Maar dít was net meer as twee maande gelede. Vandag is Naka Drotské (48), die haker van 1995 se triomfantlike Springbokspan, dankbaar hy lééf. En hy is bly hy het toe tog daardie tweede en derde kans op lewe aangegryp, selfs al het dit destyds byna alles van hom geverg om teen ’n verdoemende moedeloosheid te veg.

Vandag, net meer as 10 weke nadat hy in ’n rooftog op sy broer, Tinus, se kleinhoewe in Kameeldrift, Pretoria, geskiet is, is hy steeds verstom dat hy ’n bitter oorlewingstryd gewen het.

Hy het immers destyds teenoor Huisgenoot gebieg: “Binne enkele dae het my veggees gekwyn. En sonder dat ek besef wat ek vra, vra ek God om my te kom haal.”

Naka
Naka se vrou, Marzanne, is sy steunpilaar, sê hy. Sy het dag en nag by hom gewaak en hom aangemoedig om nooit op te hou om vir sy lewe en dié van sy familie te baklei nie. Foto:Verskaf

Tóé, gekoppel aan ’n asemhalingsmasjien nadat hy twee keer 'n hartstilstand beleef het, was sy moed op ’n absolute laagtepunt. Die dokters s’n ook, hulle het immers een laatnag sy gesin ontbied om hom te kom groet. Net ingeval . . .

Maar nou gaan dit met hom beter as ooit vantevore, vertel sy vrou, Marzanne (42), Donderdag telefonies aan Huisgenoot.

Soos sy self sê: “In die lewe het jy twee keuses: Jy kan kies om ’n victim of ’n victor te wees. Met God is ek en my gesin dankbaar om te sê dat ons van vandag af vorentoe elke dag kies om oorwinnaars te wees.”

Marzanne vertel Naka kry steeds fisioterapie om die volle gebruik van sy regterarm te herwin. Maar die apparaat wat hy eers moes ronddra om sy wonde skoon te hou, is nou lank vergete. So ook die gips, die steke en die donker tyd waarin hy ná die rooftog gedompel was.

“Die fisioterapeut is baie tevrede met Naka se vordering,” vertel Marzanne.

“Die patroon wat deur sy arm is, het groot skade aangerig en gaan baie tyd en aandag verg om weer te herstel.”

Marzanne sê Naka is positief en pak elke dag nou met nuwe moed en ywer aan. “Hy het heelwat gewig verloor en is nou ’n bietjie maer vanweë ’n ses week lange antibiotika-kursus, maar ons werk daaraan. Ons lewens het vir die grootste deel na normaal teruggekeer – en twee maande gelede het ons amper gedink ons gaan nie hier wees nie.”

Naka
’n Masjien moes Naka se wonde reinig. Foto: Papi Morake.

In die weke sedert sy emosionele tuiskoms op 6 Januarie het Naka ook berading oor die voorval ontvang.

Marzanne sê nie sy of Naka veg in dié stadium teen trauma of angs weens die voorval nie.

“Dis deur en deur ’n wonderwerk. Hy het geen angs nie; geen nare drome of flitsbeelde of nagsweet nie. Ons is gewaarsku dat dit dalk later kan terugkom . . . Maar ons glo darem nie so nie. Dit klink erg om te erken, maar die stryd in die hospitaal om aan masjiene gekoppel te wees was vir Naka amper erger as die skietvoorval.

“Wat veral baie gehelp het, is dat hy kort na sy tuiskoms ook baie daaroor gepraat het. Hy sou die storie in fyn detail vir mense vertel; en ek glo dit het hom op ’n manier ook help heel word. Nou het ons dit agter ons gesit. Ons is net so dankbaar hy leef.”

Die vrees dat Naka se seuns, Allen (15) en Tristan (11), en Marzanne se dogters, Jeazanne (19) en Annica (15), dalk ook aan posttraumatiese stressindroom sou lei, het nou soos mis voor die son verdwyn.

“Die kinders is piekfyn – en daarvoor is ons ook baie dankbaar. Ons was veral skrikkerig dat die seuns dalk bang sal wees ná hul terugkeer uit Amerika (waar hulle by hul ma, Liske, gaan kuier het). Maar hulle besef sulke dinge gebeur oral; hulle weet hoe gelukkig ons is om vandag steeds ’n groot en volledige gesinnetjie te wees.”

·         Die polisie in Kameeldrift in Pretoria het Donderdag aan Huisgenoot bevestig niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.