Natasha Mans (41) saam met haar vriend, Dennis Cas
Natasha Mans (41) saam met haar vriend, Dennis Casten (48). Foto: Facebook

Die ondersoek na die tergende moordsaak van Natasha Mans van Bloemfontein is nou op ’n mespunt.

Ao. Lynda Steyn, ’n Vrystaatse woordvoerder van die Valke, het Donderdag aan Huisgenoot bevestig die ondersoek is ná meer as twee jaar voltooi.

“Die dossier gaan vroeg volgende week na die nasionale vervolgingsgesag toe. Ons sal dan wag om te hoor of ons genoeg bewyse het om te arresteer.”

Die vermoorde Natasha Mans saam met haar vriend, D
Die vermoorde Natasha Mans saam met haar vriend, Dennis Casten, wat haar as vermis aangemeld het en op wie se erf haar lyk gekry is. Foto: Facebook

Natasha (41) se saak het in Junie 2018 opslae gemaak toe sy aanvanklik spoorloos verdwyn het en haar lyk twee weke later, ná intense ondersoekwerk en soektogte, raaiselagtig aangetref is op die erf waar sy gewoon het.

Petro Jonker, ’n vriendin van Natasha, was verbaas toe Huisgenoot haar bel, veral omdat dit wou lyk asof die saak die afgelope twee jaar byna doodgeloop het.

“Jissie, maar dis vir my verskriklik hoe lank dit gevat het! Daar was so baie dae wat ’n ou gewonder het wat gaan aan, maar dit is ook goeie nuus. Ons bly glo dat die persoon of persone wat aandadig was om Natasha so seer te maak, eindelik gaan boet.”

Huisgenoot het ná Natasha se verdwyning berig die sakeman en ontwikkelaar Dennis Casten (50), Natasha se vriend, het haar op 31 Mei 2018 aan die polisie as vermis aangemeld. Hulle het saam op sy hoewe in Castenlaan in Groenvlei, Bloemfontein, gewoon.

Natasha Mans.
Natasha Mans.

Dennis het aangevoer sy het met haar dogter se as en ’n vuurwapen “weggeraak”.

Natasha se dogter, Noeline Koekemoer (15), is drie jaar tevore wreed op ’n hoewe, nie baie ver van waar Natasha verdwyn het nie, ook vermoor.

Noeline Koekemoer. Foto: Facebook
Noeline Koekemoer. Foto: Facebook

Toe Natasha se yskoue lyk op 13 Junie in Casten se erf met ’n skietwond in haar bors aangetref is, was dit vir haar geliefdes ’n dubbele slag. Eers Noeline, toe haar ma . . .

Polsiebeamptes en die staatslykswa staan op die to
Polisiebeamptes en die staatslykswa staan op die toneel op Groenvlei, buite Bloemfontein, waar Natasha Mans se lyk in Junie aangetref is. Foto: André Damons

Maar al het dit aanvanklik voorgekom asof sy haar eie lewe geneem het omdat sy steeds oor haar dogter se dood treur, het forensiese getuienis die teendeel bewys.

Polisiebeamptes soek met die hulp van ’n polisiehond in die Groenvlei-omgewing.
Polisiebeamptes soek met die hulp van ’n polisiehond in die Groenvlei-omgewing na Natasha Mans kort nadat sy as vermis aangemeld is. Foto: Mlungisi Louw

Dit het geblyk Natasha is geskiet, haar lyk is moontlik in ’n vrieskas bewaar en toe op die toneel met die vuurwapen langs haar geplaas. Dit het gewys sy het ook talle kneusmerke opgedoen.

Die staatslykwa verlaat Dennis Casten se erf in Groenvlei, buite Bloemfontein.
Die staatslykwa verlaat Dennis Casten se erf in Groenvlei, buite Bloemfontein, met die oorskot van sy vriendin, Natasha Mans. Foto: André Damons

Petro was een van die mense wat daardie tyd gesê het Natasha sou nooit haar eie lewe neem nie en sy het haar dogter se dood verwerk.

“Die afgelope twee jaar was nie maklik nie. Wanneer dit weer tyd is vir Natasha se verjaardag, of weer nader aan die tyd wat sy dood is, dink ’n mens aan haar en ook weer aan Noeline. Dan wonder ’n mens net weer: Wat de duiwel gaan aan?”

Petro vertel sy kry Natasha se twee oorlewende seuns jammer. Haar jongste is nog op laerskool.

“Ek dink aan daai klein ou seuntjie en ek hoop ook hy kan afsluiting kry.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe