En nou kom daar nog ’n dokkie oor die driejarige Madeleine McCann wat in Portugal verdwyn het.

Maar haar ouers, Gerry en Kate, is nie baie gelukkig met die komende Netflix-dokkiereeks, The Disappearance of Madeleine McCann, waarvan die eerste seisoen more (Vrydag) op dié stromingsdiens beskikbaar is nie. Dié dokumentêr sal handel oor die saak oor Madeleine se verdwyning. 

Kyk hier na die lokprent: 

“’n Egpaar rou ná die verdwyning van hul dogter wat vererger word deur mediamalligheid en die verkeerde oortuiging van ’n speurder dat hulle ’n deel daarin het,” lui die beskrywing oor die reeks op Netflix se webtuiste.

"Dit kan die ondersoek moontlik belemmer,” het die ouers vroeër oor die dokkie gesê. Die paar wou glad nie deel wees van die dokumentêr nie. Die reeks bevat wel 40 kenners wat na aan die saak gewerk het deur die jare.

Madeleine het in Portugal in Mei 2007 vermis geraak toe sy met haar gesin met vakansie was. Hoewel dit jare is ná hul dogter weg is, het die egpaar gesê hulle sal nooit ophou soek na hul kind nie. 

Die McCann-egpaar het vroeër in 'n verklaring gesê hulle is wel deur die produksiemaatskappy genader om deel van die dokkie te wees. "Ons kon nie en kan steeds nie sien hoe hierdie program die soektog na Madeleine sal help nie, en aangesien daar 'n aktiewe polisie-ondersoek is, kan dit die ondersoek selfs verhinder,” lui die verklaring.

"Gevolglik word ons sienings en voorkeure nie in die program weerspieël nie,” skryf dié twee. Netflix sê die nuwe reeks het wel onderhoude gedoen met vriende en familie van die McCann’s en ondersoekers van die saak. “Dit gaan verder as die nuus en kyk ook na die feite van die saak en die uitwerking daarvan op mediastandaarde oor die wêreld heen," skryf Netflix.

Madeleine se verdwyning is steeds ’n raaisel vir die polisie. Die kostes verbonde aan die soektog na Madeleine beloop tans R228 miljoen.

Bronne: StuffVirginMediaTelevision