Die ernstig beseerde hoenderplaasbestuurder wat einde verlede jaar tydens in ‘n plaasaanval naby Lanseria, wes van Johannesburg, herhaaldelik geskiet is, se troudag is die afgelope week 'n tweede keer gekelder nadat hy komplikasies weens sy beserings ontwikkel het.

Johan is na die aanval in November twee maande lank in die Helen Joseph-staatshospitaal in Johannesburg behandel. Hy en sy verloofde, Hanli Barnard (47), moes gevolglik hul troue, wat op 15 Desember sou plaasvind, uitstel. 

Die paartjie was baie opgewonde om eindelik die afgelope Saterdag, 15 Junie, af te haak, maar Johan het dae tevore skielik 'n terugslag beleef en is verlede week week weer in die hospitaal opgeneem.

“Dit gaan nie goed met hom nie,” het 'n bekommerde Hanli Maandagoggend aan Huisgenoot vertel.

Hy is terug in die Helen Joseph-hospitaal en het daar verder verswak. Vrydag is ‘n noodoperasie op hom uitgevoer nadat hy septisemie opgedoen het. Hy is tans ‘n medies geïnduseerde koma in die waakeenheid. Johan is ook ‘n ventilator gekoppel.

Die aanval

Hanli vertel hulle was op 11 November net gereed om aan te sit vir aandete toe hulle deur vier aanvallers oorrompel is.

Johan, ‘n wewenaar, se drie kinders, asook Hanli se twee kinders, was saam met hulle tuis.

Die aanvallers het 25 skote afgevuur, waarvan nege Johan getref het. Die rowers het met TV-stelle, rekenaars en selfone gevlug.

Johan is teen die einde van Januarie ontslaan, maar moes kort-kort teruggaan vir verdere behandeling.

Verlede naweek, net ‘n week voor hul tweede troudatum, het Johan erge pyn in sy heup en buik begin kry. Teen Dinsdagaand, 11 Junie, het hy die heeltyd opgegooi, vertel Hanli.

“Ek het net besef ek moet hom so gou moontlik weer by die hospitaal kry, maar ek het vas geglo dat die troue sou voortgaan.”

Al wat sy nou kan doen is bid dat Johan weer volkome sal herstel.