Oom Kosie Pieterse en tannie Sus Jones het onlangs
Oom Kosie Pieterse en tannie Sus Jones het onlangs ewige trou aan mekaar beloof. Foto: OJ Koloti.

In haar 20 jaar as weduwee het sy nooit gedink sy sal weer voor die kansel staan nie. Nog minder sou sy ooit kon droom dat haar bruidegom, netjies in sy grys pak en wit hemp, haar oorlede ousus se man sou wees nie . . . 

Maar toe Kosie Pieterse haar sommer op een slag vra om te kys én te trou, het Sus Jones nie getwyfel oor haar antwoord nie – al is sy reeds 82 en haar nuwe geliefde 95 jaar oud. 

’n Mens is tog nooit te oud om lief te hê nie; waarom dan om te trou?

“Toe ek myself weer kon vind, is ek in sy arms,” vertel die waardige gryskopvrou met ’n glimlag waar sy knus langs haar nuwe man op ’n rusbank in die sitkamer van hul tuiste op Vryburg in Noordwes sit. 

“Natuurlik sou ons trou,” beaam Kosie met sy hand in sy bruid s’n. “Jy weet, my glasie is besig om leeg te loop, en ek is aangetrokke tot Sus en ons is nie vreemdelinge nie,” beklink hy dit. 

Die twee is pasgetroud, want nadat die jawoord in Januarie uit is, het hulle nie gras onder hul voete laat groei om af te haak nie.

Oom Kosie en tannie Sus op hul troudag.
Oom Kosie en tannie Sus op hul troudag. Foto: P & W Photography.

Net ’n paar weke later, op Maandag 22 Februarie, het Sus, feestelik uitgevat in ’n donkergroen broekpak met ’n bypassende kantbaadjie en ’n protea as ruiker, aan die arm van haar broer, Renier van Vuuren (73), haar bruidegom tegemoetgestap. 

“Ek het lank gewag op daardie datum,” sê Kosie droogweg oor hul troudag op sy oudag.

By die Unity Gastehuis & Venue, sowat 30 minute se ry in Delareyville se rigting, het hulle trou beloof. 

Weens die coronaviruskrisis kon net 50 gaste die groot oomblik met hulle deel. Onder hulle was heelwat van Kosie, ’n pa van vyf, en Sus, ’n ma van ses, se kinders en kleinkinders. 

Tussen hulle het die egpaar 29 kleinkinders en 26 agterkleinkinders. 

“Op hierdie ouderdom was dit vir my baie spesiaal om weer te trou. Ek dink die spesiaalste oomblik vir ons albei was toe ek die trouring aansteek,” sê Kosie in die sitkamer van die snoesige eenslaapkamerhuisie by die Rusoord-tehuis waar hy ná die troue by sy bruid kom intrek het. 

“Ons het beslis gevoel ons kan nie net by mekaar woon nie,” sê Sus beslis. “Ons gee om vir mekaar, ons het belange by mekaar én ons is lief vir mekaar.

“So hoekom sal ons nie trou nie? Dan bly ons óók by mekaar.”

Wanneer jy hul tuisdorp binnery, groet die massas sonneblomme wat wild in die veld tussen die huise groei ’n mens vriendelik. 

En hier by oom Kosie en tannie Sus is dit duidelik dat die liefde, nes die sonneblomme, in ietwat onwaarskynlike grond kom saadskiet het. Want dis nie aldag dat iemand op 95-jarige ouderdom die jawoord vra, afhaak en so diep in sy goue jare weer liefde vind nie. 

Nou, 11 dae ná die groot dag, is hulle nog so verlief soos enige wittebroodspaartjie. Terwyl ons oor hul liefdespad tot by die kansel gesels, bly haar hand meestal in syne gevleg of sy vou haar arm liefderik om sy skouers. 

Kosie was eers met Isabel, Sus se ousus, getroud.
Kosie was eers met Isabel, Sus se ousus, getroud. Foto: OJ Koloti.

“Ons ken mekaar al jare,” vertel Kosie. “My oorlede vrou en Sus was susters en ek en Sus se oorlede man was soos broers.” 

In hul jong dae het hy en Sus albei in die Molopo-omgewing net buite die dorpie Bray, teenaan die grens van Botswana, gewoon. Kosie het ’n stoetboerdery daar gehad en Sus se oorlede man, Magiel Jones, ’n gemengde beesboerdery. 

Die jongklomp het so een maal per maand op Vryburg, hul naaste groot dorp, gaan kuier. Nooit sou Kosie en Sus toe kon raai dat hulle dekades later hier sou kom nesskop nie. En beslis nie saam nie. 

Hy is in 1948 met Isabel getroud, en in 1960 het Sus en Magiel afgehaak.

Sus en haar oorlede man, Magiel.
Sus en haar oorlede man, Magiel. Foto: OJ Koloti.

“Ons plase was net sowat 15 km uitmekaar, en toe ek en Magiel eers getroud is, het ons gereeld by Kosie-hulle gaan kuier,” onthou Sus. Min naweke het verbygegaan sonder dat hulle saamgekuier het.

“Ek is eintlik ’n Kalahariboer; ek het 60 jaar daar geboer,” vertel Kosie oor die ou dae. “Ek en Magiel het gereeld in Botswana saam gaan jag. En dan is die twee vroue ook saam.” 

Tot vandag het daardie stuk aarde nog ’n besonderse plek in hul harte. “ ‘Ver in die ou Kalahari’ was omtrent ons volkslied,” vertel Sus. 

Ná ’n huwelik van 40 jaar het prostaatkanker Magiel se lewe op 63-jarige ouderdom geëis. Ná sy dood in 2000 het sy agt jaar lank die boerdery behartig met die hulp van hul drie seuns. 

“Ek het daarna eers op die dorp in Vryburg kom woon. Ek is toe vir ’n paar jaar na my dogter op Rosendal en het in 2017 hier in Rusoord kom bly,” som sy haar lewenspad op. 

Die verliefdes sê hulle het ’n tweede kans op lief
Die verliefdes sê hulle het ’n tweede kans op liefdesgeluk gekry. Foto: OJ Koloti.

Haar ousus, Isabel, en Kosie was in die 60 jaar getroud toe haar gesondheid begin agteruitgaan het. Hulle het drie jaar in Bloemfontein gewoon om naby mediese sorg te wees voor sy in 2016 aan ’n hartaanval oorlede is. 

“Dit was vir my baie erg om my suster so skielik te verloor,” onthou Sus. “Ek het nogal beskermend oor Kosie en hul kinders gevoel.” 

Isabel se dood het hom ook swaar getref. Kosie onthou hoe hy net “getreur en getreur het”.

Sus sou af en toe bel om te hoor hoe dit met hom en die kinders gaan. Wanneer sy elke ses maande Bloemfontein toe moes gaan vir ’n ondersoek by ’n internis, het sy by hom en sy twee dogters oorgebly. 

“Dan het ons lekker gesels oor die ou dae. Ons het aangetrokke tot mekaar gevoel, maar ek sou nou nie sê daar was ’n soentjie of drukkie nie. Ons het maar net lekker gesels,” sê sy. 

Die pasgetroudes.
Die pasgetroudes. Foto: OJ Koloti.

Tussen die kuiers het hulle later ál gereelder oor die foon gesels. Tot Kosie haar in Januarie vanjaar genooi het om ’n week lank by hom te kuier en toe sommer die jawoord gevra het. 

Die troue was in ’n kits klaar gereël. “Ons het niks gedoen met die reëlings nie. Ons moes net betaal,” lag Sus. “Die twee families het so mooi saamgewerk, want hulle ken mekaar baie goed.” 

Haar kleindogter Wourine van Zyl (24) het haar hare en grimering vir die troue gedoen. 

Die twee in ’n perdekar op pad na hul trouseremoni
Die twee in ’n perdekar op pad na hul trouseremonie. Foto: P & W Photography.

Daarna het Kosie sy bruid ewe romanties in ’n perdekar kom haal. Hy het self die leisels vasgehou tydens die kort perderit op die dorp voor die twee per motor verder na hul trouplek geneem is. 

Ná die seremonie, waar ds. Marthinus Coreejes van die NG gemeente Harmonie op Vryburg ’n “pragtige boodskap” gelewer het, kon die gaste by die onthaal weglê aan middagete met sosaties as voorgereg en ’n “lekker steakete” as hoofgereg. 

“Om op hierdie ouderdom weer gelukkig saam te wees is wonderlik,” sê Kosie oor hul tweede kans op liefdesgeluk. 

Saans gaan hy en Sus meestal ’n entjie in die tehuis se tuin stap voor hulle vir aandete in die eetsaal gaan aansit. 

Terwyl ons gesels, bring Rusoord se bestuurder, Vernon Dettmer, ’n paar botteltjies koeldrank.

Voor hulle dié lafenis geniet, klink Sus en Kosie eers speels hul botteltjies teen mekaar. 

“Die mense hier sorg baie goed vir ons; hulle bederf ons regtig,” sê Kosie oor sy nuwe tuiste hier by sy vrou. 

“Die eensaamheid is besig om te verdwyn,” begin hy, maar voeg gou by: “Dit het eintlik al klaar verdwyn. Ek het nou my maat gekry en ons is lief vir mekaar.” 

En Sus beaam: “Dit is wonderlik om weer iemand lief te hê en om self geliefkoos te word.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.