Hy kan skaars sy oë van die ontbytbuffet in die InterContinental-hotel in Hongkong wegskeur. Dit bied alles wat hy sou wou hê, alles wat hy maande lank nooit gesien het terwyl hy in Somalië gewerk het nie – steak, eiers, skyfies, gerookte salm, wafels.

Nadat hy pas 18 uur lank deur vier lughawens gereis het, is Jack* honger en moeg en wil hy bitter graag stort – maar die man wat hom hierheen ontbied het, dink skynbaar nie daaraan nie.

Die misdaadbaas Paul le Roux het op dié dag in September 2008 belangriker dinge in gedagte. Hy is buitendien nie bereid om amper R250 aan kos vir ’n ondergeskikte te bestee nie. Hy beduie Jack moet by ’n tafel in die leë restaurant gaan sit en begin dadelik besigheid praat.

Le Roux wil opium (waarvan heroïen gemaak word), dagga en koka (vir kokaïen) in Somalië kweek. Daarby wil hy ook met ’n tweede, ambisieuser onderneming begin.

Aan die kus van dié Afrikaland gaan hulle ’n basis vir die grootste internasionale wapenonderneming bou wat al bedink is. Waar hy honger en gedehidreer in die restaurant sit, sukkel Jack om die vreesaanjaende implikasies van Le Roux se visie te begryp.

Een van sy vele paspoorte.
Een van sy vele paspoorte. Foto: DEA

Daar sal pakhuise, behuising vir personeel, ’n veilige magasyn vir wapens en ammunisie, ’n moskee, waterputte en ’n landingstrook wees – en Jack sal hom dit help bou. Jack is te moeg om beswaar te maak.

Hy staar Le Roux bot aan terwyl hy probeer wakker bly deur aantekeninge op die agterkant van sy vliegkaartjie te krabbel. Tagtig minute ná sy aankoms neem ’n kelner hul bestelling vir middagete.

Jack is desperaat vir ’n steak. “Ons wil nie hier eet nie,” sê Le Roux en wuif die kelner weg. “Ons is in elk geval klaar met die vergadering.” Jack se moed sak. Hy voel lighoofdig van die honger.

“Hoe laat is jou vlug?” sê Le Roux. Dit is nie regtig ’n vraag nie. “Ek wil hê jy moet teruggaan en aan die nuwe plan begin werk.” Jack is verward, maar wink ’n taxi nader en sleep homself terug lughawe toe.

Tot dusver was sy baas taamlik goed vir hom. Die Europese vlootveteraan werk al sowat ’n jaar in Somalië, waar hy ’n kommersiële visonderneming aan die kus help vestig het. Le Roux noem hom sy “goue seun” en vertrou hom klaarblyklik.

Hy was ’n veeleisende baas en het nie gehuiwer om handlangers dood te maak as hulle hom in die steek laat nie.

Waarom behandel hy hom dan nou so stief? Dalk is dit maar net hoe magtige mans maak. Jack gehoorsaam hom teësinnig maar pligsgetrou, maar terug in Somalië moet hy die verskriklike waarheid aan homself erken: Le Roux beplan om die magtigste dwelm- en wapenhandelaar in die wêreld te word en het Jack pas sy medepligtige gemaak.

Teen die somer van 2010 raak Jack se geduld min. Omdat Le Roux nog nooit self in die veld gewerk het nie, dink hy al die toerusting wat hy bestel het, sal binne ’n paar weke op die bouterrein verskyn.

Hy laat die tyd wat dit verg om als van Djiboeti af te karwei buite rekening. “Dit was ’n logistieke nagmerrie,” het Jack later gesê. Siek en sat van die voortdurende eise vlug hy in Oktober Doebai toe.

Toe hy eers ’n bietjie sielkundige afstand gekry het, doen hy iets wat teen sy persoonlikheid indruis. Hy gaan na die CIA-webtuiste en stuur ’n e-pos waarin hy sê as iemand in Le Roux belangstel, kan hy hulle ’n paar dinge vertel.

Tom Cindric en Eric Stouch, twee agente van die Amerikaanse dwelmpolisie, die Drug Enforcement Administration (DEA), is beslis baie gretig om te hoor wat hy te sê het. Dit neem Jack twee dae om hulle alles te vertel.

In sy vroeë skooljare in Zimbabwe.
In sy vroeë skooljare in Zimbabwe. Foto: Derek Maltz Personal Collection

Paul Calder le Roux is op Oukersaand 1972 in Bulawayo, Zimbabwe, gebore as die buite-egtelike seun van ’n jong vrou en haar minnaar. Die egpaar Paul en Judith le Roux het hom aangeneem.

In 1984 verlaat die gesin Zimbabwe en vestig hulle in Krugersdorp, waar Paul sr. as ’n mynkonsultant werk. As tiener is Le Roux oorgewig en sosiaal onbeholpe; hy is hopeloos met sport en nie gewild op skool nie.

Hy studeer programmering by ’n tegniese skool en stof gou sy klasmaats en onderwyser uit. In 1992 kry hy op 20 sy eerste pos by die Londense inligtingstegnologie-agentskap BEI International, waar hy enkripsiesagteware ontwikkel.

Krugersdorp
As skaam en skugter tiener in Krugersdorp. Foto: Derek Maltz Personal Collection

Daar ontmoet hy ’n jong Australiese vrou en trou met haar, maar die huwelik hou nie lank nie. Ná sy egskeiding hervat hy sy ankerlose lewe as ’n sekuriteitskonsultant. Hy is ’n “kode-ninja” – ’n seldsame talent; ’n voormalige kollega beskryf hom as “die briljantste ou saam met wie ek al ooit gewerk het”.

Le Roux sou maklik sy plek kon inneem onder die tegnoreuse van Kalifornië se Silicon Valley. Maar mense maak hom nie opgewonde nie.

Hy is op sy gelukkigste alleen met sy planne. In 2004 stig hy RC Limited, wat gou die grootste swartmark-e-handel- farmaseutiese maatskappy ter wêreld word.

Hy trek na Manila in die Filippyne, want dit bied goedkoop arbeid vir sy inbelsentrums wat bestellings neem en verkope uitbrei.

Sy entrepreneurstyl kan dalk met dié van sy mede-Suid-Afrikaner Elon Musk en Jeff Bezos, stigter van Amazon, vergelyk word – albei onder die rykste mans ter wêreld.

Maar Le Roux se drome en ideale is veel donkerder. Teen die laat 2000’s maak hy amper R2 miljard per jaar uit die verkope van dwelms en wapens en huurmoorde op die donker web.

Rekenaarprogrammeerders vermoor gewoonlik nie mense nie; Le Roux doen dit wel, persoonlik en deur opdrag daarvoor te gee. “Hoe meer geld hy gekry het, hoe gekker het hy geword,” het Jack later gesê.

“Hoe meer hy skotvry daarvan afgekom het, hoe meer mense dood is, hoe meer het hy gevoel hy’s onaantasbaar.”

Fris gebou, 158 kg en met ’n polohemp, cargobroek en plakkies as uniform: Le Roux het kwalik soos ’n koudbloedige misdaadbaas gelyk.

En tog was hy byna ’n dekade lank – van 2004 tot sy inhegtenisneming in 2012 – aan die hoof van ’n sakeryk wat oor vier vastelande gestrek en dwelms, vuurwapens en moord verkwansel het. Jare lank was hy ’n skim.

Sy bedrywighede was feitlik onsigbaar vir die DEA, CIA en Verenigde Nasies – selfs toe hy met Iran en Noord-Korea begin handel dryf. Maar Jack se besluit om ’n informant te word het die misdaadbaas in fokus gebring. Hy stem in om na Le Roux se organisasie terug te keer – dié keer as ’n geheime bron.

Hy wen weer die misdaadbaas se vertroue, neem hul gesprekke op en deel al hul kommunikasie met die agente. Dit is ’n gevaarlike speletjie, maar Jack slaag daarin.

’n Geheime operasie is soos om iemand te probeer verlei. Wees begeerlik, maar lyk skugter. Laat die teiken jou aanpor. Jy weet jy doen dit reg wanneer hy begin maak asof dit sy idee is.

Die plan is om Le Roux te lok na Liberië, waar hy aangekeer en aan Amerika uitgelewer sal word. Die agente Tom en Eric stel die strik met ’n reeks e-posse wat hulle namens Jack skryf.

Die eerste boodskap sê hy moet ’n Israeliese sakeman ontmoet wat as makelaar van goud en diamante optree en in Liberië geldwassery doen vir Colombiaanse handelaars.

Le Roux se mislukte pogings om hom in die kokaïenbedryf te begewe het gemaak dat hy ontsaglike respek vir Colombiaanse handelaars opgebou het.

Die agente se teorie was dat hy teen dié tyd besef het hy kan hulle nie klop nie en moet liewer met hulle saamspan. In ruil vir kokaïen sal hy vir die kartel die voordeel van sy kontakte in Afrika en Asië en sy eie breinkrag bied.

Om die fiktiewe Colombiane se belangstelling in Liberië te onderstreep, skryf Tom nog ’n e-pos wat Jack aan Le Roux stuur. Dit lui dat benewens om kokaïen in Liberië te verfyn die Colombiane ook ’n onbekende produk daar wil vervaardig.

Daarvoor sal hulle reuse-hoeveelhede pseudo-efedrien, rooi fosfor, jodium en ’n paar ander items moet koop. Hulle het ook opleiding nodig vir hul “kokke”, wat gewoond is daaraan om kokaïen te maak, maar onervare is met die maak van ander produkte.

Dit is as lokaas bedoel om hom te oorreed om hulle sy uitmuntende kennis plus al die bestanddele vir tik aan te bied.

Die scenario sal tot sy ydelheid en sy visie vir ’n uiters winsgewende misdaadkoalisie spreek – ’n supermoondheid waarin hy skouer aan skouer met die room van Suid-Amerikaanse dwelmbase aan die stuur sal wees.

Toe hy weer met Le Roux praat, kies Jack woorde wat hy meen Le Roux sal aanpor. Stel jou voor hoe “minagtend” dit vir die Colombiaanse verteenwoordiger sal voel as hy die moeite gedoen het om na Monrovia te vlieg en Le Roux hom nie self daar ontmoet nie en liewer ’n ondergeskikte stuur, sê hy vir hom.

Le Roux beloof hy sal daar wees. Op 25 September 2012 is alles eindelik gereed. Le Roux land in Monrovia en is op pad na die Palm Spring-oord, waar agente meeluisterapparate in sy kamer geplant het.

’n Geredigeerde uittreksel uit HUNTING LE ROUX: The Inside Story of the DEA Takedown of a Criminal Genius and His Empire deur Elaine Shannon. Kopiereg © 2019 Michael Mann Books LLC, R415* by Takealot.com. met vergunning van Michael Mann Books/William Morrow, ’n druknaam van Harpercollins publishers.

Die volgende oggend ontmoet Jack hom en neem hom na die Golden Gate-hotel vir ’n vergadering met wat hy dink Diego, die Colombiaanse kartel se Afrika-verteenwoordiger, is.

Maar eintlik is Diego ’n voormalige hooggeplaaste Colombiaanse kokaïenhandelaar wat ’n DEA-informant geword het nadat hy in Amerika aangekeer is.

Hy dra ’n bandopnemer en vertolk sy rol volmaak. Terwyl Le Roux op ’n styfgestopte leerrusbank neersak, vra hy verskoning vir die vertraging om die mobiele tiklaboratorium te verskeep.

“As jy enige probleem het om dit te monteer,” sê Le Roux, “sal ek ouens instuur. Net so.” Hy klap sy vingers.

Diego sê hy is beïndruk met die gehalte van die tik wat Le Roux verskaf het. Le Roux knik trots en verduidelik hy kry dit deur een van die Chinese sindikate wat dit uit Noord-Korea smokkel.

Hy dink hy kan die sindikaatverteenwoordiger ompraat om die prys te verlaag as hy 200 kg Colombiaanse kokaïen per maand aan sy organisasie sou verkoop om in Asië te versprei.

Diego knik, en om Le Roux te vlei, sê hy hy het gehoor ondanks sy sukses en rykdom verkies Le Roux ’n nederige leefstyl. Le Roux, wat nog nooit ironie gesnap het nie, antwoord opgeruimd hy het ’n gewone motor, nie ’n “spoggerige” een nie.

Met “gewoon” bedoel hy sy Range Rover wat sowat R1 miljoen kos. Hy trek met ’n lang tirade los oor hoe hy sy luitenant, Dave Smith, vermoor het omdat dié met sy geld te koop geloop en in ’n Lamborghini en Mercedes in Manila rondgery het.

“Weet jy wat my regtig die hel in gemaak het?” vra Le Roux. “Sy seiljag was groter as my seiljag.” Hy verander weer die onderwerp, na Iran. Hy koop vuurwapens by Iran, maar hy het eindgebruikersertifikate nodig.

Kan Diego hom help? Diego is verstom oor die wending in die gesprek en verander die onderwerp terug na die tiktransaksie. Hy sê sy organisasie sal 100 kg Noord-Koreaanse tik in ontvangs neem.

Die Colombiane se agentskappe in New York sal dit daar versprei. Le Roux knik. Dis reg so, sê hy. NADAT die agente die bewyse op Diego se bandopnemers nagegaan het, ontmoet hulle twee agente van die Liberiese sekuriteitsagentskap vir die inhegtenisneming. Hulle ry in ’n konvooi sportnutsvoertuie na Le Roux se hotel.

“Kamerdiens,” sê een van die polisiebeamptes in ’n lae stem. Hy klink glad nie soos ’n kelner nie, maar dit werk. Le Roux se meisie, Cindy Cayanan, maak die deur oop. Le Roux sit by die lessenaar met sy oë op sy skootrekenaar se skerm vasgenael.

“Mnr. Le Roux, hande in die lug!” skree die senior beampte. “Jy is onder arres.” Le Roux spring orent en los sy skootrekenaar oop en ongesluit.

“Wat het ek gedoen? Wat het ek gedoen?” skree hy.

“Meneer, sit jou hande in die lug!” herhaal die Liberiër, sy stemtoon skerper. Le Roux spring na sy rekenaar toe.

Tom gryp dit voor Le Roux ’n kans kry om die data daarop uit te vee. Die dwelmhandelaar sak op die grond neer, die ene passiewe weerstand. Die Liberiese agente sukkel om sy arms bymekaar te kry om hulle te boei.

“As jy jou teësit, sal ek skiet,” sê die Liberiër.

Ná wat soos ’n uur voel, maar waarskynlik ’n minuut was, verslap Le Roux sy arms en laat toe dat hy geboei word.

Hulle kom omstreeks tienuur die aand op die lughawe aan. Toe die vliegtuig se deur toe is, kom ’n nuwe Le Roux-persoonlikheid skielik te voorskyn. Sy oranje hemp, deurdrenk van sweet en reën, kleef aan sy maag.

Sy hande en voete is geboei. Hy stink . . . Hulle almal stink. En tog verander die ver- slonste man wat ’n bad bitter nodig het skielik in Paul die uitvoerende hoof – gesaghebbend, asof hy ’n raadsitting tot orde roep.

Hy begin sy gesag afdwing met sy ego en die mag van sy persoonlikheid. Hy maak sy skouers reguit en glimlag vriendelik. “Wel gedaan, menere,” sê hy. In New York gaan Le Roux ’n pleitooreenkoms met die owerheid aan.

Hy beken eindelik skuld op sewe aanklagte – sameswering om tik in Amerika in te voer; oortreding van die sanksies teen Iran; geldwassery; elektroniese bedrog; kuberkrakery; bystand aan ’n misdadiger deur omkoopgeld te betaal en ’n oortreding wat met sy sluikhandelonderneming verband hou.

Word hy op hierdie aanklagte skuldig bevind, kry hy minstens 10 jaar en hoogstens lewenslange tronkstraf. Maar in ruil daarvoor dat hy aan die owerheid inligting verskaf en hulle aktief met klopjagte help om van sy medesamesweerders vas te trek, het hy ’n goeie kans op ’n ligter vonnis – moontlik 12 jaar – wanneer sy saak verhoor word.

Verskeie mense is al danksy Le Roux se hulp skuldig bevind – sonder dat enige van hulle vermoed hy werk met die Amerikaanse regering saam.

Maar die misdaadbaas self sal eers verhoor word nadat al hul appèlle uitgeput is. Terwyl sy saak hangend is, word hy in ’n federale tronk aangehou. Maar dit beteken nie hy het sy skelmstreke laat vaar nie.

“Het Le Roux ’n plan vir die toekoms?” vra ek vir Jack, wat hom waarskynlik so goed ken soos wat enige mens kan.

“Natuurlik het hy, en hy is in die tronk besig om aan daardie plan te werk. Hy sal eendag weer daar uitstap. Ons het beslis nog nie die laaste woord oor hom gehoor nie.”

* ’n Skuilnaam.