Weerskante van die N4-hoofweg is die Bosveld geil besaai met rooigras en lowergroen doringbome, maar sowat 120 km duskant die Botswana-grens wink die beenwit gebou van die NG kerk Swartruggens in Noordwes skielik op die horison.

Jy steek die bruisende Elandsrivier oor en swenk regs op ’n tweespoorgrondpad waar jy soos ’n Dakar-renjaer moet bestuur om deur die plasse water en modder te kom.

Dan doem die skelrooi huis tussen die haak-en-steekbos voor jou op en ’n humeurige boerboel wat in die voortuin waghou, maak jou lugtig. Tot die blondekop oor die Vibracrete-muur agter die huis loer. “O, dis Huisgenoot! Kom in!” roep sy in ’n vrolike meisiestem.

’n Mens hoor hoe die agterhekkie oopgaan, dan kom sy om die hoek gehinkepink en trap versigtig op haar linkervoet. “Dis net seer as ek loop,” vertel Hesmarie van Loggerenberg (15) en beduie na haar linkerbeen met die dik verbande.

Want sy het die ondenkbare oorleef – ’n krokodil het haar net meer as ’n week tevore in die Ela

Hesmari,krokodil aanval
Hesmarie en haar ouma Susan in die hospitaal. Sy is na ’n hospitaal in Rustenburg geneem. Foto: Verskaf

dsrivier aangeval en aan die been beetgekry.

In ’n swart hemp met Snoopy op en ’n kortbroek maak sy haarself tuis op ’n draadstoel op haar ouma Susan van Loggerenberg (64), ’n afgetrede verpleegster, se stoep.

Saam met haar is Nelson Harmse (41), ’n buurman en die held wat haar uit die kake van die dier gered het. Haar been is met pleister en verbande verbind, en ouma Susan het “brandsalf” aangesmeer, vertel sy.

“Dit het vreeslik gebrand toe sy dit opsit, maar dis nou oukei; dit voel baie beter.”

Hesmarie se ma, Hester, is drie jaar gelede aan kanker oorlede, en nou woon sy en haar pa in ’n huis op haar grootouers se erf. Haar pa verkies om anoniem te bly.

Hier op die stoep met die gekwetter van geelvinke op die agtergrond en die swerm vlieë wat die reën gebring het, vertel die kaalvoetmeisie van die dag wat haar steeds nagmerries gee.

In haar drome kan sy die geel ogies van die ongedierte sien en herleef sy hoe die krokodil sy tande in haar been insink en haar onder die water insleep. “Ek kry nog baie nagmerries,” sê sy grootoog. “Maar ek is oukei. Ek gaan net nie meer rivier toe nie.”

Hesmari,krokodil aanval
Inwoners glo nie die dier wat geskiet is, is die skuldige nie. Foto: Verskaf

Op 15 Januarie, ’n snikhete en windstil dag, het die bloekombome bewegingloos teen die groen landskap gestaan. Die poele op die grondpaaie was uitgedroog en die boerbokke het onder die kort skadu’s van die bome skuiling teen die moordende hitte gesoek.

Hesmarie vertel sy en Nelson se twee jong seuns het besluit om af te loop rivier toe om lafenis te soek. Dis sowat 50 m van die huis af.

“Ons almal gaan swem gereeld daar,” vertel Nelson, wat as nutsman vir Hesmarie se oupa Loggies (65), ’n bou-ondernemer, werk.

Hy woon in dieselfde straat as die Van Loggerenbergs, en die rivier loop net agter hul huise verby. “As ek nie by my huis was en die gille gehoor het nie, was sy dood,” sê hy.

Hesmarie vertel sy en haar maats het by die rivier ’n skadukol in die water gewaar, maar gedink dis ’n klip. Daar gekom, het sy haar jeans opgerol en met haar bene in die water gesit om af te koel.

“Ek was bang om my broek nat te maak en was besig om die pype verder om te rol toe ek iets voel wat teen my been druk. Ek het begin giggel, want ek het gedink dit is een of ander diertjie. Ek is mal oor diere. “Toe kom ek agter dis ’n krokodil.”

Hesmari,krokodil aanval
Die krokodil het vleis uit haar been geruk; sy moes meer as 50 steke kry. Foto: Verskaf

Dit is toe dat die groot roofdier sy tande in haar linkerbeen inslaan en haar in die water intrek. Hy het ’n paar keer met haar gerol en haar onder die water ingetrek.

“Al wat ek gedink het, is dat dit verby is. Ek gaan nou doodgaan,” onthou sy. “Ek het vir die res geskree: ‘Help! Help! Ek gaan doodgaan!’ ” Hesmarie sê haar oë was heeltyd oop, selfs toe die krokodil haar onder die water ingetrek het.

“Ek het baklei. Ek het hom geslaan en geskop en hom selfs teruggebyt. My pa het my mooi geleer,” sê sy en lag.

Hesmarie is ’n kranige judovegter en het as’t ware haar kata op die krok uitgeoefen. “As hy my wil byt, sal ek hom terugbyt,” verklaar die plaaskind en gee weer ’n uitbundige lag.

Die geskree van die kinders het Nelson, wat tuis was, se aandag getrek. “Ek het afgehardloop rivier toe en op die toneel afgekom waar Hesmarie in die kake van die krokodil was. Hy het haar nog so een of twee keer gerol en Hesmarie het opgekom vir asem.”

Neville en twee mans, Leon van Niekerk en Gert Botes, wat intussen ook op die gille gereageer het, het begin om klippe in die rigting van die krokodil te gooi.

‘Al wat ek heeltyd gedink het, is dat dit verby is. Ek gaan nou doodgaan’

Neville het ’n stok na Hesmarie uitgehou en sy het dit reggekry om daaraan vas te gryp terwyl die gedierte steeds verwoed aan haar been vasklou.

Die klippe het aanhou reën, en toe die reptiel besef dié maaltyd gaan nie maklik tou opgooi nie, het hy laat los. Die mans het vir Hesmarie aan wal getrek en haar jeans met ’n mes oopgesny.

“Daar was baie bloed en los vel het van haar been afgehang,” onthou Nelson. Intussen het nog omstanders kom help, onder andere Marius Vermeulen, wat in noodhulp opgelei is. Hy het ’n noodhulpkissie gebring en haar wonde toegedraai.

Hesmari,krokodil aanval
Haar broek is gesny om by haar wonde uit te kom. Foto: Verskaf

“Sy was tranerig en het heeltyd gesê sy wil nie doodgaan nie,” onthou Nelson. Hulle het haar tot by ’n bakkie gedra van iemand wat intussen op die toneel aangekom het.

Nelson het saam met haar ingeklim en hulle het na die plaaslike kliniek gejaag. Daar het personeel haar wonde behandel en sy het meer as 50 steke gekry voor sy per ambulans na die Job Shimankana Tabane- provinsiale hospitaal in Rustenburg geneem is.

Sy is eers vyf dae later, op 20 Januarie, uit die hospitaal ontslaan. “Ek wou eintlik nie ontslaan word nie,” sê sy.

“Die verpleegsters was almal so vriendelik. Ek het baie lekkers, biltong, blomme, tjoklits en ’n vrugtemandjie gekry. Hulle het my heeltyd gebad en gevoer. Dit was baie lekker.”

Volgens Susan, Hesmarie se ouma, sal sy ten volle herstel.

“Ons het groot geskrik. Ek is net dankbaar sy is nog met ons. Sy het baie steke gekry en die hap wat uit haar been gevat is, gaan blykbaar vanself herstel. Sy het klaar die gevoel terug in haar been en begin weer op hom trap.”

Ons volg saam met Hesmarie die voetpaadjie tussen die lang veldgras deur na die rivier, tot by die plek waar die krokodil haar gegryp het. Nelson stap voor en Hesmarie kom agter ons op krukke aangekruie.

“Oom, gaan ek regtig in die Huisgenoot wees?” vra sy. “Die kinders by die skool knip die prentjies uit vir take.” “Ja,” antwoord ek. “Jy gaan famous wees.”

Hesmari,krokodil aanval
‘Al wat ek heeltyd gedink het, is dat dit verby is. Ek gaan nou doodgaan’ Foto: Fani Mahutsi

“Nee man, oom. Ek is nie famous nie. Ek is net ’n doodgewone meisie.”

By die rivier staan ’n vanghok met twee dooie hoenders in, wat Noordwes se departement van natuurbewaring daar gesit het. Vroeër is berig amptenare van die departement het die krokodil geskiet wat Hesmarie aangeval het, maar die inwoners sê die krokodil wat geskiet is, is te klein.

“Die een wat hulle geskiet het, is net 1 m lank. Die een wat Hesmarie gebyt het, was ’n meneer van oor die 2 m,” sê Neville. By die oewer is Hesmarie skielik senuagtig.

“Ek gaan nie te naby kom nie. Ek het gehoor krokodille kan selfs op land baie vinnig hardloop.”

Die water kabbel rustig tussen die klippe deur en in die bome kwetter ’n bosveldvisvanger. Hesmarie bly op ’n afstand, maak haar op een van die rotse tuis en staar stip na die water vir enige beweging.

“Nee, hel. Ek gaan nie sommer weer swem nie,” sê sy. Wat sal sy doen as sy weer die krokodil teëkom? Sy kyk oor die rivier en swaai haar kruk dreigend in die lug. “Dan gee ek hom ’n judo-chop!”