Drie foto’s. Drie gesigte.

Die eerste is pragtig: ’n tiener met donkerbruin hare, blink oë en ’n lieflike glimlag.

Die tweede is moeilik om na te kyk. Waar die neus moet wees, is net ’n stuk vel. Die linkeroog kyk teen ’n hoek ondertoe, en die mond en ken lyk asof dit agterna vasgewerk is.

Die derde foto is van ’n ouer vrou met ’n ronde gesig en ’n hartseer uitdrukking. Die oë, neus en mond is op die regte plek, maar die gesig lyk glad nie soos die een op die eerste foto nie.

Tog is dit drie foto’s van dieselfde mens – ’n jong vrou wat so wanhopig geraak het dat sy ’n koeël deur haar ken geskiet het.

Voor die oorplanting.
Ná die oorplanting.

Dis ongelooflik dat Katie Stubblefield (nou 21) die skoot hoegenaamd oorleef het. Dit het haar neus, mond, kake en ’n deel van haar voorkop afgeruk en haar byna blind gelaat.

Katie is nou vasbeslote om die lewe voluit te leef nadat sy ’n kosbare tweede kans – en ’n nuwe gesig – gekry het.

Die jong vrou van Missouri in Amerika is die wêreld se jongste ontvanger van ’n gesigoorplanting. Dit het plaasgevind in ’n operasie van 31 uur in Ohio.

Haar reis van wanhoop na hoop het pas verskyn in die jongste uitgawe van die tydskrif National Geographic. Die artikel, The Story of a Face, vertel ook die verhaal van Katie en haar gesin se moeilike reis.

Haar reis van wanhoop na hoop het pas verskyn in die September-uitgawe van die tydskrif National Geographic.

’n Groepie fotograwe het die afgelope twee en ’n half jaar foto’s van hulle geneem tydens haar moeisame pad na herstel. Die foto’s wys die liefde van haar familie en vriende, en ook die vaardigheid van haar mediese span.

Dis byna ondraaglik om na van die foto’s te kyk, maar Katie het toestemming gegee dat dit gepubliseer word.

“Ek wil hê mense moet weet hoe ongelooflik dié prosedure is en hoe fantasties die lewe is,” het sy gesê.

“Die punt is, ek wil mense help.”

Katie het in Lakeland, Florida, grootgeword en was aanvanklik net nog ’n vrolike meisiekind met ’n aansteeklike humorsin.

Maar toe sy ’n tiener word, het haar ouers, Alesia en Robb, haar sien verander. Sy het ál meer druk op haarself geplaas om in die klaskamer en op die sportveld uit te blink. Toe sy 16 was, het die gesin na Kentucky verhuis en ’n jaar later na Oxford, Mississippi.

Katie was ingeskryf by ’n Christelike skool waar haar ouers onderwysers was. Sy het verlief geraak op ’n skoolmaat wat haar mooi bygestaan het toe sy gesondheidsprobleme ondervind het.

Haar blindederm is in 2014 uitgehaal en weens spysverteringsprobleme moes haar galblaas ook later verwyder word.

Toe kom twee vreeslike terugslae.

In Maart 2014 het albei haar ouers hul werk verloor, en later in dieselfde maand het Katie afgekom op boodskappe op haar kêrel se foon wat ’n ander meisie gestuur het. Toe sy hom hieroor konfronteer, het hy hul verhouding verbreek.

Katie by haar ouers, Robb en Alesia.

Sy het na haar ouer broer, Robert, se huis daar naby gegaan, sy .308-kaliber-jaggeweer in die hande gekry en badkamer toe gestap. Sy het die loop onder haar ken gedruk en die sneller getrek.

Robert het aan National Geographic vertel hy het die skoot gehoor, badkamer toe gehardloop en sy kleinsus op die vloer sien lê. Dit was net bloed, been en hare.

“Haar gesig was weg,” sê hy.

Katie is na ’n hospitaal in Oxford gehaas en na ’n hospitaal in Memphis, Tennessee, oorgeplaas.

Daar het dokters ’n opening in haar lugpyp gemaak sodat sy daardeur kon asemhaal. Hulle het die oorblyfsels van haar kaak en wangbene gestabiliseer, haar ooglede toegewerk sodat die korneas kon gesond word en ’n geskeurde breinmembraan toegewerk.

In die twee weke daarna moes haar skedel oopgemaak word om die bloeding op haar brein te verlig, en veloorplantings is op haar gapende wonde gedoen.

Maar haar lyf het die oorgeplante vel verwerp en sy is oorgeplaas na die Cleveland-kliniek, ’n spesialis- akademiese hospitaal. In die volgende twee jaar het die een operasie op die ander gevolg, maar sy is eindelik teen einde 2015 stabiel verklaar.

’n Magdom spesialiste was betrokke by die marathonoperasie. Op die voorgrond is drukstukke van haar skedel.

In Maart 2016 is haar naam op die lys vir ’n gesigoorplanting geplaas. Maar daar moes nog baie gebeur voor ’n oorplanting gedoen kon word.

Katie se oë was skeef en ver uitmekaar. Die dokters het metaalskyfies alkant van haar wange vasgeheg en dit met twee metaalstafies aan mekaar geheg. Twee maande lank is dit daagliks verstel terwyl die bene van haar gesig nader aan mekaar gegroei het.

Teen die tyd dat sy eindelik reg was vir die oorplanting, het sy al 22 operasies ondergaan om haar gesig te herbou.

In Mei 2017 is ’n skenker gekry: Adrea Schneider, ’n ma van een, wat op 31 weens ’n dwelmoordosis dood is.

Omdat Katie ná die oorplanting van haar skenker se gesig drasties anders as haar ou self sou lyk, het sy berading ontvang om haar daarop voor te berei.

Adrea Schneider was ’n orgaanskenker en het sewe mense se lewe gered of ­verander met verskeie liggaamsdele.

Op 4 Mei 2017 was alles gereed.

Die operasie was ’n reuse-onderneming. Die dokters moes haar kopvel, neus, ’n deel van haar wange, haar bokaak, die helfte van haar onderkaak, haar voorkop, ooglede, oogkasse, spiere, vel en die meeste van haar gesigsenuwees vervang.

Die bloedvate van Adrea se gesig moes met Katie se gesig verbind word sodat bloed na die nuwe gesig kon vloei.

Elf chirurge en 15 spesialiste, onder meer in die veld van tand- en oogheelkunde, was by die operasie betrokke. Dit het 31 uur geduur.

Volgens dr. Brian Gastman, ’n chirurg van die Cleveland-kliniek, het die dokters voor die oorplanting 3D-drukwerk ingespan om Katie se onderkaak te herbou.

Skanderings van Katie se ouer suster, Olivia McCay, se gesig is gebruik om ’n vorm te druk vir die rekonstruksie.

Die operasie was ’n sukses.

Twintig dae ná die oorplanting het Katie ’n wandeling geneem saam met die fisioterapeut ­Becky Vano (links) en ’n student, Nicole Bliss. Voor die oorplanting moes sy weer leer loop om haar beenspiere te versterk en die krampe te oorkom wat haar breinbesering veroorsaak het.

“Sy het ’n kans om weer haar plek in die samelewing in te neem,” sê Brian. “Die operasie kan haar haar selfvertroue teruggee.”

Katie, die 40ste mens ter wêreld wat ’n gesigoorplanting ondergaan het, is op 1 Augustus verlede jaar ontslaan.
Dis nou ’n jaar later en sy leer weer loop en praat en ook om braille te lees.

“Ek het ’n tweede kans op die lewe gekry,” vertel sy aan National Geographic.

Sy wil graag as ’n berader kwalifiseer. Sowat 800 000 mense wêreldwyd probeer elke jaar hul eie lewe neem – een mens elke 40 sekondes, volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie. Dis nou Katie se roeping om dit te help verander.

Haar fisieke stryd sal nooit verby wees nie. Sy moet nog operasies ondergaan en sal die res van haar lewe medikasie moet neem. Tog het die wanhoop van destyds plek gemaak vir nuwe hoop.

“Wat ook al in jou lewe aangaan, jy kan anderkant uitkom,” sê Katie.

“Die lewe is ’n wonderlike gawe.” 

BRONNE: NATIONALGEOGRAPHIC.COM, NEWSROOM.CLEVELANDCLINIC.ORG, CNN.COM, STANDARD.CO.UK
FOTO'S: CLEVELAND CLINIC, YOUTUBE/CLEVELAND CLINIC, FACEBOOK/ADREA SCHNEIDER
Depressie en selfdood

Spreek ’n dokter as jy langer as twee weke enige van hierdie simptome ervaar:

  • voortdurende hartseer, angstigheid en ’n gevoel van leegheid;
  • ’n gesukkel om te konsentreer, details te onthou of besluite te neem;
  • moegheid en minder energie;
  • skuldgevoelens, ’n gevoel van waardeloosheid, hulpeloosheid en/of pessimisme;
  • slapeloosheid, om soggens vroeg wakker te skrik of uitermate lank te slaap;
  • geïrriteerdheid of rusteloosheid;
  • ’n verlies aan belangstelling in aktiwiteite of stokperdjies wat vroeër genotvol was; of
  • ’n verlies aan aptyt of oormatige eetlus.

HIER'S HULP

  • Bel Sadag se hulplyn sewe dae per week by 0800-567-567 of hul hulplandlyn tussen agtuur soggens en agtuur saans by 011-234-4837.
  • Destiny Hulplyn vir jong mense: 0800-54-42-43.
  • Of stuur 'n SMS na 31393.
Wil jy 'n orgaanskenker word?

Jy kan sewe ander mense se lewe red. Een hart, twee longe, twee niere, een lewer en een pankreas kan sewe mense 'n nuwe kans op die lewe gee.

En danksy tegnologiese vordering, kan ook soos in die geval van Adrea Schneider 'n gesig geskenk word.

’n Mens kan gratis as ’n orgaanskenker registreer en die prosedure is eenvoudig: Besoek bloot die Orgaanskenkingstigting se webtuiste, www.odf.org.za, of bel die tolvrye nommer 0800-22-66-11.