Hulle het gereeld as gesin in een bed saam opgekrul. Haar reus van ’n pa met sy twee lieflingdogters – een in elke arm. Net om later vir haar ma en die gesinshond ook plek te maak sodat hulle almal saam snoesig kon lê en televisie kyk.

“Sommer ons al vyf in een bed; ons was baie na aan mekaar,” onthou Marzell Newman (24) en kyk verslae na haar hande.

Daardie gelukkige samesyn is nou net ’n bittersoet herinnering, want Marzell se pa, ma, kleinsus en ook haar grootouers is die afgelope Paasnaweek saam in ’n motorongeluk dood. In ’n oogwink is sy alleen agtergelaat hier op aarde – ’n volwasse weeskind sonder ’n gesin.

Vir die res van die land is die Newmans dalk deel van Paasfees se padsterftestatistieke, maar vir Marzell was dit al haar mense.

Marzell Newman (24) saam haar kêrel van die afgelo
Marzell Newman (24) saam haar kêrel van die afgelope drie jaar, Armand van Wyk (25). Foto: Misha Jordaan

Die jong vrou lyk gebroke waar sy nou langs haar kêrel van die afgelope drie jaar, Armand van Wyk (25), in die huis van ’n familielid van hom in Milnerton, Kaapstad, sit. Hy hou haar hand styf vas, maar kort-kort skiet haar bruin oë vol trane. Dit is twee dae ná die roudiens van haar geliefdes wat ná hul verassing gehou is.

“Dit was baie moeilik, want jy voel niks en jy dink niks; jy is net daar,” vertel Marzell.

“Dit het gevoel of iets in my dood is.”

Die hartseer is nog te rou om na haar ouerhuis in Plumstead in die suidelike voorstede van Kaapstad terug te keer waar Marzell tot voor die ongeluk gewoon het.

“Ons hele huis is vol familieportrette en familiedinge. My pa se tuin, die rokers en ander masjiene waarmee hy vleis bewerk het. Die reuk en alles. Ek sien nog nie kans nie.”

Die laaste bederfbare groente het Armand die vorige dag gou uit die yskas gaan haal.

“Dan dink jy daaraan dat dit die laaste groente is wat my ma gekoop het en waarmee sy aandete wou maak . . .”

Marzell en haar kêrel, Armand. Hy en sy gesin is in hierdie tyd haar steunstelsel. Foto: Misha Jordaan

Marzell was die langnaweek saam met die res van haar gesin en haar grootouers by hul strandhuis op Struisbaai, maar sou op Paasmaandag die middag saam met Armand terugry Kaapstad toe.

Haar familie het vroeër die dag in haar pa se voertuig in die pad geval. Sy kan die gevoel nie afskud dat haar mense ’n voorgevoel gehad het nie. 

“Almal was die Maandag so rustig. Gewoonlik was my pa haastig om in die pad te val en by die huis te kom, maar dié keer was dit net anders. Hy het twee keer uit die kar geklim en my gegroet.”

Kort daarna is haar ouers, Mike (53) en Zelda Newman (50), en haar jonger suster, Chanté (21), al drie dood toe hul Toyota Fortuner buite Napier in ’n botsing met ’n ander voertuig was. Ook haar oumas, Hazel Newman (77) en Maria Pieterse (84), en haar oupa, Johan Pieterse (85), het in die ongeluk omgekom, asook die gesin se geliefde schnauzerhondjie, Jax. Net Lollie die ringnekpapegaai het wonderbaarlik lewend uit die motorwrak gekom, wat ’n klein bietjie vertroosting bring.

Die eerste wat Marzell van die gru-ongeluk op die Napierpad gehoor het, was toe sy in die sosiale media daarvan lees, maar sy was onseker of dit haar pa se Fortuner was wat betrokke was. Sy het ál onrustiger geraak toe nie een van haar familielede hul selfone beantwoord nie. Kort daarna het sy en Armand besluit om na die ongelukstoneel toe te ry.

’n Polisiebeampte het die ondenkbare werklikheid bevestig: Dis haar mense wat daar gesterf het.

In die dae daarna het soveel prosesse gevolg – ’n pynlike, uitgerekte groet gedemp deur nimmereindigende administrasie.

“Jy stap weg met net drie of vier sakkies met hul besittings,” sê Marzell verslae. Stukkend vertel die donkerkop sy het na die polisiefoto’s van die motorwrakke gekyk. Op een kon sy haar geliefdes skrams sien.

“Chanté het haar Vans-tekkies aangehad en haar bene het gekruis by die kombersie uitgesteek.”

Die Newmangesin by die see. Foto: Verskaf

Armand en sy gesin het Marzell sedertdien onder hul vlerk geneem. Sy ma, Sonja, is nou vir haar soos familie en help waar sy kan. Marzell, wat ’n loopbaan in sakebestuur volg, en Armand, ’n mikrobioloog, ken mekaar al jare lank, want Armand het op Struisbaai grootgeword, waar die Newmangesin ’n vakansiehuis gehad het.

“Dit was eintlik ’n vreemde naweek,” vertel Marzell van haar familie se laaste kosbare tydjie daar. Haar oupa het die Vrydagoggend voor hul vertrek ’n ligte beroerte gehad ná ’n vorige beroerte in Februarie. Ook oor haar kleinsus se gesondheid was daar kommer, want Graves se siekte is onlangs by Chanté gediagnoseer – ’n outo-immuunsiekte wat tot ’n ooraktiewe skildklier lei en onder meer die hartklop en spysvertering kan aantas.

Maar Marzell onthou ook die spesiale laaste oomblikke: die botterhoender wat haar ma die Vrydagaand gemaak het en die bordspeletjies voor ’n knetterende kaggelvuur.

Haar ouers was onafskeidbaar, vertel Marzell. Mike, of Manna soos mense na aan hom hom genoem het, was ’n bouer en Zelda het jare lank by ’n bank in die menslikehulpbronneafdeling gewerk. Die afgelope jaar of wat het sy haar man met sy bou-onderneming gehelp en ook konsultasiewerk gedoen.

“My pa sou byvoorbeeld gaan jag, maar dan kom hy twee dae vroeër terug, want hy mis my ma te veel. Hulle sou vanjaar 27 jaar getroud gewees het en ek kan net een keer onthou dat hulle baklei het. My pa het toe al die rose in sy tuin gaan pluk en dit vir haar op die bed uitgepak. Sy kon nie vir hom kwaad bly nie.”

Haar ma was haar sielsgenoot, sê Marzell. “Ons kon ure in die winkels wees.”

En haar hart voel swaar en seer wanneer sy aan haar warrelwind van ’n suster dink.

“Ons was die verpersoonliking van die uitdrukking ‘I’ll give you my kidney, but you’re not borrowing my charger’.”

Nou lê talle eerstes sonder haar mense vir Marzell voor: Kersfees, herdenkings en verjaardae, dae wat eens vreugdevolle vierings was, maar nou ’n hartseer vooruitsig geword het. 

Kort ná Huisgenoot se druktyd sou sy Moedersdag die eerste keer sonder haar ma moes vier.

“Wanneer ek aan Moedersdag dink, sien ek pienk of rooi blomme. My pa het potjiekos gemaak of gebraai. Ek en my sussie het vir die oumas en my ma geskenke gekoop, en die oumas en my ma vir mekaar.”

Kersfees was ’n besonderse tyd vir die gesin, ook omdat haar pa op Kersdag verjaar het.

Marzell Newman.
Marzell Newman. Foto: Misha Jordaan

“Ons het verlede Kersfees vir die eerste keer iets anders gedoen,” onthou Marzell. Waar hulle voorheen op Oukersaand net ’n Kerstafel gedek het, het hulle dit toe ’n verjaardagtafel gemaak kompleet met kerse, servette en ’n banier met “Happy birthday” daarop.

By die huis het die gesin ook gereeld saam om die swembad, braaiplek of pizza-oond gekuier. Op die agtergrond was altyd Afrikaanse musiek.

“Klipwerf; my pa was baie lief vir boeremusiek,” vertel Marzell. 

Klein Jax was altyd in die rondte. “Hy het deur die huis gehardloop en dan op die matte geski tot dit in ’n bondel tot stilstand kom. Hy het gedink dit is ’n skaatsplank. My ma het altyd gevra: ‘Jax, hoekom bondel jy die matte so op?’

” Noudat almal – haar alles – so plotseling uit haar lewe weggeruk is, worstel sy met moeilike dinge.

“’n Mens probeer om nie vrae te vra nie, maar hoekom my pa, hoekom my ma, en hoekom my suster? Hoekom almal van hulle?” Haar grootouers het ’n lang, vol lewe gehad en “dit bring ’n bietjie vertroosting”.

Maar die res . . . Dis byna asof sy hardop dink: “My ma en pa sou nooit sonder mekaar kon geleef het nie, so dalk verstaan ’n mens dat hulle al twee weg is. Chanté was baie siek, maar as dit net Chanté was, sou my ma-hulle dalk nooit weer dieselfde gewees het nie . . .

“Dan wonder ek hoekom net ek nie gevat is nie. Mense sê daar is ’n doel met my lewe, maar ek wonder net in dié stadium wat die doel hiervan kan wees.”

Twee van die drie insittendes in die ander voertuig is ook dood: Jan Bitterhout (86) en Ralph Roux (58). Die derde, Lionel Bitterhout (58), is ernstig beseer.

Ekstra bron: Netwerk24