Een jaar na dáárdie aanval op ’n kleinhoewe in Kameeldrift, Pretoria, bly dit vir die oud-Springbok Naka Drotské (49) steeds vreeswekkend om te dink presies hoe naby hy aan die dood gekom het.

En dit was g’n maklike pad nie: Naka was weke lank in intensiewe sorg weens die skietwonde aan sy maag, arm en bors – en in een stadium het hy selfs vir die Here gevra om hom “te kom haal”.

In Januarie het die haker van die triomfantelike Springbokspan van 1995 nog aan Huisgenoot vertel: “Ek was op die laagste punt wat ek nóg was. Kwaad. Gefrustreerd. Ek het die Here gevra om my maar te kom haal . . . Ek wou die stryd gewonne gee.”

Maar hy het nie. En een jaar later is Naka dankbaar vir nóg ’n kans om te leef.

Naka Drotsky
Naka Drotsky in die hospitaal. Foto: Facebook

“Dis alles net genade – daar is geen ander manier om my oorlewing te beskryf nie. Ek het nóg ’n kans gekry toe ek self wou opgee, maar God het beter geweet,” vertel hy telefonies uit Bloemfontein waar hy saam met sy vrou, Marzanne (43), en kinders woon.

“ ’n Mens besef eers ná so ’n groot skrik hoe kort die lewe is; of hoe maklik ’n ongeluk kan gebeur. Ons lees altyd hierdie dinge in die media, maar steur jou nie veel daaraan nie omdat dit nooit naby aan jou kom nie. Tot dit die dag met jou gebeur.”

Een jaar gelede was hy op pad Johannesburg toe om sy seuns, Allen (13) en Tristan (12), na die OR Tambo-lughawe te neem waar hulle ’n vlug na Amerika sou haal om by hul ma, Liske, te kuier. 

Daardie aand sou hy op sy broer, Tinus, se kleinhoewe oornag. Hy was maar tien minute daar toe vier rowers toeslaan, en Naka is eers deur die regterarm en bors geskiet, en toe deur die maag. Die rowers het op die vlug geslaan.

“Ek onthou nog so goed hoe ons op pad Johannesburg toe was en hoe ek planne vir daardie aand gemaak het. Maar nooit het ek besef wat op my wag nie. Nie een keer het ek besef hoe naby aan die dood ek sou kom nie,” vertel hy.

Naka ’n paar weke ná die aanval, met ’n verband en ’n masjien wat sy wonde reinig. Foto: Papi Morake

Naka is eers op 7 Desember ontslaan, maar sy gesondheid het ná vyf dae ’n erge terugslag beleef.

Hierna het weke van hel gevolg, soos onder meer op 11 Desember toe sy hart twee maal gaan staan het, en op 12 Desember toe dokters aan Marzanne gesê het om die familie na die hospitaal te ontbied om Naka te groet.

“Joeg . . . ’n Mens vra jouself gereeld: Hoe lucky kan een mens wees? Maar dis nie luck nie. Allesbehalwe. Dis die Here wat vir my so goed was – dis Hy wat my hierdeur gedra het,” sê hy.

Deesdae, vertel Naka, is hy perdfris en gesond. Hy oefen nog gereeld sy regterarm nadat hy die gebruik daarvan in die skietery verloor het.

“Ek en Marzanne sê gereeld vir mekaar: dankbaarheid – dis al wat ons behoort te ervaar.”

Naka se vrou, Marzanne, is sy steunpilaar, sê hy. Sy het dag en nag by hom gewaak en hom aangemoedig om nooit op te hou om vir sy lewe en dié van sy familie te baklei nie. Foto:Verskaf

Op Facebook skryf Marzanne: “Vanaand ’n jaar terug het die Here jou beskerm en jou vir jou ons gespaar!!! Hoe sê mens dankie vir so ’n ongelooflike wonderwerk. Dankie vir die ongelooflike man en pa wat jy vir ons kinders is! Ons is baie lief vir jou!!!”

Vanaand, op die herdenking van daardie aand toe sy lewe handomkeer verander het, gaan hy saam met sy gesin uiteet. Maar hy kom nié naby aan ’n braai nie, sê hy tergend.

“Ons sal liewer by die restaurant kuier en dit eenvoudig net geniet om by mekaar te kan wees. Maar ek sal definitief nie braai nie – want verlede jaar se braai dié tyd van die jaar het nie baie goed verloop nie.”