Natasha (41) se lyk is op 13 Junie op die erf gevind waar sy saam met haar kêrel, Dennis Casten (48), in Groenvlei, gewoon het.

Casten het glo toevallig op haar lyk afgekom, twee weke nadat hy beweer het sy het met haar vermoorde dogter, Noeline Koekmoer (15), se as en sy .357-rewolwer “weggeraak”.

Intussen het ’n bron ná aan die ondersoek aan Huisgenoot gesê die rewolwer wat by Natasha se lyk gekry is, is nie die vuurwapen waarmee sy in die bors geskiet is nie.

Noeline se as is ook in die huis gekry.

Die feit dat Natasha se lyk baie koud was en nog glad nie ontbind het nie, het die ondersoek na haar dood na ’n moordondersoek laat verander. 

Noeline se oorskot is op 7 April 2016 in die naburige Bainsvlei gevind nadat sy verkrag en vermoor is. Haar moordenaar, Moses Maoka (toe 36), wat op ’n kol op die perseel as tuinier gewerk het, is later skuldig bevind en twee keer lewenslange tronkstraf opgelê.

Kol. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder, kon Vrydag steeds geen feite bekendmaak of aandui hoe naby die polisie aan ’n deurbraak is nie. Sy kon darem bevestig niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Huisgenoot het by ’n familievriendin verneem dat Casten intussen toegelaat is om na die huis terug te keer. Maar sy minderjarige familielid wat op dieselfde erf woon, mag nie.  

Die bron, wat naamloos wil bly, sê Natasha is, nes haar dogter destyds, Donderdag veras. Op 23 Junie het vriende en naasbestaandes tydens ’n roudiens van Natasha afskeid geneem. 

“Dennis en sy broer en dié se vrou was ook daar,” vertel sy. Sy vertel Casten was “gebroke”.

Natasha se begrafnisbrief is tydens 'n gedenkdiens uitgedeel. Foto: Jana van der Merwe.

“Ek wens net ek het geweet wat in sy kop aangaan. Hy het nie ná die diens met mense gesels nie. Ek het hom nie eens ná die diens die kerk sien verlaat nie. In die kerk het hy net heeltyd na haar foto gestaar wat in die kerk vertoon is. Ek kon sien hy was regtig baie hartseer.”

Intussen word bewerings gemaak dat die polisie hul ondersoek op ’n minderjarige familielid van Casten toespits.

Probleemkind

Kennisse vertel Natasha het nie goed met die meisie oor die weg gekom nie. Haar kêrel is glo ook ’n baie ongure karakter.

Huisgenoot het vertroulik verneem sy is al jare lank ’n probleemkind. Rapport het vroeër berig die polisie het beslag gelê op die meisie se foon.

Mbambo het voorts aan Huisgenoot gesê die ondersoek duur voort, maar kon langer as twee weke nadat die lykskouing gedoen is, steeds nie sê wat daarin bevind is nie. Die polisie kon tot op hede geen kommentaar lewer nie oor die bewerings dat Natasha glo oor die kop geslaan en in ’n vrieskas weggesteek is, en moontlik die skietwond ná haar dood opgedoen het.

Mbambo skryf die gesloer om die inhoud of feite hiervan bekend te maak daaraan toe dat die patoloog “verdere toetse” gedoen het en dit na ’n laboratorium gestuur is. Die uitslae is nog nie terug ontvang nie.