Die buitewêreld ken haar as Zephany Nurse, die “gesteelde kind” wie se lewe op 17 in duie gestort het toe sy ontdek die vrou wat sy haar lewe lank as haar ma ken en liefhet, is nie haar biologiese ma nie en sy is as twee dae oue baba uit die hospitaal gesteel.

Te midde van dié emosionele warboel moes sy nuwe bande probeer smee met ’n ouerpaar wat al die jare oor haar gewonder en op ’n blye herontmoeting gehoop het, maar vir haar volslae vreemdelinge was.

Maar vandag, drie jaar later, is die “gesteelde kind’’ wie se verhaal so reg uit ’n rolprentdraaiboek internasionaal opslae gemaak het, self die ma van ’n 17 maande oue dogter en swanger met haar tweede kind.

Sy sê sy het ­geleer hoe kosbaar tyd is wanneer jy ’n ma word. Foto: Verskaf

Moederskap het haar drasties verander, sê Zephany aan Huisgenoot. “Dit is ’n heel nuwe ek. Ek moes in ’n kort tydjie vinnig grootword en besluite neem. Geen partytjies en pret meer soos tieners gewoonlik het nie.

Ek moes dit alles opsyskuif die dag toe ek my dogter gehad en besef het my ma sal nie meer daagliks by my wees nie.” Die ma van wie sy praat, is nie Celeste Nurse (nou 39) wat op 28 April 1997 die lewe aan haar geskenk het nie, maar Maria (54) wat 10 jaar tronkstraf uitdien nadat sy aan ontvoering skuldig bevind is.

Skuilname word vir haar en haar man, Johan (50), gebruik om Zephany se identiteit kragtens ’n hofbevel te beskerm. Sy gebruik steeds die naam wat haar grootmaakouers aan haar gegee het.

Vandat sy self ’n ma is, het sy nuwe insig gekry in die hartverskeurende situasie waarin die twee ma’s in haar lewe beland het, sê Zephany.

Sy het nou groter begrip vir wat Celeste deurgemaak het toe haar baba gesteel is, en vir Maria se pyn toe sy haar eie baba weens ’n miskraam verloor het. “Ek kan nie sê ek verstaan wat hulle deurgemaak het nie, maar dit het my laat wonder hoe ek sou reageer as iemand my baba gesteel het.

Sy en haar suster Cassidy lyk baie na mekaar, en dit het daartoe gelei dat haar identiteit bekend word. Foto: Verskaf

“Eerlikwaar, ek kan nie daarop antwoord nie, maar ek weet albei vroue het baie swaargekry.”

Sy woon steeds in die huis in ’n Kaapse voorstad saam met Johan, die pa wat haar grootgemaak het.

Zephany maak haar dogtertjie, Emma (ook ’n skuilnaam), self groot, maar sê die pa van die baba wat sy nou verwag, sal wel by sy lewe betrokke wees.

“Dit gaan goed met my swangerskap en ek het pas my derde trimester binnegegaan. Dit is ’n seun, en hy is baie aktief en welkom.”

Tussendeur haar werk by ’n Wes-Kaapse staatsdepartement skryf sy aan ’n boek oor haar lewe.

Zephany is as Morné (nou 41) en Celeste Nurse se eersteling in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad gebore, maar het twee dae later uit haar wiegie langs haar ma se bed verdwyn.

Zephany en haar broer Joshua. Foto: Verskaf

Sewentien jaar later het die Nurse-egpaar se naasoudste spruit, Cassidy (nou 17), toevallig in dieselfde hoërskool as Zephany beland. 

Hul skoolmaats kon nie ophou praat oor hoe baie hulle na mekaar trek nie. Cassidy het haar ouers hiervan vertel, en dit het daarop uitgeloop dat die Valke Zephany een oggend by die skool gaan haal het vir ’n DNS-toets.

Dit het bewys sy is inderdaad die Zephany Nurse wie se ouers haar jare lank gesoek het. Dit was die begin van ’n lang pad wat sy moes loop om ’n verhouding op te bou met haar biologiese ouers en sibbes.

‘Dit is lekker om Celeste naby te hê’

Benewens Cassidy het sy nog ’n suster, Micah (10), en ’n broer, Joshua (12).

Zephany het haar biologiese gesin beter leer ken deur naweke saam met hulle te kuier, maar sy het verkies om aan te bly in die huis waar sy grootgeword het by haar grootmaakpa.

Johan was, nes sy, deur die jare onder die indruk Zephany is sy biologiese dogter.

Johan was aan Maria verloof toe sy destyds hul ongebore baba op vier maande verloor het, maar sy het hom en sy familie nooit van die miskraam vertel nie. Hulle het gedink Maria is steeds swanger. En ’n paar maande later het sy huis toe gekom met ’n babadogter...

Die vrou wat Zephany ontvoer het, dien 10 jaar tronkstraf uit. Foto: Misha Jordaan

Volgens haar borgtogvoorwaardes mag Maria nie by Johan en Zephany gewoon het nie tot sy in Maart 2016 skuldig bevind is, waarna haar borgtog teruggetrek is.

Sy is in Augustus dieselfde jaar gevonnis en het haar tronkstraf begin uitdien.

Eers was sy kwaad vir die vrou wat haar as baba gesteel en haar van ’n kinderlewe saam met haar biologiese gesin beroof het, maar nou is daar geen bitterheid by haar teenoor Maria nie.

“Ek is lief vir daardie vrou met my hele hart,’’ sê Zephany “Mense kan dalk dink ek is dom of selfsugtig, maar die vraag wat hulle nie vra nie, is: Waarom is ek steeds so lief vir haar, al het sy gedoen wat sy gedoen het?

“Ek sê nie sy of enigeen is volmaak nie, maar die liefde wat sy vir my gegee het... Ek het dit nooit met ’n ander ma ervaar nie of al daardie soort liefde tussen enige ma en dogter gesien nie.” En wat van haar biologiese ma, Celeste, wat intussen van Morné geskei is?

“Ek sien Celeste af en toe. Sy is betrokke by my dogter se lewe, en dit is lekker om haar naby te hê. Sy het my al raad gegee oor hoe ’n mens twee babas moet hanteer.”

Zephany se dogtertjie saam met haar grootmaakpa. Sy woon by hom en sê hy is haar held. Foto: Verskaf

Maar hul verhouding is nie stabiel nie, en sy deel nie met haar die band wat sy met Maria deel nie, erken Zephany.

“Ek dink ek hou dalk daardie spesiale plek vir my ma wanneer sy huis toe kom.”

‘Ek is lief vir daardie vrou met my hele hart’

In die proses om haar nuwe familie te aanvaar het sy mense probeer vertrou, maar is teleurgestel.

“Ek het geleer dat jy net soveel kanse vir iemand kan gee, en dit het my laat besluit om ’n duidelike streep te trek en grense te stel. Ek het vergewe en ek gaan aan met my lewe.” Sy sê sy is lief vir haar sibbes.

“Hulle is gek oor hul niggie en opgewonde om hul nuwe nefie te ontmoet. Dit is nie ’n volmaakte verhouding nie en is nie stabiel nie, maar ek probeer om daar te wees vir hulle. Hulle weet ek is net ’n oproep ver.”

Tog erken Zephany: “Dis moeilik om ’n verhouding te bou met soveel sibbes, want terwyl ek grootgeword het, was dit net ek en my oudste broer, wat 10 jaar ouer as ek is.”

Die broer van wie sy praat, is eintlik ’n susterskind van Maria wat sy soos haar eie grootgemaak het en wat vir Zephany soos ’n ouboet is.

Sy besoek haar grootmaakma gereeld in die gevangenis en neem klein Emma saam.

Maria is opgewonde oor die kleinseun wat op pad is.

“My ma sê altyd dit gaan goed met haar, en ons maak seker sy kry wat sy nodig het.”

Celeste Nurse het haar dogter jare lank gesoek. Foto: Moncedo Mathibela

Ook Johan mis sy vrou en skryf elke week vir haar ’n brief, vertel Zephany.

Wanneer sy by Maria kuier, besef sy weer hoe moeilik dit vir haar is om haar kind groot te maak sonder hulp van die vrou wat sy steeds as haar ma beskou.

“Die ding wat my oor moederskap verbaas het, is dat iemand so klein en kwesbaar volkome van jou afhanklik is en jou as hul wêreld beskou,” sê die jong ma.

Haar toekomsdrome is om sukses in haar loopbaan en ook met haar boek te behaal.

“My storie is uniek en ek glo waarlik ek sal ander kan help wat iets soortgelyks beleef het deur ’n mate van genesing vir hulle te bring. “Dit wys dat jy geseënd kan wees met baie ma’s en pa’s sonder dat julle deur DNS verbind is...”