Dylan Joubert
Dylan Joubert (19) is op 9 Oktober dood nadat 'n motor in aankomende verkeer hom raakgery het. Foto: Verskaf

Miskien het sy gehoop dit sou vir haar berusting bring om net te weet of haar seun leef of dood is; dalk selfs dat antwoorde die lang nagte van slapeloosheid draagliker sou maak. 

Tog het die antwoorde waarvoor sy so hard gebid het, nooit die berusting gebring waarop sy gehoop het nie. Die waarheid is dít, sê Yolandi de Beer (47): Niks kan die pyn oor die verlies van haar blondekopseun wegvat nie. 

Ál wat troos bring, sê sy, is die wete dat haar kind voluit geleef het tot die dag van sy dood.

Yolandi en haar gesin, van Mooinooi in Noordwes, is in rou gedompel ná die dood van haar 19-jarige seun, Dylan Joubert. Hy is op 9 Oktober oorlede nadat hy in die Wilgers-omgewing, waar hy as ’n veiligheidsbeampte gewerk het, raakgery is. Hy het hom glo misgis en voor ’n bewegende motor ingestap toe hy ’n dubbelbaan wou oorsteek.

Dylan Joubert
Dylan saam met sy pa, Riaan. Foto: Verskaf

“Dis ’n sonderlinge soort hel vir enige ouer om ’n kind te verloor – dit skeur jou in duisend stukke,” sê Yolandi aan Huisgenoot. “Maar dis selfs erger wanneer jou kind dae lank spoorloos verdwyn; wanneer jy dae en nagte lank deur vrae geteister word – soos of hy leef of dood is. En dan, skielik, kom die oproep: Hy is dood.” 

Dylan het maar onlangs na Arcadia in die ooste van Pretoria verhuis. Hy het by Yolandi se suster, Sanet du Preez, gewoon.

Die gebroke ma vertel haar man, Riaan (50), het laas op 9 Oktober om 18:00 met Dylan gepraat nes hy op pad werk toe was vir ’n nagdiensskof. “Die selfoonopvangs was baie swak. Hy het nog aan Riaan gesê: ‘Pappa, ek kan nie mooi hoor nie, bel gou later terug.’”

Maar Dylan het nooit weer sy selfoon beantwoord nie. Dit was die laaste wat sy ouers van hom gehoor het.

“Mens dink mos nie aan die ergste wanneer jou kind nie sy selfoon optel nie,” vertel Yolandi. “Jy sê vir jouself hy’s dalk besig; dat sy selfoon dalk pap is.” 

Dylan Joubert
Van links is Marizelle, Zeldré, Jarred, Dylan en Taylor. Foto: Verskaf

Dis eers toe Sanet die daaropvolgende oggend laat weet Dylan het nooit ná sy nagskofdiens huis toe gekom nie, dat die De Beers onraad gemerk het. “Ons het sy baas gebel, sy vriende en Sanet-hulle en ons is selfs na die polisie in Sunnyside. Dit was asof hy spoorloos verdwyn het.”

’n Vermiste-persone-saak is daardie Woensdag, 14 Oktober, oopgemaak. 

“Dís toe die hel begin het,” sê Yolandi. “Die wonder of hy oukei is; of hy leef. Lê hy êrens en skree my naam uit? Sien iemand hom? Is hy dood? Ek het mal geraak van bekommernis. En toe kom die ergste: die polisie het gesê ons moet begin om hospitale en lykshuise te bel. Die wêreld het om my ineengestort.” 

’n Familievriend, ’n begrafnisondernemer van Pretoria, het aangebied om na Dylan te gaan soek in die lykshuise in die omgewing. “Almal het ingespring. Hulporganisasies wat soek na kinders, vrywilligers en familie – almal het help soek na my liefste kind,” vertel Yolandi.

Dylan Joubert
Die brief wat aan vriende en familie uitgedeel is tydens Dylan se verassingsdiens. Foto: Verskaf

Die familievriend het op 19 Oktober gebel met die tragiese nuus. “Ons het hom gekry,” het hy telefonies laat weet. Dylan was dood, sy liggaam is in ’n staatslykshuis in Pretoria opgespoor.

Yolandi sluk swaar aan die trane.

“Ek het geskree: ‘Nee! Nee! Nee! Moenie vir my sê my kind is weg nie – asseblief nie. Net nie my kind nie!’ Ek was histeries, ek kon nie ophou gil nie. My bure was doodbekommerd oor die angsgille; ek het net vir hulle gesê ek is jammer, ek het my kind verloor.”

Die familie het op 23 Oktober ’n verassingsdiens vir Dylan in Pretoria gehou. Yolandi sê sy en haar man en hul vier ander kinders, Marizelle (23), Jarred (17), Taylor (17) en Zeldré (26), is gebroke deur sy dood.

Dylan Joubert
Dylan as 'n jong seuntjie saam met sy ma, Yolandi. Foto: Verskaf

Sy sê sy hoop om binnekort met die bestuurder van die motor, voor wie Dylan ingeloop het, in aanraking te kom.

“My hart bloei vir hom,” sê Yolandi. “Hy het dae lank na ons gesoek, maar Dylan het geen identifikasie aan hom gehad nie. Hy is in stukke – nes ons. Vir hom sal die lewe ook nooit weer dieselfde wees nie.” 

In die dae sedert sy verassingsdiens is daar nog baie trane, sê Yolandi.

“Mens sal nooit nié seer wees nie,” vertel sy. “Maar ek het ’n mate van vrede omdat ek weet hy is veilig by die Here; hy is in die hemel waar hy hoort. My kind het sy lewe voluit geleef; elke dag was vir hom ’n avontuur. En dit bring ’n mate van berusting, al sal die seer nooit werklik verdwyn nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe