Die Noord-Kaap se nuwe premier, Zamani Saul, gee die luukses van ’n staatsamptenaar prys sodat hy liewer sy mense kan dien. Hy gesels oor sy planne om geld te bespaar, sy provinsie te ontwikkel en korrupsie hok te slaan.

Sy kantoor op die sesde verdieping van die provinsiale wetgewer se gebou in Kimberley is niks besonders nie. Jy soek vergeefs na portrette van die nuwe premier van die Noord-Kaap teen die muur. 

Die lessenaar, bestrooi met dokumente en lêers, lyk soos enige ander hardwerkende mens se werkstasie.

Dit is presies hoe Zamani Saul daarvan hou. Hy is nie hier om geld rond te gooi of met portrette vereer te word nie; hy is hier om die mense van die Noord-Kaap te dien.

Sy voorganger, Sylvia Lucas, het in die eerste week van haar ampstermyn R50 000 se kitskos met haar staats-kredietkaart gekoop.

Dis dié dat hy die begroting vir luukse motors vir hom en sy LUR’e eerder gebruik het om 27 ambulanse te koop.Geen wonder die Noord-Kaap se nuwe, spaarsame premier het oral die nuus gehaal nie in ’n land waar die verkwisting van staatsgeld soms na die reël eerder as die uitsondering lyk.

Sy voorganger, Sylvia Lucas, het in die eerste week van haar ampstermyn R50 000 se kitskos met haar staats-kredietkaart gekoop, maar nie Zamani nie. Hy draai elke sent om – sommer herhaaldelik.

Soos enige doodgewone kantoorwerker wat die rande wil rek, bring hy vir hom ’n kosblik met middagete van die huis af saam.

“Ek kan nou vir jou sê jy bevind jou in die armste provinsie,” sê Zamani (47) op sy kenmerkende reguit manier aan Huisgenoot. 

Die Noord-Kaap het die hoogste werkloosheidsyfer onder jong mense in die land en 54% van huishoudings leef in armoede met amper 500 000 mense wat welsyntoelaes van die staat ontvang; daarom wil hy elke beskikbare sent daarin stort om die lewe van sy mense te verbeter.

Die premier saam met sy vrou, Tapsy, en hul kinder
Die premier saam met sy vrou, Tapsy, en hul kinders, die seuns Dag en G’zinn en hul dogter, Kgopi.

Met die intrapslag het hy al die daad by die woord gevoeg en 'n volle R1 miljoen gespaar toe hy sy provinsiale staatsrede gelewer het – geen rooitapyt is vir die geleentheid oopgerol nie en vooraf­verpakte kos is vir die 3 000 gaste voorgesit. 

“Ek gee nie om wat die ministeriële handleiding sê nie,” sê Zamani. “Ons wy elke sent daaraan om lewens te verbeter.” 

Dié nuwe besem wil sy provinsie skoonvee van verkwisting en ook korrupsie.

“As enigeen van ons met ons hand in die kasregister betrap word, moet ons nie van die ANC verwag om ons te beskerm nie,” sê hy streng.

Hy het oorlog verklaar teen alle onnodige uitgawes. Vyfsterhotelverblyf vir hom en sy amptenare is taboe, en wanneer hy reis, soek hy na die beste aanbiedings.

“Ek gaan volgende week Tanzanië toe en gebruik Mango, nie die Suid-­Afrikaanse Lugdiens nie,” verklaar hy oor sy vlug na Zanzibar.

Hy het ook geen polisiewagte nodig nie, het hy besluit.

In sy 11 jaar as 'n ANC-leier in die provinsiale regering het hy nog nooit ’n doodsdreigement ontvang nie. Die polisie in die provinsie het reeds hul hande vol; waarom sal hy dan so ’n waardevolle hulpbron opeis? 

Zamani Saul en President Cyril Ramaphosa tydens 'n
Zamani Saul en President Cyril Ramaphosa tydens 'n ANC-byeenkoms in Kimberley vroeër vanjaar.

Dit alles is musiek in die ore van ’n kieserspubliek wat keelvol is vir korrupsie en verkwisting. Maar is dit dalk te goed om waar te wees?

Hy weet maar alte goed dat mense dikwels skepties is oor politici se beloftes, sê Zamani, en weens die gebrek aan vertroue tussen gemeenskappe en politici is dit te verstane.

Maar, voeg hy by, hy’s 'n óú hand met kostebesparing.

“Ek het as (die ANC se) provinsiale sekretaris R1 miljoen gekry om 'n motor te koop, maar ek het toe net die helfte daarvan gebruik en 'n tweedehandse motor gekoop. Omdat ek nie toe die premier was nie, het niemand iets daaroor gesê nie.”

Nou het hy wel almal tot ver anderkant die Noord-Kaap se grense aan die praat – oor ’n premier wat die rieme dunner wil sny pleks daarvan om ’n luukse lewe na te streef.

Armoede is nie vir Zamani iets wat net in syfers en statistieke opgesluit lê nie, want hy het dit al aan sy eie lyf ervaar.

Hy het in ’n informele nedersetting op die Karoo-dorp Petrusville in die Noord-Kaap grootgeword as een van vyf kinders van ’n weduwee-ma, Nodayephi. Sy pa, Msitheli, is vermoor toe Zamani maar ses maande oud was.

“Hy het vir ’n padboumaatskappy op Mooirivier in KwaZulu-Natal gewerk toe iemand glo kom vra het: ‘Wie is Msi­theli?’ en hom soos 'n dier doodgemaak het,” vertel hy oor die pa wat hy nooit geken het nie. Die moordenaar is nooit vasgetrek nie en die motief vir die moord bly vir die familie duister.

In sy kinderjare het sy ma hom om vier­uur soggens wakker gemaak om vir die skooldag reg te maak. Sy suster het sy ma onlangs gevra waarom sy altyd saam met hulle skool toe gestap het.

“Sy het gesê: ‘Ek wou nooit gehad het my kinders moet soos ek wees nie.’ ”  

Geeneen van sy ouers het skoolgegaan nie, verduidelik Zamani, en hulle “was funksioneel ongeletterd”. Sy ma het haar brood verdien deur tradisionele bier te brou en te verkoop.

Zamani Saul sê sy ma, Nodayephi (BO), is ’n ware i
Zamani Saul sê sy ma, Nodayephi (BO), is ’n ware inspirasie en het baie opofferings vir haar kinders gemaak.

“Vroegoggend het die polisie gereeld klopjagte op ons huis kom uitvoer en haar in hegtenis geneem,” vertel Zamani.

“Sy sou tronk toe gaan, terugkom en dit weer doen om vir ons kos op die tafel te kan sit. Sy was ’n vegter.” 

Zamani was 14 toe hy ’n aktivis en lid van die studentevereniging van sy hoërskool word. 

Hy het ná matriek regte aan die Universiteit van Wes-Kaapland studeer. Hy het ’n doktorsgraad in die regte en is nou besig met nog ’n doktorsgraad – in multidissiplinêre studies – aan Unisa.

Die lewe is dol sedert hy in Mei vanjaar premier geword het, erken hy. Wanneer hy nie Saterdae ampspligte moet nakom nie, haal hy verlore slaap in.

Snags hou baie dinge hom wakker. Soos die bouwerk aan ’n nuwe psigiatriese hospitaal waarmee reeds in 2007 begin is en wat veronderstel was om in 2009 teen ’n koste van R300 miljoen voltooi te wees. 

Maar die projek is “opgemors” – soos hy dit stel – met die gevolg dat die hospitaal eers volgende maand sal open, ’n volle dekade laat. Boonop gaan dit die provinsie R1,3 miljard méér kos.

Ons kan groot vordering in hierdie land maak; ons moet net gefokus wees.

“Ons kon minstens nog drie hospitale met daardie geld gebou het,” sug Zamani gefrustreerd. “Dis die werklikheid.” 

Tog bly hy hoopvol ondanks die uit­dagings wat sy provinsie en die land in die gesig staar. “Ons kan groot vordering in hierdie land maak; ons moet net gefokus wees.” 

Hy glo steeds in die ANC ondanks die binnegevegte wat in die regerende party woed. Dit is nie ’n nuwe verskynsel nie, sê hy, want sedert die organisasie se ontstaan is daar al faksiegevegte. 

“En elke keer het ons leiers gehad wat opgewasse was vir die taak. Maar as die sekretaris-generaal (Ace Magashule) en die president aanhou om by mekaar verby te praat, sal Suid-Afrikaners in die bekwaamheid van die leiers twyfel.”

‘Ons kon minstens nog drie hospitale met ­daardie geld gebou het’

Wat die ANC nodig het, is leiers wat na die groter prentjie kyk en dit regkry om hul eie ambisies op die agtergrond te skuif, meen hy.“Tot dan sal ons as ’n swak organisasie voortgaan en as ’n staat wat teen homself in 'n oorlog gewikkel is. En dít is vir my ’n helse verskrikking,” erken hy.

Intussen werk hy daaraan om sy provinsie te ontwikkel – benewens werk-skepping wil hy nuwighede invoer soos Wi-Fi-kolle vir breër internettoegang en om vakke soos robotika en kodering in skole bekend te stel. 

In sy vrye tyd geniet dié pa van ses dit om rolprente te kyk, “maar my grootste verslawing is lees”.

Zamani het drie kinders uit 'n vorige verhouding – Amanda (22), Sindi (20) en Emeka (19) – en drie kinders uit sy huwelik met Tapsy (47) – ’n dogter, Kgopi (11), en twee seuns, Dag (8) en G’zinn (4). 

Tapsy, ’n senior bestuurder by die departement van maatskaplike ontwikkeling, is sy rots, sê Zamani. Hulle is al 20 jaar saam. 

“Sy ken die Zamani wat nie ’n premier is nie, en dit is goed.”

Oral waar hy gaan, wil mense selfies saam met hom neem, vertel hy met ’n laggie – nie omdat hy die premier is nie, maar omdat hy baie soos die sanger Seal lyk. “Selfs toe ek in Brasilië was, het dit gebeur.”

En hy is maar altyd inskiklik wanneer ’n aanhanger die kamera uithaal. Hy’s immers ’n premier wat sy mense gelukkig wil hou. 

Ekstra bronne: Sunday Times, M&G, SABC
Foto's: Emile Hendricks, gallo images/Brenton Geach, gallo images/sunday times/Masi Losi, facebook/dr-zamani-saul-page
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.