Daarom is dit soms belangrik dat jy vir albei moet behandel word, is die boodskap hier tydens Nasionale Diabetesmaand.

“Depressie is algemeen by pasiënte met diabetes, veral diabetes wat swak bestuur word,” sê dr. Bavi Vythilingum, ’n psigiater by die Akeso-kliniek in Kenilworth, Kaapstad.

Daarbenewens is angssteurings ook algemeen, insluitend panieksteuring en posttraumatiese stressteuring (PTSD), wat soms verband hou met die spanning oor mediese komplikasies, veral by kinders met diabetes. Angssimptome kan oorvleuel met die simptome van hipoglukemie (lae bloedsuiker).

“Jonger pasiënte met diabetes, veral dié met tipe 1-diabetes (die liggaam vervaardig nie insulien nie en dit veroorsaak hoë bloedsuiker), het ook ’n risiko om gedrag, depressie en eetsteurings te ontwikkel.

"Adolessensie is ’n tyd van rebelleer en die perke toets. Baie adolessente met diabetes druk dit uit deur nie te voldoen aan die dokter se voorskrifte nie. Dit is belangrik om hiervan bewus te wees sodat dit opgespoor, verstaan en bestuur kan word,” voeg sy by.

In ’n artikel getiteld Diabetes en Depressie: ’n Verwoestende duo, wys die skrywer Zane Wilson, stigter van die Suid-Afrikaanse Angs-e-depressiegroep (Sadag) daarop dat die meeste mense met diabetes nie depressie het nie.

Studies toon egter dat mense met diabetes ’n groter risiko het om depressie te kry as mense sonder diabetes. “Depressie word nie algemeen as 'n komplikasie van diabetes beskou nie.”

Psigiatriese steurings beïnvloed onvermydelik diabetiese individue se lewe op verskillende vlakke.

Volgens die Indian Journal of Endocrinology and Metabolism word mediese voorvalle by pasiënte met diabetes geassosieer met verswakte lewenskwaliteit, verhoogde koste van sorg, swak behandelingsnakoming, swak beheer van suikervlakke, meer besoeke aan die noodgevalle-eenheid, word meer opgeneem in die hospitaal en ’n hoër afwesigheidsyfer by die werk.

Geliefdes van mense wat lewe met diabetes, moet let op die simptome soos onttrekking, woede en irritasie, veral rondom behandeling, buierigheid en die staak of weiering van behandeling of opvolging, sê Bavi.

In die kake van depressie versuim so iemand ook om die voorgestelde dieet te volg. Ondersteuning sonder oordeel is nodig. En ook aanmoediging om ’n kundige te spreek.

"Enige eetsteuring het ’n invloed op diabetiese beheer," beklemtoon sy.

Vraat-etery (“binge”)-eesteurings kan lei tot ’n hoë liggaamsmassa-indeks, wat ’n verdere risiko vir diabetes is.

“Dis noodsaaklik om te fokus op eet-, bloedsuiker- en simptoombeheer, want dit verhoog die risiko van eetsteurings sowel as angssteurings by mense met diabetes,” voeg sy by.

"En dit is belangrik dat die geestesteurings by pasiënte met diabetes ook behandel word,” vertel Bavi.

Moenie moed opgee nie. “Soms kan diabete beskou word as swak, onbevoeg, ongesond en so meer. Dit is deel van die stigma van die siekte.

"Hulle word gereeld geoordeel op wat hulle eet en wat hulle weeg en word verkwalik vir hul siekte. Daar is die wanopvatting dat hulle nie dieet of oefening gehad het nie; dus is dit hul skuld dat hulle diabetes het," sê sy.

Dit kan depressie en die ander psigiatriese siektes vererger; daarom is dit so belangrik om hulle sonder oordeel te ondersteun.

Sielkundige terapie is ook die sleutel. Dit help om by te dra tot 'n gesonde verstand en positiewe uitkyk.

Kry ondersteuning by Diabetes Support South Africa diabetessa.org.za.

Bronne: sadag.org, ncbi.nlm.nih.gov, Goebel-Fabbri AE. Eating disorders. In: Peters A, Laffel L, eds. Type 1 Diabetes Sourcebook. 2013:180-186