Nie net moet die oud-Bokbreier, Peter de Villiers, sy dogter se hand vashou in haar donkerste uur van nood nie, hy moet ook in spanning wag om te hoor of hy nog ’n werk het.

’n Sondagkoerant het onthul dat Peter se base by die Zimbabwiese Rugbyunie (ZRU) met sy teenwoordigers in gesprek is oor sy toekoms by die unie.

Peter is verlede jaar as afrigter van die nasionale Zimbabwiese span aangewys, maar is geskors na hy glo werk misgeloop het. Die ZRU beskuldig hom glo daarvan dat hy sy dogter se siekte “opgemaak” het.

Limfoomkanker is verlede jaar by Peter se dogter, Odille Monk (28), ’n pilates-instukteur van die Paarl, gediagnoseer nadat ’n gewas in haar borskas gevind is. Peter het haar met elke sessie chemoterapie bygestaan.

Odille Monk (28) op haar troudag. Foto: Facebook
Odille Monk (28) op haar troudag. Foto: Facebook

Peter het by navraag gesê op advies van sy agente mag hy nie oor die saak kommentaar lewer nie.

“Ek het geloof. Baie mense sê hulle het geloof, maar wanneer dit getoets word, sien jy dit nie. Daar is sekere dinge in die lewe wat 'n mens nie kan beheer nie,” sê die geliefde afrigter – wat die publiek destyds gemoedelik "Snorre" gedoop het – aan Huisgenoot.  

Volgens die koerant is daar gerugte onder mense in die Zimbawiese rugbylandskap dat die verhouding tussen Peter en die ZRU suur geword het toe hy nie daarin kon slaag om die span vir die Wêreldbeker te laat kwalifiseer nie. Dit het daartoe gelei dat hulle maniere probeer vind het om van hom ontslae te raak, soos om hom dissiplinêr te verhoor vir die tyd wat hy by die werk misgeloop het.

Odille moes sedert haar kankerdiagnose agt chemoterapiesessie elke derde week ontvang. Peter het seker gemaak hy loop nie een van die sessies mis nie. Hy het vir ure langs haar gesit en haar geselskap gehou wanneer sy die behandeling ontvang. Selfs al het sy geslaap, het hy oor haar gewaak.

Hy het vroeër aan Huisgenoot vertel die afgelope paar maande was nie maklik nie en dat die krag van die Here hulle deur die moeilike tyd gedra het.

Peter het selfs so ver gegaan om sy hare af te skeer om bewusmaking oor kanker te bevorder.

Peter de Villiers
Foto: Facebook

Sedertdien gaan dit goed met Odille, vertel hy, en sê die gewas het al aansienlik gekrimp sedert sy met die behandeling begin het. Hulle oorweeg dit om iemand te gaan sien wat hulp met suurstofbehandeling aangebied het.

Intussen is die De Villiers gesin-oorval met liefde en omgee van mense in hul gemeenskap toe die nuus oor Odille se siekte bekend geword het. Mense van wie hulle nie in jare gehoor het nie, het na hulle uitgereik.

• Die Zimbabwiese rugbyunie het nie op Huisgenoot se navraag vir kommentaar reageer nie. Dit sal bygewerk word sodra dit ontvang word. ZRU-woordvoerder, Jeff Murimbechi, het wel in Sondag se City Press gesê Peter is tans nog 'n werknemer van die unie. 

“Daar is gesprekke aan die gang en 'n komitee wat die saak bepreek.” 

Hy kon nie uitbrei daaroor nie, aangesien die saak regsimplikasies het.