Uit die sitkamervenster van haar karig gemeubileerde woonstel op Harrismith in die Oos-Vrystaat kan sy die gevangenis teen die berg sien.

“Snags wanneer die ligte aan is, kan ek presies sien waar hy is,” sê Cheinelle Nortjé (42) van haar vervreemde man, Nantes (47).

Maar terwyl Cheinelle, ’n ma van drie, met sekerheid weet haar eks word in die gevangenis aangehou, moet sy dagin, daguit worstel met die angswekkende vraag: Waar is haar seuntjie met wie hy einde verlede jaar verdwyn het?

“Al wat ek wil doen, is om hom in die selle te gryp en by hom te pleit: ‘Sê my net waar Liam is! Is hy veilig? Is hy gesond?’ ” sê-vra Cheinelle.

Liam is haar driejarige laatlam, ’n blondekoppie met groot ogies, wat sy ’n volle agt maande gelede laas in haar arms kon vashou voor sy pa spoorloos met hom verdwyn het. Die polisie het Nantes ’n maand gelede in ’n informele nedersetting in die nabygeleë Ladysmith in KwaZulu-Natal opgespoor, maar hy weier om ’n woord te rep oor waar Liam is.

Nantes is aanvanklik in die landdroshof op Harrismith van ontvoering aangekla, maar die klag is intussen na een van poging tot moord verander omdat Liam se welstand onbekend is.

“Ek wil net by hom weet: Leef Liam nog? Het hy kos in sy maag; het hy saans ’n kombers waaronder hy slaap? Dis al wat ek van hom soek,” sê Cheinelle, wat verlede jaar besluit het om ná ’n huwelik van 23 jaar van Nantes te skei.

Haar gesig bly strak; haar stem is byna emosieloos, want ná al die maande van onsekerheid en kommer het sy nie meer trane oor nie. “Dié storie dat Nantes daar is . . .” begin sy en beduie in die rigting van die gevangenis, “en dat ons nie eens weet waar Liam is en of hy nog leef nie . . .”

Skor vervat sy: “Dít is besig om my heeltemal te breek.”

Sy onthou die laaste keer dat sy Liam se stem gehoor het. Dit was die Maandagoggend in November verlede jaar toe Nantes veronderstel was om die seuntjie terug te bring nadat hy ’n week lank in sy pa se sorg op die buurdorp Kestell was.

‘Liam se derde verjaardag was die verskriklikste dag van my lewe’

Maar toe bel haar vervreemde man en sê sy sal Liam nooit weer sien nie. Op die agtergrond kon sy klein Liam hoor skree: “Stoppit, pappa!” Cheinelle het yskoud geword.

“Hy het gesê ek moet in my kamerasak kyk. Daar is ’n verrassing vir my.” Toe sy die kamerasak kort daarna by ’n vriend van Nantes kry, het Cheinelle ’n skokontdekking gemaak.

Daarin was ’n string van Liam se blonde hare, met ’n rekkie vasgemaak en die punte geskroei. “Ons het nooit die blonde stertjie agter in Liam se nek geknip nie,” verduidelik sy. “Ek dink Nantes het net altyd gedink dis oulik.”

By die afgesnyde string was ’n briefie met die woorde: “Sterkte met jou lewe sonder my en Liam.”

Eens op ’n tyd was sy en Nantes gelukkig. “Ek wás lief vir hom. Wanneer ek saans gaan slaap het en my man en al drie my kinders is veilig onder een dak – dís waarvoor ek geleef het,” vertel Cheinelle op hierdie snerpende winterdag in die yskoue woonstel waar sy en hul twee dogters van 18 en 15 jaar onlangs ingetrek het.

Dit het goed gegaan met hul huwelik toe hulle nog op Kokstad in KwaZulu-Natal gewoon het. “Hy het my oortuig om my werk te bedank om heeltyds na Liam om te sien,” vertel Cheinelle.

Liam was hul laatlammetjie. Foto: Verskaf.

“Hy het toe nog ’n goeie werk in die boubedryf gehad, maar op ’n dag het hy net van die site weggestap, en daar sit ons toe albei sonder werk.”

Die gesin het daarna na Harrismith verhuis omdat Nantes oorspronklik van dié omgewing kom en familie hier het. Liam was toe nege maande oud.

Cheinelle, wat nou as ’n assistent by ’n handelaar in nywerheidsonderdele werk, vertel sy het gou weer ’n werk gekry, maar sy beweer Nantes het geen poging aangewend om werk te soek nie. “Dan kom ek saans by die huis en hy het heeldag in sy onderbroek voor die rekenaar sit en speletjies speel,’’ vertel sy.

Die laaste strooi was met haar oudste se matriekafskeid. Al het hulle finansieel noustrop getrek, het sy met weldoeners se hulp alles gedoen om die dag vir hul dogter spesiaal te maak.

Maar Nantes wou glo nie eens van voor die rekenaar opstaan om saam vir foto’s te poseer nie. “Ek het besluit: ‘F*k hom nou,’ ” vertel Cheinelle.

Nantes kon dit nie aanvaar dat sy van hom wil skei nie. “Hy het gesmeek vir ’n tweede kans,” sê Cheinelle, maar sy het nie daarvoor kans gesien nie.

Nadat haar eks aan die begin van verlede November Kestell toe getrek het, het Liam meestal in die week by sy pa gaan bly. Naweke was hy by haar.

Cheinelle het steeds Nantes se wasgoed gewas en saam met hom koffie gedrink wanneer hy Liam op Harrismith kom haal het. “Selfs my prokureur het gesê hy het nog nooit ’n skeisaak gesien wat so goed verloop nie,” vertel sy van die stilte voor die storm losgebars het.

Cheinelle Nortjé, Liam se ma, sê al waarop sy wag, is die oproep dat Liam gekry en gesond is. Foto: Rowyn Lombard.

Sy onthou hoe Nantes een Vrydag by haar werk opgedaag het: netjies aangetrek, hare gekam. Hy het weer sy liefde aan haar verklaar. Hy wou finaal by haar weet of sy van hom gaan skei of nie.

“Ek het gesê ek kan nie nou vir hom ja of nee sê nie. Ons behandel mekaar met respek om die kinders se onthalwe en kyk wat die toekoms inhou.”

Toe Liam daarna weer die week by sy pa deurbring, het Nantes die Vrydag glo huilend gesmeek dat Liam nog daardie naweek by hom moet bly en saam met hom en sy broer gaan visvang.

“Toe raak my hart weer sag en ek sê dis reg, maar bring hom Maandag terug,” onthou Cheinelle hul gesprek op Vrydag 17 November. Maar dié Maandagoggend het sy die oproep gekry wat haar lewe op sy kop gekeer het.

“Nantes het my sleggesê,” beweer sy. “Hy het gesê hy weet ek het ’n verhouding met ’n ander man – wat ek nie gehad het nie.”

Cheinelle hou vol sy het Leon van Eck (28), aan wie sy in Julie verloof geraak het, eers later ontmoet.

Hy het ’n bestuurspos by ’n insleepdiens en woon saam met haar en haar dogters hier in die woonstel op die derde verdieping. “As dit nie vir Leon was nie, weet ek nie wat ek sou gedoen het nie. Ek het al baie vir hom gesê ek is lus om hier af te spring.”

Cheinelle het Liam amptelik op 3 Desember by die polisie as vermis aangemeld nadat dit by haar ingesink het haar eks was ernstig daaroor dat hy haar kind nie sal terugbring nie.

Maar Nantes en Liam was weg en kon nêrens opgespoor word nie. Die dae het weke geword en die weke maande. “Ek het Kersdag gedink Nantes sou minstens die kinders bel,” sê Cheinelle. Maar daar was niks.

Liam se derde verjaardag op 21 Maart beskryf sy as “die verskriklikste dag van my lewe”. Cheinelle vertel haar dogters verwerk die gebeure moeilik.

“My oudste vat dié ding verskriklik swaar. Sy is stil en teruggetrokke. Sy het gesê sy sal haar pa nie vergewe nie, maar sy is ’n Christen, so haar siel móét hom vergewe.”

Haar jongste dogter is net so kwaad vir haar pa. En toe kom die nuus: Die polisie het Nantes op 16 Julie in Ladysmith in ’n informele nedersetting in hegtenis geneem.

Hy het daar in ’n sinkhuis gebly en los werk gedoen. Sers. Mmako Mophiring, die plaaslike polisiewoordvoerder, bevestig Liam was nie by hom nie.

Cheinelle en Nantes was 23 jaar getroud en hy wou glo nie aanvaar dat sy van hom wil skei nie. Foto: Verskaf.

Een van die mense wat Nantes in Ladysmith ontmoet het, Mike Nieuwenhuis, het hom ná sy inhegtenisneming in die gevangenis besoek.

Aan Rapport het Mike vertel Nantes het met die besoek aan hom gesê hy het Liam gegee aan “mense wat nie self kinders kan kry nie”.

Liam se hare is moontlik intussen gekleur sodat hy nie herken word nie, sê Tania Opperman van South Africa Support Initiative, ’n organisasie wat daarin spesialiseer om vermiste mense op te spoor en Cheinelle bystaan.

Cheinelle vrees dat Nantes se aansoek om borgtog op 21 Augustus sal slaag. “Ek is bang hy sal reguit gaan na waar Liam is en homself én Liam iets aandoen, en dan sal ons nooit weet waar Liam is nie.”

Trane wel die eerste keer in haar oë op.

Tog bly sy aan die hoop vasklou dat sy weer haar laatlam sal kan vashou. “Al wat my nou aan die gang hou, is die gewag vir daardie oproep wat sê: ‘Ons het Liam gekry.’ ”

Lerato Ntho, Nantes se prokureur van Regshulp Suid-Afrika, het ontvangs van die bewerings teen Nantes erken, maar nie daarop gereageer nie.