Nou gons dit behoorlik nadat die nuus uitgelek het oor ’n dokumentêre reeks wat deur die internetstroomdiens Netflix oor Maddie vervaardig gaan word. Die dokumentêr sal na verwagting uit agt episodes bestaan.

Onderhoude met sleutelfigure en ondersoekbeamptes sal deel daarvan vorm.

Intussen het dit aan die lig gekom die Metropolitaanse polisie het weer geld aangevra om die soektog na Maddie voort te sit. Meer as R186 miljoen is reeds daaraan bestee en die geld wat reeds bewillig is, sal na verwagting einde September opdroog.

Kate en Gerry McCann, Maddie se ouers, het glo die versoek verwelkom. Volgens hul woordvoerder is hulle dankbaar vir die werk wat die Operation Grange-taakspan reeds gedoen in die soeke na hul dogter gedoen het.

Maddie se ouers, Gerry en Kate, met haar tweeling-sibbe, Sean en Amelie.

Tydlyn van Maddie se verdwynig

  • Om halfnege op die aand van 3 Mei 2007 het Kate en Gerry hul vakansiewoonstel in Praia da Luz in Portugal verlaat. Hulle sou aandete saam met vriende in ’n nabygeleë restaurant geniet. Maddie en gesin se tweeling is in die woonstel gelos.
  • Net langer as ’n halfuur later het Kate by die kinders ingeloer om seker te maak alles is in orde.
  • ’n Chaos het minder as ’n uur later losgebars toe die McCann’s besef Maddie het weggeraak.
  • Ooggetuies beweer hulle het ook op dieselfde tyd ’n man gesien wat ’n kind in pajamas na die see se kant toe neem.

Samesweringsteorieë, lasterlike aantygings, mense wat kort-kort beweer hulle het Maddie gesien en ’n Portugese speurder en die McCanns wat mekaar gereeld in die hof takel, het tot vandag toe nog geen vrug afgewerp nie. Maddie is weg. Leef sy nog, of nie?

Netflix en misdaad

Netflix het reeds hul hand aan dokumentêre misdaadreekse gewaag. In 2016 het Amanda Knox die lig gesien, ’n dokumentêr wat gehandel het oor die afskuwelike moord op haar vriendin, Meredith Kercher, in Italië.

Sy en haar destydse kêrel, Raffaele Sollecito, is van die moord aangekla. Knox is 26 jaar tronkstraf opgelê en Sollecito 25.

In 2015 is hul laaste appèlaansoek deur die Italiaanse hooggeregshof aanvaar en is hulle vrygelaat.

Making A Murderer, ook uit Netflix se stal, handel oor die moord van ’n fotograaf, Teresa Halbach, in 2005. Haar verkoolde oorblyfsels is op Steven Avery se eiendom in Manitowoc, Winsconsin, gevind.

Brendan Dassey (28) is saam met sy oom, Avery, weens haar moord aangekla.

Bronne: bbc.com, independent.co.uk, digitalspy.com