Ivor Price sê aan Huisgenoot vanuit Moembai, hy het 'n paar weke gelede tydens opnames vir Landbouweekliks op Via, begin siekerig voel.

“Koorsig, papperig, erge pyn in my linkersy,” vertel hy.

Verlede Woensdagaand is hy noodgedwonge na die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg geneem. “Hulle het urien- en bloedtoetse gedoen en my met antibiotika en Panado's huis toe gestuur. Volgens die dokter was dit 'n blaas- en nierinfeksie,” sê Ivor. 

A post shared by Ivor Price (@ivor.price) on

Maar die pyn was ondraaglik en het vererger, sê hy.  “Saterdag het ek Kaap toe gevlieg om Sondagaand van daar Indië toe te vlieg. 

“Voor die vlug het ek besef ek moet dringend by 'n hospitaal uitkom. Direk na my aankoms is ek na die Cape Gate Mediclinic se noodeenheid,” vertel Ivor. 

Die dokters het aanvanklik gedink dit is nierstene, maar 'n skandering het gewys dit is 'n ontsteekte sist van 11 cm x 10 cm op sy een  nier. “Dis enorm!” 

A post shared by Ivor Price (@ivor.price) on

Ivor het so byna sy vakansie na Moembai gemis, maar hy sê hy en sy dokter het 'n kompromie aangegaan. “Ek neem elke dag 'n handvol baie sterk pille wat hy voorgeskryf het, plus ek gaan een keer daagliks na 'n hospitaal hier in Moembai om op 'n antibiotikumdrup te lê.

“My dokter het nie sy seëning vir die trip gegee nie, maar ek gaan 'n soet seun wees en my mooi gedra!” 

Sodra hy terug is, moet hy toetse laat doen om te kyk of die antibiotikum dinge verbeter het. “Anders moet dit tydens 'n operasie gedreineer word,” sê hy.

Ivor sê hy is oorweldig deur al die boodskappe van liefde en beterskap in sosiale media. “Wow, baie dankie! Lekker om in soveel liefde toegevou te wees.”