1. Die 57-jarige adjunkpresident van die ANC het homself glo die titel van “The Cat” toegedig vanweë die aantal politieke lewens wat hy lei.

2. Op 18 Desember 2017 is hy by die party se 54ste nasionale konferensie by Nasrec as die adjunkpresident van die ANC verkies.

3. Die oudskoolhoof het 'n onderwysdiploma en 'n B.A.-graad en was van 1988 tot 1991 die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (Sadou).

4. In 2008 het die sekretaris van die ANC-jeugliga beweer Mabuza het gehelp om vir oudpres. Jacob Zuma se troue met sy vierde vrou, Nompumelelo Ntuli (toe 35), te betaal.

5. In dieselfde jaar word hy die voorsitter van die ANC in Mpumalanga en word daarvan beskuldig dat sy vriende en familie voordeel uit tenders trek. 

6. In 2009 wys Zuma hom as Mpumalanga se vierde premier aan.

7. Mabuza beweer in 2015 iemand het hom probeer vergiftig en hy neem vir twee maande siekteverlof. 

8. In 2016 verloor hy ’n R10 miljoen-lastersaak teen Mathews Phosa; Mabuza het beweer dat Phosa hom daarvan beskuldig het dat hy 'n apartheidspioen was.

9. 'n Politieke ontleder, prof. Susan Booysen van Wits, het aan News24 gesê sy glo Mabuza het in die aanloop tot die nasionale ANC-leierskonferensie in Desember 2017 sy steun aan Nkosazana Dlamini-Zuma – wat in ’n hewige tweestryd met Cyril Ramaphosa vir die presidentskap van die ANC gewikkel was – onttrek omdat sy hom nie ’n regeringspos kon waarborg nie.

10. In Februarie 2018 word 'n tydelike beskermingsbevel in die landdroshof in Carolina teen Mabuza toegestaan. Die klaer is Frederick Coenraad Daniel, 'n sakeman van die Cradle of Life-reservaat in Badplaas. Hy beskuldig Mabuza van sabotasie en georkestreerde aanvalle op sy onderneming.

Bronne: huffingtonpost.co.za, news24.com, wikipedia.org, mg.co.za, timeslive.co.za, citizen.co.za