Naka Drotské sal sterker aan die ander kant uitkom, sê sy voormalige Springbokspanmaats.

“Naka is die soort ou saam met wie jy oorlog toe kan gaan,” het Corné Krige aan Huisgenoot gesê. “Hy sal vir seker sterker aan die ander kant uitkom.”

Naka en nog ’n oud-Springbok, Os du Randt, is Donderdagaand omstreeks 09:15 op Naka broer, Thinus, se kleinhoewe buite Pretoria deur vyf rowers aangeval. 

Thinus se drie kinders was by die huis.“Naka het opgespring en die mans bestorm. Hulle het hom drie keer geskiet en toe het hulle gelukkig gevlug,” het Thinus aan Times Live gesê. 

Naka is aan die regterkant van sy bors, maag en regterarm geskiet. Niemand anders is in die voorval beseer nie. Netwerk24 berig hy het baie bloed verloor, maar is in ’n stabiele toestand in die Netcare Montana-hospitaal.

Corné sê Naka is die soort mens wat jy in jou span wil hê wanneer jy die opposisie aanpak. “Naka is ’n vasbyter. Hy moet net nou deur hierdie moeilike, kritieke tyd kom. Ek weet die hele rugbygemeenskap staan agter hom.”

Nog ’n voormalige Springbokspanmaat, Toks van der Linde, sê: “Ek dink baie aan my spanmaat en vriend wat saam met my groot geword het. Naka, jy en jou familie is in my gebede. Staan sterk, yster.”

Ons lewe in ’n land wat geplaag word deur misdaad en korrupsie, sê Joel Stransky.  “Dit is ongelooflik hartseer wanneer mense hierdeur geraak word.

“Die feit dat Naka in die intensiewe-eenheid lê is vir ons almal swaar. Dit is eintlik heeltemal onaanvaarbaar as ek reguit hieroor moet wees. Ons gemeenskappe sal iets hieraan moet doen.”

Joel het ook saam met Naka in die 1995-Wêreldbekerspan gespeel het.

“Naka is ’n vegter en ’n taai ou. Hy sal hierdeur kom. Ek meen hy was ’n haker.”

Joel sê Naka en sy familie sal in sy gebede wees.

Rudolf Straeuli het laat weet Naka en sy familie is in sy gebede. “Ons hoop hy herstel gou. Ons dink aan almal.”