Dr. James Butler spesialiseer in verskeie vorme van epileptiese aanvalle.

Hy het Maandag getuig oor die moontlikheid dat epilepsie tot Henri se bewusteloosheid, wat 2 uur en 40 minute geduur het op die oggend van 27 Januarie 2015, kon gelei het. Dit was die oggend waartydens sy ouers en broer brutaal gesterf het en sy suster baie ernstig aangerand is.

Laat Woensdagmiddag op 8 November is daar twee oproepe by die Constantiaberg-kliniek ontvang waar Butler per geleentheid werk. Een was van Danielle Janse van Rensburg en die tweede van haar pa, dr. Daniël Janse van Rensburg, wat ook ’n algemene praktisyn is. Daarin het haar pa genoem dat Henri ’n aanval gehad het.

Butler het eers die Donderdag op die boodskappe reageer.

Hy getuig die brein skakel emosionele trauma oor in epileptiese aanvalle. Dit is ’n onbewustelike reaksie.

Psigogeniese aanvalle, 'n tipe epileptiese aanval, word gewoonlik deur meisies ervaar. Dit kom veral voor waar daar mishandeling plaasgevind het en die jong, kwesbare brein nie daartoe instaat is om die trauma te verwerk nie. Die brein skakel dit oor na neurologiese trauma.

In Henri se geval het hy in gedagte gehou dat die hofsaak baie traumaties vir hom moet wees. Daarom is dit nie ongewoon om die soort aanvalle te sien nie.

“Naas epilepsie is dit die mees algemene oorsaak wanneer ons aanvalle sien,” sê Butler.

Henri is op 10 November in die Constantiaberg-kliniek opgeneem waar hy die naweek sou spandeer en waar ’n langer electroencephalogram (ECG), wat 24 uur sou duur, op hom uitgevoer is.

Sy meisie was teenwoordig tydens die toetse. Volgens Butler was dit omdat pasiënte soms sekere simptome toon voordat hulle hul bewussyn verloor en Danielle sou waarskynlik die simptome herken.

Butler getuig Henri gebruik vanaf Februarie 2015 medikasie teen angstigheid en depressie. Hy ervaar geen newe-effekte as gevolg van die medikasie nie. Hy het wel nie sy voorgeskrewe slaappille gebruik nie omdat dit hom slaperig sou maak deur die dag.

Henri se aanval

Volgens Danielle het dit gelyk of Henri wou hoes. Hy het vorentoe geleun, toe agteroor geval, sy oë het gerol en sy liggaam het geruk. Hy het ook sy geheue baie skielik verloor. Henri was rooi in die gesig en sy kakebeen was geklem.

Sy dink die hele aanval het ongeveer 1 minuut geduur, maar Butler sê hy sal die tydsduur met ’n knippie sout neem omdat mense soms vanweë skok tyd oorskat.

Henri het swaar asemgehaal toe hy weer sy geheue herwin het, maar daar was nie speeksel (soos wat gewoonlik by epilepsie-aanvalle voorkom) teenwoordig nie.

Henri het erken hy het ongeveer ses glase wyn voor die aanval geniet. Danielle se pa het medikasie aanbeveel. Henri het dit 90 minute na die aanval geneem en het 22:00 gaan slaap.

Volgens Danielle het Henri ’n soortgelyke aanval in Februarie 2016 beleef. Dit was egter donker en sy kon nie die simptome so duidelik beskryf nie.

Henri het na bewering aan Butler gesê hy het al vantevore episodes gehad waar hy probleme met sy geheue ervaar het, maar dit was op kollege en glo te wyte aan ’n oormaat drankies.

DR. JAMES BUTLER
  • Dr. James Butler het voorheen op die lys getuies vir die staat verskyn, maar is nooit geroep om te getuig nie.
  • Butler het verskeie kere met Marli van Breda gekonsulteer voordat hy by Henri van Breda betrokke geraak het.
  • Hy het verskeie kere met sowel die staat as die verdediging konsulteer.
  • Butler het geen finansiële vergoeding ontvang vir sy getuienis wat hy in die hof lewer nie.