Die eenjarige JD Lange is blind gelaat.

JD is reeds byna ’n maand in die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad sedert hy op 2 Maart in sy dagsorg, in Saldanhabaai, se swembad beland het.

Oor die naweek is die slegte nuus op JD se ondersteuningsgroep op Facebook aangekondig: “JD se brein het gekrimp. Hy is soos ’n pasgeborene. Hy is tans blind. Dit gebeur met breintrauma. Dis gewoontlik die eerste ding wat gaan met ’n breinbesering en die laaste ding wat terug Kom. Moenie stres nie. Ja, JD is nou blind maar dit sál herstel. Ons glo die Here sal sy sig terugbring met tyd.”

JD Lange
Jessica Lange by haar seuntjie, JD, wat amper verdrink het. Foto: Verskaf
Klein JD Lange ontvang nou fisioterapie in die Roo
Klein JD Lange ontvang fisioterapie in die Rooikruis-kinderhospitaal. Foto: Facebook
JD in die hospitaal. Foto: Verskaf
JD in die hospitaal. Foto: Verskaf

Jessica Lange (28), JD se ma het Maandag aan Huisgenoot bevestig JD kan in die stadium niks sien nie. Huisgenoot het vroeër berig hy moes ’n tragea kry, ’n sintetiese lugpyp waardeur hy nou deur sy nek sal asemhaal aangesien sy allerbelangrikste sluk- en asemhalingssenuwees in sy brein seergekry het.

Nou moet Jessica die verdere hartseer nuus oor sy sig verwerk.

“Die dokters vermoed hy sien soos skaduwees, hy begin nou bietjie meer fokus, as jy ’n speelding voor hom beweeg sal hy dit nog bietjie volg, of as ek met hom praat sal hy my na my stem volg, maar nee, hy kan nie sien nie,” sê Jessica.

Maar dié ma is geensins mismoedig nie. “Ek het baie hoop. Ek weet my kind sal genees.”

Jessica vertel sy het onlangs die Christelike drama, Breakthrough, gekyk.

“In die fliek val die ma se kind in yswater. Soos JD is hy ook eers dood verklaar, maar dan, deur die krag van gebed, gebeur ’n wonderwerk.”

Sy vertel ’n ma van Johannesburg wie se kind dieselfde oorgekom het, het haar ook gebel om haar moed in te praat. Ook haar kind het wonderbaarlik herstel.

“Ek sien baie van die ma’s hier wat hoop verloor het, wat nie weet watter kant toe nie. Ek kan nie negatief wees nie. Ek moet positief bly vir JD.”

Jessica kan in die stadium nie genoeg dankie sê vir die duisende mense wat saam vir JD bid nie.

“Daar is mense wat ons nie eens ken nie wat uitreik. Die Here voorsien. Ek gaan hierna vir ’n jaar nie kan werk nie. Daar is mense wat sê: ‘Moet jy jou kar regmaak, ek sal dit vir jou laat regmaak.’

JD gaan nou hopelik binnekort na die tragea-saal. Hy sal so twee na drie weke daar wees, eintlik vir hoe lank dit gaan vat vir my om nou te leer om self die tragea te kan hanteer by die huis. Maar met dié dat mense so help, maak dit my rustig om net op JD te fokus. Ek glo nie ek sal ooit genoeg kan dankie sê nie.”