Pieter Nortje (55) is aan die begin van April deur ’n leeuwyfie aan sy voorarm gebyt by die Tikwe River Lodge in Virginia, Vrystaat. 

Die leeuwyfie het Pieter aan die arm gegryp toe hy haar deur die heining by dié bekende vakansieplek gevryf het. 

“Die gids het gesê ons kan hulle maar vryf want hulle (die leeus) is mak. Almal het, maar die volgende oomblik toe gryp sy my,” sê Pieter aan Huisgenoot.

Pieter en sy vrou, Ilze, het hul 10de huweliksherdenking by die lodge gevier toe hy beseer is. 

Pieter se beserings na die voorval. Foto: Verskaf
Pieter se beserings na die voorval. Foto: Verskaf

Hy was agt dae lank in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein en sterk nou tuis aan. 

Pieter het ná die voorval in septiese skok gegaan en het by die dood omgedraai. 

“Ek het meer as 60 steke gekry, maar die wond is besig om goed te genees en ek kan my vingers beweeg,” sê hy. Pieter, wat in kwaliteitkontrole in die vervoerbedryf werk, gaan oor twee weke terug werk toe. 

“Ek is nog op siekverlof, maar sien uit om terug te gaan. Dis ’n fisiese werk, maar ek glo as ek dit stadig vat, sal ek volkome genees.” 

Pieter was vir agt dae in die Pelanomi Akademiese
Pieter was vir agt dae in die Pelanomi Akademiese hospitaal in Bloemfontein, maar sterk nou tuis aan. Foto: Verskaf

Pieter sê hy sukkel nog om sy vingers heeltemal reguit te maak, en hy het nie baie krag in die beseerde arm nie. 

Oor of hy die lodge blameer sê Pieter dit kon met enigiemand gebeur het en dit is nie hulle skuld nie. 

“Ek dink die wyfie wou speel en toe gryp sy 'n bietjie te hard en byt te diep. Dit kon baie erger gewees het as sy regtig wou byt,” sê hy. 

Hy sê Tikwe River Lodge het vir hom en Ilze ’n naweek se verblyf beloof. 

“Die lodge het gereeld by ons gehoor hoe dit gaan, en dis al wat ek verwag het. Ek is heel tevrede met hulle optrede,” sê hy. 

Pieter se arm herstel tans goed. Foto: Verskaf
Pieter se arm herstel tans goed. Foto: Verskaf

Ilze sê sy is dankbaar haar man is op die herstelpad. 

“Dit was vir ons baie traumaties en ons het verlede week ’n berader gaan sien. Pieter het homself baie blameer, maar die toergids het gesê die leeus is met die hand grootgemaak, en ons het hom vertrou. Ek is self baie getraumatiseerd en wil nie weer naby so ’n kamp kom nie,” sê sy. 

Ilze sê hulle het gesukkel om al die negatiewe kommentaar ná die voorval te verwerk.

“Mense sou sommer sê hy is ’n idioot of dat hy dronk moes wees. Dit was geensins die geval nie. Ons het die kenner – die toergids – vertrou.” 

Pieter en Ilze op 'n wildrit net voor hulle by die leeukamp gestop het. Foto: Verskaf
Pieter en Ilze op 'n wildrit net voor hulle by die leeukamp gestop het. Foto: Verskaf

Sy sê hoewel dit emosioneel sleg met Pieter gegaan het, gaan dit nou baie beter.

“Ons kon nooit ons huweliksherdenking behoorlik vier nie, maar hy is darem oukei,” sê sy. 

Tikwe River Lodge het op navraag gesê hulle gaan geen verdere kommentaar lewer nie.