Hy het al begin glo hy is die één pot vir wie daar g’n deksel is nie. Hy is immers al diep in sy 40’s. Boonop is hy met die seldsame Hallermann Streiff-sindroom gebore wat hom gelaat het met beperkte liggaamsgroei en geen hare nie.

Min is oor dié siekte bekend, maar vandag maak niks daarvan vir die 49-jarige Jaco Vermeulen van Pretoria saak nie.

Sy hunkering is iets van die verlede. Want hier staan hy nou, uitgevat in ’n deftige blou pak, by die opelugkapel van die Bamboo-geleentheidsvenue in die ooste van Pretoria. En ja, hy wag dat sy bruid haar verskyning maak . . .

Dis net ná vieruur die middag toe Christiaan Ackermann, Jaco se neef en ’n predikant by die NG kerk Silvertonkruin, die sowat 40 gaste vra om op te staan. Hulle draai hul nek om te sien hoe Michélle Smit (33) van agter ’n bamboesheining in die tuin te voorskyn kom.

Ds. Chris­tiaan Ackermann, Jaco en sy strooijonker, André Vermeulen, wag vir die bruid. Foto: Lubabalo Lesolle

Michélle, ’n gehoorgestremde met net 30% gehoor, lyk stralend gelukkig in ’n wit satynrok, afgerond met borduursel. Haar pa, Hennie Smit, is aan haar sy.

Die vyfjarige Regardt van Wezel, Jaco se kleinnefie, loop ewe kordaat voor met ’n bord om sy nek wat waarsku: “Jaco, hol, hier kom Michélle.” Die gaste lag vir dié spitsvondigheid terwyl die bruid en bruidegom by mekaar inhaak.

Die twee lyk effens senuagtig, maar Christiaan stel hulle dadelik op hul gemak. Ontspan net en geniet elke oomblik, raai hy hulle aan.
Vandag kry die regte pot immers die regte deksel.

Jaco en Michélle ken mekaar eintlik al sedert sy ’n dogtertjie van vyf jaar oud en hy ’n tiener was. Haar pa en Jaco se oom Seef Breytenbach is jare lange huisvriende. Die twee gesinne van Pretoria het onder meer dikwels saam kampeer.

Jaco en Seef is nie net familie nie, maar ook beste maats en Jaco het dikwels saam met Seef se gesin en die Smits kampeer.

Jaco en Michélle moes wag tot 2016 dat die liefde begin blom – hoeka ook tydens ’n kampeeruitstappie soos dié van hul jeug. Dié keer het Kupido oplaas ook sy tentpenne ingeslaan daar by die ongerepte Kosibaai aan die noordkus van KwaZulu-Natal.

Ná hul verlowing het Jaco aan Huisgenoot vertel: “Sy is my alles; sy is die rede hoekom ek soggens wakker word” (Liefde wat g’n perke ken, 12 April).

Michélle het toe gesê “sy liefdevolheid is vir my spesiaal”.

Ds. Christiaan bou vandag sy boodskap aan die bruidspaar op die lang reis wat hulle moes aflê voor hul harte mekaar gevind het. Hy lees uit die bekende Psalm 23 en vertel dat die huwelik soos ’n reis is.

“Een van die belangrikste dinge om in te pak wanneer jy op reis gaan, is natuurlik jou GPS,” sê hy.

“Maar in ons persoonlike reise is die Here ons GPS wat weet waar die gevare is en ons op die regte pad hou.”

Hy verduidelik die regte pad kan soms ook ’n grondpad wees, “maar daar is darem ook mooi grondpaaie”.

Michélle se broer, Nico Smit, bring die ringe na vore en almal luister stil na ’n opname van Die Onse Vader.

Gaste spring om die ruiker te vang. Foto: Lubabalo Lesolle

Nadat Christiaan die twee pasgetroudes as mnr. en mev. Vermeulen voorgestel het, klap almal hande. Die register word geteken, waarna roosblare oor hulle gestrooi word terwyl hulle deur die gaste op die grasperk stap. Michélle glimlag van oor tot oor en Jaco vee die roosblare weg wat agter sy bril beland het.

Hy straal behoorlik toe hy sy geliefde lei na die plek waar die amptelike foto’s geneem word.

“Kom, my liefie,” koer hy. En dan: “Pasop, jou rok!”

“Dis reg so, my engel,” antwoord sy terwyl haar arm oor sy rug vryf.

Michélle vertel toe sy vroeër vanmiddag in die paadjie afstap en Jaco sien, het sy “net weer geweet” hy is haar droomman.

En vandag is haar droomdag, iets waarna sy jare lank uitgesien het, maar ook in ’n stadium gedink het haar nie beskore is nie, erken sy.
Die twee kan nie ophou lag terwyl die kamera kliek-kliek nie.

“Agge nee, man, nou kry jy my bakoor in,” kla Jaco toe hy gevra word om sy kop skuins te draai. Intussen peusel die gaste aan verskillende soorte kase, soutkoekies en vrugte.

Toe Jaco en Michélle later die onthaalsaal binnestap, trek die gaste weg met die seënliedjie Lank Sal Hul Lewe, waarna Anton Goosen se treffer Pasgetroud oor die luidsprekers weerklink.

Elke tafel is met ’n wit tafeldoek en silwerkleurige loper gedek en met ’n ruiker van veldblomme en pienk rose versier. ’n Kers voltooi die prentjie. Die servette is gevou in die vorm van die bokant van ’n manshemp, kompleet met kraag, boordjie en ’n blou strikdassie.

Die kinders is met lekkergoedpakkies bederf. Foto: Lubabalo Lesolle

Aan die hooftafel sit Jaco se ma, Mienie, aan sy regterhand. Langs haar is ’n oop sitplek met ’n foto van Jaco se pa, Hentie, op die tafel. Hy is aan die begin van Augustus aan ’n aneurisme oorlede.

Jaco se susterskind Shaun van Wezel vertel hartroerend aan die gaste dat dit sy oupa se grootste wens was om Jaco getroud te sien. Dan raak sy stem weg en hy kyk anderpad. Jaco lig sy bril en vryf met sy hand oor sy oë. Michélle plaas haar arm vertroostend om sy skouer.

Agter die hooftafel hang ’n groot houtkruis met die woord “Liefde” tussen stringe flikkerende liggies.

Die troukoek is kleurryk versier. Foto: Lubabalo Lesolle

Nadat die toesprake en bedankings afgehandel is, trek die gaste hul koelbokse nader vir nog ’n koue enetjie of om die glase te vul met ’n hardehoutspesie. Vanaand word immers hard gekuier om Jaco en Michélle se lang reis na hul spesiale liefde te vier.

Die gaste lê weg aan ’n tradisionele boere-ete: skaap op die spit gebraai, hoenderporsies, aartappels, rys en ’n boontjiegereg. Vir die suikertande is daar malvapoeding, roomys en vrugteslaai.

Daarna word die dansbaan geopen – heel gepas op die maat van Dans, Riana Nel se trefferliedjie van 2011.


Die nuwe egpaar open die dansvloer. Foto: Lubabalo Lesolle

Die pasgetroudes gaan hul wittebrood in Kaapstad hou, verklap Jaco later toe hy met ’n drankie in die hand buite saam met die manne kuier. Daarna sal hulle hulself vestig op Olifantshoek in die Noord-Kaap, waar sy suster, Antoneth Momberg, ook woon.

Natuurlik sal hy voortgaan met sy werk om vir mense landwyd ou videokassette na DVD’s om te skakel, vertel hy.

Jaco spog hy het nog altyd geweet sy Michélle is mooi, maar het nooit kon droom dat sy nóg mooier kon lyk nie.

“Toe sy vanmiddag by die kapelletjie aangestap kom, toe weet ek sy is die mooiste iets wat ek al ooit gesien het,” sê hy.

Sy kort nog net vlerkies, voeg hy by.