Nathaniël Julies. Foto: Facebook

Dit is ’n tydlose toneeltjie hier by die blou huisie in Eldorado Park, suid van Soweto.

In die stowwerige voortuin lag en speel ’n groepie kinders, en onder ’n lendelam bakkie dut ’n hond onverstoord deur al die vrolikheid.

Sodra jy egter die leefvertrek binnegaan besef jy die vrolikheid buite is in skrille kontras met die hartseer wat die tweeslaapkamerhuis vul.

Hy het soos ’n blom die lekkerste fragrance afgegee. Jy was altyd van sy teenwoordigheid bewus.

Want ’n kind is te gou uit die hart van die familie geruk.

Die seuntjie in die groot portret teen die afgedopte muur hou jou vas met sy oë, sy mond oop asof hy geluidloos skreeu.

Teen ’n ander muur hang ’n portret van ’n leeu met ’n kruis en die wekroep “Justice for Nathaniel.”

Op die rusbank kyk Bridget Harris vir ’n lang oomblik swygend na die foto van haar seun, Nathaniel Julies, terwyl ’n traan oor haar wang rol.

“Nathaniel was soos ’n blom gewees,” sê sy dan.

“Hy het soos ’n blom die lekkerste fragrance afgegee. Jy was altyd van sy teenwoordigheid bewus.” 

Haar seun het Downsindroom gehad, maar vir haar was hy perfek.

Toe, skaars nege maande gelede, sterf Nathaniel (16) na bewering aan die hand van polisielede. En van die eerste stap op die lang pad na afsluiting – geregtigheid vir haar kind – is daar nog g’n sprake nie. 

Bridget vee die traan weg.

Ek sien hom nog hier op die bank sit en sy biscuits eet of ek sien hom hier, net hier voor ons dans. Hoe kan enigeen so ’n hulpelose en lieflike kind se lewe neem?

“Toe Downsindroom by hom gediagnoseer is, was ek maar 24 jaar oud. Ek het nie geweet wat dit is of hoe om na so ’n kind om te sien nie, maar ek het dit so aanvaar.

“Die Here gee vir jou ’n kruis om te dra, en ek het daardie kruis aanvaar. Ek was net opgewonde om weer ’n ma te wees. Nou is daar een minder kind in my huis en ek verlang elke dag na hom.” 

Sy praat oor haar kind asof hy enige oomblik by die voordeur sal instap.

“Nathaniel ís ’n lieflike kind. Niemand het ooit iets leliks oor hom te sê gehad nie. Almal in die gemeenskap was lief vir hom.

“Ek kan nog steeds nie glo hy is weg nie. Ek sien hom nog hier op die bank sit en sy biscuits eet of ek sien hom hier, net hier voor ons dans. Hoe kan enigeen so ’n hulpelose en lieflike kind se lewe neem?” 

Bridget sit agteroor en die trane begin weer loop terwyl sy oor Nathaniel se dood praat.

“Dit was so onnodig gewees. Hy het niemand haat aangedoen nie.” 

Bridget Harris se seun Nathaniel Julies is na bewe
Bridget Harris se seun Nathaniel Julies is na bewering deur die polisie doodgeskiet. Foto: Lubabalo Lesolle

Op die aand van 26 Augustus 2020 het sy soos altyd vir haar kroos van agt aandete gemaak.

“Nathaniel het besluit om in die kamer te gaan eet. Hy doen dit so nou en dan.

“Nadat ons geëet het, het ons almal hier in die voorkamer kom sit. Ons het musiek aangesit en die kinders het begin dans. Ek het opgelet Nathaniel is nie by nie, en my oudste sê toe vir my hy is hier langsaan na die winkel toe om biscuits en chips te koop.” 

Maar Bridget het onrustig geraak.

“Ek het begin worry oor Nathaniel. Ek het vir my oudste gesê sy moet net gaan seker maak hy is nog by die winkel. Sy het gaan kyk en vir my gesê hy is nog daar . . . Next moment hoor ons net hierdie slag wat soos ’n bom klink. Ons ore het ge-zing.” 

Nathaniel is voor hierdie vragmotor doodgeskiet to
Nathaniel is voor hierdie vragmotor doodgeskiet toe hy gou winkel toe is. Foto: Lubabalo Lesolle

Bridget is na buite, waar ’n buurman vertel het haar kind is geskiet, en dat die polisie met hom daar weg is.

“Ek was histeries gewees. Ek het probeer uitvind of iemand weet waarheen hulle my kind gevat het, maar niemand het geweet nie.” 

Bridget en haar man, Clint Smith, is na die polisiestasie toe om antwoorde te probeer kry. 

“Ons kon agterkom die polisie daar weet iets, maar hulle was huiwerig om te sê. Ons het ’n saak van poging tot moord oopgemaak, maar steeds nie geweet waar ons kind was nie tot een vir ons gesê het ons moet Baragwanath-hospitaal toe gaan.

“Die hele pad daarnatoe het ek net heeltyd vir die Here gevra: ‘Ag, asseblief tog. Laat my kind net oukei wees.’” 

Daar aangekom het die hospitaalpersoneel aan hulle bevestig dat ’n 16-jarige seun wat geskiet is kort tevore aangekom het. 

“Die dokter het my eenkant toe gevat en vir my gesê hy was reeds dood toe hy by die hospitaal aangekom het. Ek wou dit nie glo nie. Dit kon nie my kind wees nie. Ek het gegil en gehuil en hulle het my probeer kalmeer.“

ns almal het hier gesit en gehuil. Daar was skielik net iets missing in die huis. En dit is wat daardie aand gebeur het.

Hulle het vir ons sy lyk gaan wys om hom uit te ken . . . Ek onthou net die bloed om sy neus en om sy mond. Ek is toe weer daar uit en het net aanhou gil ‘dit is nie my kind nie, dit is nie my kind nie’,” vertel Bridget.

Maar dit was.

“Hulle het my kind soos ’n nikswerd by die hospitaal afgelaai.” 

Nathaniel is na bewering deur die polisie doodgesk
Nathaniel is na bewering deur die polisie doodgeskiet. Foto: Sharon Seretlo

Hulle is verpletterd terug huis toe en moes die nuus aan hulle ander sewe kinders oordra.

“Ons almal het hier gesit en gehuil. Daar was skielik net iets missing in die huis. En dit is wat daardie aand gebeur het.”

Maar waarom die drie polisielede wat tans vir sy dood teregstaan besluit het om haar kind te skiet, dit weet sy nog nie. 

Sers. Simon (Scorpion) Ndyalvane en konst. Caylene Whiteboy word van moord, die onwettige besit van ammunisie, regsverydeling en die afvuur van ’n vuurwapen in die openbaar aangekla. Hulle is in aanhouding.

Twee van die beskuldigdes in die hof. Hulle versky
Twee van die beskuldigdes in die hof. Hulle verskyn weer op 28 Mei. Foto: News24

Speursers. Foster Netshiongolo word aangekla van regsverydeling, die onwettige besit van ammunisie, en dat hy ’n begunstiger van die skietdood was. Hy is op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Bridget vertel daar is kort ná die noodlottige voorval aan haar gesê haar kind het in die kruisvuur van ’n bendegeveg beland. Maar die staat voer aan die noodlottige skoot het uit Caylene Whiteboy se wapen gekom.

Die drie se amptelike verweer is nog nie aangehoor nie, en vir Bridget is daar dus nog geen antwoorde nie.

“Hoekom moes dit met my kind gebeur het? Hy het niemand skade gemaak nie.” 

Sedert haar kind se dood was Bridget nog met elke hofverskyning van die drie beskuldigdes daar in die hof. Om haar kind se beweerde moordenaars in die oë te kyk, en om self te sien dat geregtigheid seëvier.

Kort voor ons druktyd is die saak in die hooggeregshof in Johannesburg weer uitgestel vir verdere ondersoek deur die polisie. Hulle sal vermoedelik op 28 Mei weer verskyn, berig Netwerk24

Nathaniel se geliefdes is radeloos omdat die saak so sloer.

“Ek wil net sien dat my kind se moordenaars boet vir wat hulle gedoen het. Daar moet justice wees,” herhaal Bridget. 

Ná Nathaniel se dood was daar protesoptogte in Eldorado Park, en het hy vir die gemeenskap ’n simbool van hul stryd teen onregmatige polisie optrede geword.

Dit is iets waarin Bridget troos vind. 

Sy dood het tot verskeie optogte vir geregtigheid
Sy dood het tot verskeie optogte vir geregtigheid in Eldorado Park gelei. Foto: OJ Koloti

“Ek het nooit gedink my kind se dood sou ’n gemeenskap so laat saam staan nie. Hy hét ’n simbool van police injustice geword. Hy het niemand niks gemaak nie. Hy het ’n pakkie biscuits en ’n pakkie crisps by hom gehad toe hulle hom soos ’n hond geskiet het,” vertel sy. 

“Skielik was my yard vol mense gewees. Minister Bheki Cele kom sien jou. Daar is orals net kameras en die televisie was hier. Nooit het ek gedink my kind sal so groot impak op mense se lewens hê nie.” 

Niks sal ooit die seer of die hartseer kan wegvat nie. Ek was baie lief vir daai kind, maar ek soek justice vir Nathaniel.

En wat mis sy die meeste van haar kind? 

“Sy smile,” antwoord sy, en weer loop ’n traan ’n spoor oor haar wang.

“Hy was baie lief vir die Here gewees. Hy was ’n liewe, liewe kind gewees wat altyd gelag het. 

“Hy was baie lief vir dans gewees. Al kon hy nie baie praat nie, het hy gelewe vir musiek en vir dans. R&B en Gospel was sy gunsteling.” 

Sy sit en staar na die leefvertrek asof sy haar Nathaniel weer vir oulaas hier voor haar sien dans. 

“Niks sal ooit die seer of die hartseer kan wegvat nie. Ek was baie lief vir daai kind, maar ek soek justice vir Nathaniel.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe