Nicky en Tina Serfontein, voor sy onlangse gesondh
Nicky en Tina Serfontein, voor sy onlangse gesondheidsterugslag. Foto: Verskaf

Tina Serfontein sal daardie Sondagoggend nooit vergeet nie. Dis nou al ’n paar weke sedert 20 Junie, maar Tina ys steeds as sy dink aan wat kon gebeur het.

Tina, ’n digitale bemarkingsbestuurder van Kaapstad, het die oggend ’n bietjie laat gelê. Toe sy wakker word, het sy besef die steeds slapende Nicky het nie soos gewoonlik vir haar tee in die bed gebring nie. Sy het aangeneem hy is seker maar moeg, deurdat hy ses dae per week by sy swemskool bedrywig is. Hy het juis kort tevore vir haar gesê hulle het ’n vakansie nodig, dit voel asof sy lyf ietwat “oppak”.

Sy het toe maar self opgestaan om vir hulle iets te drinke te maak, vertel Tina aan Huisgenoot. Maar toe sy weer by hom kom, “kon ek hom nie behoorlik wakker kry nie. Hy kon nie sy oë lekker oopkry nie en kon nie ’n reguit woord uitkry nie.

“Toe ek my pa in Swaziland bel, sê hy: ‘Jy moet hom nou dadelik dokter toe vat.' Met die bure se hulp het ek hom in die kar gesit . . .”

Sy is eers na ’n mediese sentrum in Parklands, waar sy ná ’n aanvanklike ondersoek gesê is haar man moet na die ongevalle van ’n privaat hospitaal in Bloubergstrand gehaas word.

“Ons het hom net ná tien die oggend daar ingekry.” Maar met die derde covid-golf nog in volle swang, “mag ek glad nie saam ingegaan het nie. Ek het basies van die oggend tot vieruur die middag op die sypaadjie gesit en wag om net te hoor wat skort met my man. Dit was baie traumaties.

Foto: Verskaf
Nicky was voorheen 'n baie fikse buitelugmens. Foto: Verskaf

“Eindelik het ’n dokter my kom sê hulle het ’n lumbale punksie gedoen, maar was nog nie seker wat’s fout nie, verdere toetse was nodig . . .” Die dokter het haar toe gevra om liewer eers huis toe te gaan.

Ná nog verskeie toetse, insluitend CT- en MRI-skanderings, moes Tina hoor haar man het ’n seldsame vorm van meningitis opgedoen. ’n Neuroloog wat na hom help omsien het, het haar ’n basiese verduideliking van sy toestand gegee: “. . . dat ’n mens partykeer ’n kiem kan kry wat na jou longe of ’n ander deel van liggaam toe gaan . . . jy is veral vatbaar as jou gestel swak is, en Nicky was juis in daardie stadium oormoeg. En in ’n geval soos syne is dit asof die vlies om jou brein amper iets soos ’n krakie in kry en die kiem dan daardeur gaan. 

“In die waakeenheid moes hy op ’n ventilator en vir vier dae in ’n geïnduseerde koma geplaas word. Hy het nierversaking gehad . . . hy moes baie sterk medikasie vir die meningitis ontvang en sy niere kon dit nie meer hanteer nie.” Die koma-stap is geneem omdat hy in groot pyn was en sy liggaamsfunksies onder geweldige druk verkeer het. 

Toe sy mediese span alles gedoen het wat hulle kon en haar man se lewe steeds aan ’n draadjie hang, het sy neuroloog deur ’n forum vir kundiges in sy veld met ’n professor by die Universiteit van Kaapstad kontak gemaak. “Dié het goeie raad gebied en ’n verandering in van Nicky se medikasie voorgestel.” En daarvandaan het haar man stadigaan begin verbeter.

Vandag is hulle oneindig dankbaar hieroor en jeens al die betrokkenes wie se toewyding hom help red het, benadruk Tina.

“Hy was altesaam 19 dae in die waakeenheid en nog ’n paar dae in ’n saal, waarna hy begin aandring het daarop om huis toe te kom na my toe. Hy het neerslagtig begin raak daar en ons voel die dokters het hom ’n guns gedoen deur hom ’n bietjie vroeër te ontslaan as wat hulle wou.

Foto: Verskaf
Nicky wys vanuit sy hospitaalbed hy is vol moed. Foto: Verskaf

“En waar ons eers baie bekommerd was dat hy moontlik breinskade opgedoen en die gebruik van sy arms of bene kon verloor, het dit later geblyk hy het geen sulke skade nie . . . waaroor ons ongelooflik dankbaar is.”

Haar man maak goeie vordering tuis, maar ’n lang pad van herstel – onder meer fisio- en arbeidsterapie – lê nog voor voordat hy weer op dreef sal wees by sy swemskool en die fikse en gesonde Nicky van ouds sal wees.

Daarby sit hulle met die stres van groot skandering- en ander rekenings wat nie deur hul hospitaalplan gedek word nie. Daarom waardeer hulle dan ook die “liefde en omgee” van verskeie mense ongelooflik baie, beklemtoon Tina. Mense het crowd-funding-inisiatiewe insluitend ’n back-a-buddy-blad vir Nicky begin. 'n Familielid in Namibië het byvoorbeeld deur te hardloop vir hom ’n insameling gehou, ’n Suid-Afrikaanse vriend het ook so gehelp deur “oor die 60 km vir hom te gaan roei” en ’n “Run for Nicky” is ook in Durbanville vir hom beplan, sê sy.

“Ons is nie te diep in die dertig nie, leef gesond en my man is een van die fiksste mense wat ek ken. Hierdie was dus vir ons ’n groot wekroep, dat almal die een of ander tyd vulnerable kan wees, dat niemand invincible is nie . . .”

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Maar sy is ook vol vertroue haar Nicky se baie “positiewe gesindheid en lewensuitkyk sal hom gouer gesond help word”.

So ook hul geloof. “Dis wat ons tot hier gedra het.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.