“Dit gaan baie beter met Nicolette,” vertel haar ma, Lize-Marie, aan Huisgenoot.

“Sy kry haar dae wanneer sy baie af voel en net haar stories op die televisie wil kyk, maar wat merkwaardig was, was toe ons die Vrydag by die huis kom en teen Sondag het sy buite gespeel.”

Nicolette het op 7 Mei op die gras by haar oupa se huis gesit en speel met sy staffie-tefie wat op hitte was terwyl haar boetie, FW (4), saam met hul oupa geloop het om die hek te gaan oopmaak. Dit was toe dat die staffie-reun sy kake in Nicolette se gesiggie ingeslaan het.

Die hond het dadelik laat los toe Lize-Mari op die hond geskree het.

Nicolette kort ná die aanval. Foto verskaf
Nicolette kort ná die aanval. Foto verskaf

Dokters moes twee van Nicolette se botandjies in haar mond verwyder. Haar oë, kakebeen, neus en tandvleis is tydens die voorval gekneus.

“Nie ons of die dokters kan glo dat sy so vinnig herstel het nie,” sê Lize-Marie.

“Ons was baie bekommerd dat sy infeksie gaan opdoen maar sy het wonderbaarlik nie een keer infeksie gekry nie, dit het die helingsproses baie gehelp.”

Volgens haar gaan Nicolette weekliks arbeidsterapeut toe waar daar spesifieke masseringstegnieke vir die kleuter gegee word.

“Ek moet by die huis haar sensitiewe gesiggie masseer om te help om die swelling af te kry.”

In 'n ommesientjie het die borrelende Nicolette se
In 'n ommesientjie het die borrelende Nicolette se lewe verander (inlas) ná 'n onverwagte aanval deur haar oupa se hond.

Met die swelling wat begin afneem, het Lize-Marie begin besef dat Nicolette se een ogie begin afwaarts sak.

“Ons is nog nie seker of dit permanent gaan wees nie, maar ons gaan volgende week weer die dokter sien om te hoor wat die volgende stap is en of hulle op die ogie wil opereer.”

Sy sê sedert die voorval het haar kleuter se persoonlikheid ook verander.

“Sy was altyd baie onafhanklik en wou nie regtig dat ’n mens haar optel nie, maar ná die voorval is dit asof sy heeltyd wil hê ons moet haar beskerm en wil hê ons moet haar optel en by haar wees. Ek dink dis omdat ons heeltyd ook in die hospitaal by haar was.”

Intussen begin die peuter weer op haar eie speel.

“Sy is en was nog altyd ’n rowwe kind. Ek loop deesdae orals saam met haar in die tuin om seker te maak sy val nie op haar brose gesiggie nie.

“Dit is baie lekker om te sien dat sy weer begin speel en lag.”