Dakota White (toe 17) het op die dorp Perry in die Amerikaanse staat Georgia gewoon. Hy was volgens sy regspan terneergedruk en het gemeen al uitweg was om sy eie lewe te neem.

Hy en sy vriend Brandon Warren (toe 18) het met mekaar daaroor gepraat en na alle waarskynlikheid bespreek hoe hulle te werk sou gaan om saam hul eie lewe te neem.

Toe slaan hul planne ’n skrikwekkende rigting in en begin hulle wonder hoe dit sou voel om iemand anders se lewe te neem.

Die tieners het slinks te werk gegaan om hul slagoffer in die hande te kry. En Sam Poss was die ongelukkige tiener op wie hulle hul dodelike visier ingestel het. Op 15 Oktober 2016 nooi hulle hom onder valse voorwendsels na White se grootouers se huis, kamma om hulle te help met rekenaarkodering.

Toe raak Sam weg. Helikopters, soekgeselskappe en selfs kadawerhonde is ingespan om na die jong man te help soek.

Sy pa, Chris, en sy ma, Nicole, het teen alle verwagting in bly hoop Sam sal betyds gevind word. Volgens hulle sou hy nooit net iewers heen gaan sonder om hulle te laat weet waar hy is nie. Boonop was Sam se selfoon nog in die huis.

Maar vier dae later moes die moedige ouerpaar die hartverskeurende nuus hoor: Hul seun se lyk is in ’n vlak graf in ’n beboste gebied gevind, ver van waar die groot soektog aanvanklik begin is.

Nog erger, die twee tieners wat weens sy moord in hegtenis geneem is, het dieselfde skool as hy bygewoon.

Een van die tieners (White) het selfs in ’n stadium Sam se pa saamgeneem om na hom te help soek.

Die moord het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur, nie net weens die grusame daad deur tieners nie; ook omdat daar agt jaar laas ’n moord op die dorp met sy sowat 14 000 inwoners was.

Warren het onskuldig gepleit. White het skuld beken en is onder meer aangekla van moord, aanranding met verswarende omstandighede en die verdoeseling van ’n dood.

’n Jurie, bestaande uit 10 mans en twee vroue, het hom Woensdag (9 Mei) aan die moord op Sam skuldig bevind. Hulle het kwalik langer as ’n kwartier oor hul besluit beraadslaag.

Van die getuienis wat in die hof aangehoor is, dui daarop dat Sam onder die indruk was White se rekenaar was stukkend. Maar dit was die leuen waarmee White en Dakota hom gelok het.

Dr. Maryanne Gaffney-Kraft het getuig kabels, soortgelyk aan dié wat vir rekenaars gebruik word, was hoofsaaklik verantwoordelik vir Sam se dood. White het in sy verklaring gesê hy het Sam met ’n koord verwurg.

Maar die koord het gebreek en White het hom verder met sy arm om die nek verwurg terwyl Warren hom met ’n skerp voorwerp gesteek het.

Hoekom Sam?

In ’n video-onderhoud met die Perry-polisie het White gesê hulle het Sam gekies “omdat hy ’n gawe ou was” en dadelik gereageer het op hul teksboodskappe om hul kamtige rekenaarprobleem te help oplos.

White het aan die speurder Quridsha Gilliam gesê hulle het gedink hulle kan netsowel iemand doodmaak voor hulle hul eie lewe neem.

“Ons kon aan geen rede dink om dit nie te doen nie. Ons was van plan om te sterf; hoekom sou ons dan omgee?”

Chris Poss, Sam se pa, het tydens ’n roerende onderhoud gesê Sam sou beslis nie wou gehad het hulle moes soveel seerkry ervaar nie.

“Ons moet net die 18 jaar onthou wat hy ’n goeie lewe gehad het – en in sy naam hulp aan iemand anders verleen. Dit is die beste manier waarop ons hom kan eer.”

Sam was die toonbeeld van ’n rekenaarbleeksiel wat maklik met mense oor die weg gekom het.

Hy het geensins omgegee om met ’n onpaar sokkies by die skool op te daag nie en as lid van die skool se marsjeer-orkes het dit tot Sam Poss-dag gelei — dae wat deur die dirigent van die orkes aangekondig is waarop ál die orkeslede met onpaar sokkies moes opdaag.

Chris het sy seun beskryf as “iemand wat geweet wie hy is en wat glad nie omgegee het wat ander daarvan dink nie".

Sam se hartsbegeerte was om by die vloot aan te sluit en sy liefde vir rekenaars verder uit te brei.

White sal gevonnis word nadat Warren se saak afgesluit is. Al rede hoekom die staat nie die doodstraf vir Warren kan versoek nie, is omdat hy jonger as 18 jaar oud was ten tyde van die moord.

Bronne: washingtonpost.com, macon.com, 13wmaz.com