” sê sy.

Foto: Verskaf
Die foto is geneem nadat Marius wakker geword het na drie weke in die hospitaal.
Foto: Verskaf
Marius se hande na die fratsongeluk.

Mariette sê die dokters en die familie is verbaas oor hoe goed die twee herstel.

“Nie een van hulle het veloorplantings gekry nie, al het die dokters aanvanklik gedink dit gaan nodig wees.”

Jaco herstel merkwaardig goed na die ongeluk. Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Kyla en Marius na die ongeluk. Hulle het 'n dogtertjie saam.

Mariette sê die familie het baie om te vier. 

“Ek het verlede week my laaste rondte chemo gehad,” sê sy. Mariette het gevorderde servikale kanker. 

“En Kyla en Marius se dogtertjie, Isabella, het een geword, so ons hou partytjie die naweek,” laat sy hoor. 

“Ek dink dis net genade van Bo dat Marius en Jaco so goed herstel het . . . en al die gebede. Ek kan nie vir jou sê hoe mense ons ondersteun het nie. Ons is baie dankbaar,” sê sy. 

Jaco keer volgende week terug skool toe. Hy is in Hoërskool Noordheuwel. Marius begin 15 Julie weer werk. Hy is ’n mynoperateur.