Thinus Drotské, Naka se broer, het dié nuus Woensdagmiddag aan Huisgenoot bevestig. Hy het verdere navrae na die Mediclinic Bloemfontein verwys.

Barbara Steenkamp, ’n woordvoerder vir die hospitaal, sê Naka is in die intensiewe sorgeenheid en ervaar baie pyn.

Steenkamp het die oud-Springbok se toestand as kritiek maar stabiel beskryf.

“Dis moeilik om in dié stadium ’n prognose te maak,” sê sy. “Wat ek nou kan bevestig is dat Naka wel stabiel is – maar dis nog onseker hoe môre en oormôre gaan lyk.”

Volgens Steenkamp is Naka in die intensiewe sorgeenheid opgeneem met onder meer dermkanaalbloeding (inwendige bloeding) en volwasse respiratoriese noodsindroom gepaard met longinfeksie.

Naka het glo ook baie bloed verloor en is tans besig om bloedoortappings te ondergaan omdat hy net sowat 25% bloed in sy liggaam oor het.

Op ’n vraag of Naka se lewe in dié stadium in gevaar is, sê Steenkamp: “Dis moeilik om te sê. Hy is baie siek en die volgende drie dae gaan kritiek wees.”

Geen besoekers word tans by Naka toegelaat nie. Steenkamp sê Naka se vrou, Marzanne, is by die hospitaal om hom te ondersteun.

Sy sê die familie probeer in dié stadium sterk staan, maar dis veral moeilik omdat hulle nie met Naka kan praat nie.

“Dis standaardprosedure vir enige pasiënt wat op ’n asemhalingsmasjien is om nie te kan kommunikeer nie. Verder is Naka ook op sterk pynmedikasie. Dis in dié stadium baie belangrik dat hy in die intensiewe sorgeenheid is sodat hy kan rus. Dis die beste ding vir die herstelpad wat voorlê.”

Drotské is einde November in ’n aanval by Thinus se huis in Kameeldrift-oos buite Pretoria raakgeskiet. Hy het sedertien twee operasies ondergaan. Die familie het beoog om vandeesweek na Jeffreysbaai te vlieg waar Naka sou aansterk voordat hy ’n terugslag gehad het. Huisgenoot het verneem die gesin se vakansieplanne is tans in die weegskaal.

Steenkamp sê die familie het gevra dat sy namens die Drotské-familie hul dank uitspreek vir die gebede en boodskappe van bemoediging wat landwyd instroom.