Kort ná middernag het die tienerseun die koerant met bewende hande oopgeslaan.

Soos menige matrikulant het Sifiso Tshabalala (19), van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark, weke lank in spanning op sy uitslae gewag. Minder as ’n jaar gelede het Sifiso ’n verpletterende terugslag beleef toe hy ernstige rugbeserings in die Driehoektragedie opgedoen het.

Vier kinders is dood en meer as 20 beseer toe ’n loopbrug op 1 Februarie verlede jaar by die skool ineengestort het. Voor die ongeluk het Sifiso groot rugbydrome gehad.

Danksy ’n beurs sou hy vanjaar by die Internasionale Rugbyinstituut (IRI) in Pretoria aanmeld om ’n 10 maande lange kursus in rugbyafrigting en -bestuur te volg.

Hy het gehoop sy opvolgondersoek by die dokter in Februarie vanjaar sou wys sy rug het herstel en hy sou weer rugby kon speel. Maar sy eerste mikpunt was om matriek deur te kom.

Driehoektragedie
Vier kinders is dood en meer as 20 beseer toe ’n loopbrug op 1 Februarie verlede jaar by die skool ineengestort het. Foto: Lubabalo Lesolle

Op 8 Januarie het Sifiso egter vergeefs in die koerant na sy nommer gesoek. Hy het nie matriek geslaag nie, het hy besef – ’n tweede dwarshou in ’n jaar.

Die nuus was ’n skok, vertel hy vandag by sy ma se huis in die township Evaton buite Vanderbijlpark.

Die sinkhuis is bloedig warm, en in sy beknopte kamer is daar nie ’n lessenaar nie. “Ek wou net tou opgooi,” sê hy oor die oomblik toe hy die nuus kry.

“Ek het gedink: ‘Hoekom is my lewe nie ook maar net daardie dag gevat nie?’ Daar’s niks gelukkigs wat gebeur nie. Dit gebeur net ’n klein rukkie en dan word dit weer weggeruk. Want nou het ek gedruip; ek het seergekry en kan nie werk nie, want as ek werk, raak my rug seer.”

Sifiso woon saam met sy ma, Zandile (43), en sussie, Towana (3). Zandile, ’n werklose huishulp, het net gr. 11 gehaal, en die gesin leef in die genadelose greep van armoede.

Hy het daaraan “gewoond geraak” om op ’n honger maag te leer, sê Sifiso. Maar ná die brugtragedie by sy skool het hy veral met konsentrasie en erge rugpyn gesukkel. Hy het wiskunde en twee leervakke, besigheidstudies en ekonomie, nie geslaag nie – vakke wat hy voorheen deurgekom het.

“Ek het baie hard gesukkel om te leer,” sê hy oor sy matriekjaar. “Alles was net te veel. Partykeer het ek gehuil voor ek gaan slaap. Ek was depressief en het baie slegte dinge vir myself gesê. Daar is diep dinge waaroor ek nog nooit kon praat nie.”

Tog wil hy nie hoop laat vaar nie en koester hy steeds drome van ’n rugbyloopbaan. Hy het aansoek gedoen vir hereksamens en kry in Mei ’n tweede kans om sy drie vakke te skryf.

Kudu Oberholzer, hoofafrigter by die IRI, het hom verseker hulle hou sy beurs vir hom en hom aangemoedig om sy aandag op die hereksamens te vestig.

“Hulle sê vir eers is my matriek belangriker.” Sifiso het ’n hegte klompie vriende, en hulle het matriek geslaag.

“Ons rook nie; ons drink nie. Ons speel sokker en ons loop altyd in ’n groep,” vertel hy. Sy vriende het gesê hulle sal hom help leer vir sy eksamen, en hy beplan om twee of drie dae per week by die skool te gaan leer.

Hy wil doen wat nodig is sodat hy ook matriek agter sy naam kan skryf en kan bou aan ’n toekoms anderkant die sukkel en die seer. Dit is dié gedagte wat hom nou aan die gang hou.

En ’n oomblik lank skitter sy oë weer.