Elandré Schwartz het in Oktober verlede jaar sy vriendin gevra om voor die klavier in te skuif sodat hy sy gunstelingliedjie van Bruce Springsteen kon sing. Hy het sommer sy selfoon  gebruik om die liedjie op te neem sodat hy die video op sy Facebook-blad kon laai. 

Toe die eerste akkoorde opklink, het Elandré met sy baritonstem weggeval met Tougher Than The Rest. 

Hy het die video in die sosiale media geplaas en gaan slaap – min wetend dat sy lewe net daar soos handomkeer sou verander.  

Elandré se video is in minder as 24 uur meer as 300 000 gekyk en honderde kere gedeel. 

Ek is nog nie heeltemal gewoond daaraan om so baie te vlieg nie, maar dit is ongelooflik lekker

“Toe ek die volgende dag wakker word en dit sien, het ek so ’n bietjie uitgefreak,” vertel hy aan Huisgenoot. 

Drie dae later het sy foon gelui. Dit was die manne by die Wes-Kaapse radiostasie Bok Radio. Hulle het die video gesien en wou Elandré en sy kitaar in hul ateljee hê. 

Kort daarna het hy vir Bok Radio se luisteraars Tougher Than The Rest en Josh Turner se Your Man oor die lug gesing. 

“Daardie oggend op die lug het my koers in kuns verander,” se Elandré. 

Ernst Kleinhans van Select Musiek het hom gehoor en dadelik die ateljee gebel. 

“Ek is nou op die lug en wil jou amptelik ’n platekontrak aanbied by Select Musiek. Jy verdien om gehoor te word en om jou CD daar buite te hê en jou talent met mense te deel.”

Elandré vertel: “Ek was stomgeslaan en het net begin huil. Dit was soos ’n brander wat oor my spoel. My droom is binne ’n oomblik bewaarheid.”

Minder as ’n maand later het Elandré ’n kontrak by Select onderteken en hy spog nou met sy debuutalbum, Kleindorp-dromer. Hy het 10 van die snitte self geskryf. 

Toe Ernst my die platekontrak aanbied, het my lewe ’n keerpunt bereik

Nou is sy naam op talle se lippe en hulle wil weet wie die lang blonde man met die diep stem is. 

“Die titel van my CD som my presies op. Ek is ’n kleindorpiemens wat maar altyd gedroom het van musiek maak.”

Elandré het saam sy ouer broer en jonger suster op Despatch in die Oos-Kaap grootgeword.  Daar het hy in die kuierplekke en op funksies gesing. 

Ná skool wou hy drama gaan studeer, maar weens ’n tekort aan finansies het hy besluit om Kaap toe te trek. Hy het begin werk by ’n teaterrestaurant waar hy soms sing. 

“Toe Ernst my die platekontrak aanbied, het my lewe ’n keerpunt bereik. Dit is nie maklik om jou musiek te laat hoor as jy nie finansiële hulp het nie.

Op daardie oomblik oor die lug, ’n oomblik wat te groot was vir my, het ek geweet die moeilike tye waardeur ek is, was heeltemal die moeite werd.” 

Deesdae vlieg Elandré gereeld tussen Johannesburg en Kaapstad om sy CD te bemark en hy beplan tans ’n landwye toer. Hy het ook op die gewilde Krone opgetree. 

“Ek is nog nie heeltemal gewoond daaraan om so baie te vlieg nie, maar dit is ongelooflik lekker. Nou werk ek omtrent elke dag aan nuwe musiek en skryf baie meer. Wanneer ek voor ’n skare staan en sing, voel dit of ek daar hoort. Ek weet ek is gemaak om ’n kunstenaar te wees.”

En het die aantreklike jong man ’n liefde wat tuis op hom wag?

“Ja, ek het,” se hy en lag. 

“Sy is die liefde van my lewe. Haar naam is Tafelberg en ek word elke oggend langs haar wakker.”

Kyk sy musiekvideo hier:

Tien gelukkige lesers kan Elandré se debuutalbum wen. 

VRAAG: Wat is Elandré se CD se naam?

SMS die antwoord, jou naam en van na 35407 voor 14 Oktober 2017 om 12:00.

Elke SMS kos R1,50. Die borg is verantwoordelik vir die verskaffing van die pryse binne ’n redelike tyd. 

KOMPETISIEREËLS, -BEPALINGS EN -VOORWAARDES:

Die kompetisie is oop van 31 Augustus tot 14 September 2017 om middernag.

Elke SMS kos R1,50.

Gratis SMS’e kan nie gebruik word om in te skryf nie.

Jy moet die eienaar wees van die selfoon of die eienaar se toestemming hê om dit te gebruik.

Jy mag soveel keer inskryf as wat jy wil.

In die geval van ’n kompetisie met meer as een prys en meer as een trekking, mag jy net een keer per kompetisie wen.

Personeel van Media24 en die borg, asook hul gesinne, mag nie inskryf nie.

Jy moet die vraag korrek beantwoord om in aanmerking te kom vir die prys.

Wenners sal gekies word deur ’n lukrake trekking.

Wenners sal telefonies in kennis gestel word.

Ons sal ’n wenner drie keer tydens kantoorure bel.

As hy of sy nie bereik kan word met een van dié drie oproepe nie, sal ’n nuwe wenner getrek word.

Media24 en die borg aanvaar geen verantwoordelikheid vir skade wat spruit uit deelname aan die kompetisie nie.

Pryse is nie oordraagbaar nie en mag nie verruil word vir kontant of ’n ander prys nie.

Die borg is verantwoordelik vir die verskaffing van die pryse binne ’n redelike tyd (4-6 weke).

Dit is die wenner se verantwoordelikheid om ’n afleweringsadres te verskaf waar die prys bedags afgelewer kan word en/of ’n korrekte posadres.

Media24 en die borg aanvaar geen verantwoordelikheid vir verlore pryse weens ’n wenner wat nie beskikbaar is tydens aflewering nie en/of die prys nie betyds by die poskantoor afhaal nie.

Met jou inskrywing aanvaar ons dat jy Media24 toestemming gee om jou soms te nader met promosies en ander bemarking.