Destyds het almal geglo dit was die werk van die Italiaanse Mafia – maar nou word gegis hy het dalk sy eie ontvoering georkestreer.

Paul se eksvrou, Gisela, verbreek ná dekades die bekende familie se stilswye en lug haar mening.

Gisela Getty bly ’n oomblik stil en lag dan oor die blote gedagte. Dat die gunstelingkleinseun van een van die rykste mans in die geskiedenis so vermetel sou kon wees om sy oupa uit miljoene dollars te kul . . .

Destyds, in 1973, is die wêreld verstom deur die nuus oor die 16-jarige Paul Getty se raaiselagtige ontvoering in Rome. En die drama het verdiep toe sy inhalige oupa, J. Paul Getty, aanvanklik botweg weier om die losprys te betaal.

Eers nadat die tiener se oor aan sy familie gestuur is, het die oliebaron teësinnig ingestem om met die booswigte te onderhandel. Vyf maande later is Paul toe vrygelaat – minus een oor.

Dekades lank het almal geglo die Mafia was vir dié ontvoering verantwoordelik. Maar jare later het mense begin bespiegel. Sê nou Paul het sy eie ontvoering georkestreer?

Aanhangers van dié vreemde samesweringsteorie glo Paul wou die losprysgeld gebruik om ’n revolusionêre, “teenkulturele” paradys in Marokko te vestig. En dan sy oupa, die aartskapitalis, uit Surrey in Engeland daarheen lok om te sien hoe sy geld “eties” bestee word.

Klink dit soos ’n draaiboek?

Die Britse regisseurs Ridley Scott en Danny Boyle het ook so gedink. Elkeen het die raaisel probeer oplos. Ridley met die drama van 2017 All the Money in the World en Danny met die reeks Trust, wat tans op DStv (kanaal 115) uitgesaai word.

Volgens Gisela (69) het albei misluk. En dis juis die bespreking om die regisseurs se pogings wat haar laat besluit het om die stilswye te verbreek. Al weet sy die ander Gettys sal nie daarvan hou nie.

Ek weet dit sal, om dit sagkens te stel, ontevredenheid veroorsaak,” sê sy.

Maar dis nie net die weergawes van die ontvoering op die skerm wat Gisela laat besluit het om na vore te kom en haar storie te vertel nie. Ook die dood verlede jaar van haar glansryke tweelingsuster, Jutta, aan kanker het haar genoop om haar verlede en toekoms te konfronteer.

Gisela Getty (regs) en haar tweelingsuster, Jutta Winkelmann, poseer saam tydens die vrystellig van hul boek TWins op 10 Maart 2008 in Berlyn, Duitsland. Foto: Gallo Images/Getty Iimages

“Boyle en Scott het hul weergawes vertel, maar daar is nie ’n vrouestem nie,” sê Gisela, self ’n rolprentmaker, wie se memoires volgende jaar sal verskyn.

“Ek wou hê my eie vertolking moes ook gehoor word.”

In die 1960’s het sy en haar suster ’n uitsonderlike lys hoëprofielmans verlei met hul skoonheid, intelligensie en selfvertroue. Die tweeling is deur die rolprentmakers Roman Polanski en Federico Fellini onthaal en het beroemdes soos Bob Dylan en die Rolling Stones in vervoering gehad.

Maar dit was Paul Getty wat Gisela se hart gesteel het. Maande ná Paul se vrylating het die wêreld weer gegons toe dié twee trou. Hul seun, Balthazar (43), ’n ­akteur en tans die leidende gees van dié geheimsinnige familie, is ’n kort rukkie daarna gebore.

Maar die huwelik het begin verbrokkel lank voor Paul, toe 24 jaar oud, heeltemal verlam gelaat is weens ’n oordosis dwelms.

Gisela het later ’n verhouding met die akteur Dennis Hopper aan­geknoop en haar in haar familie­verhoudings, fotografie en dokumentêre rolprente verdiep.

Sy is ’n slanke, elegante vrou met priemende blou oë wat maklik praat. Die enigste aanduiding van ongemak is wanneer sy haar hande tydens ongemaklike vrae vryf. Dit gebeur dikwels in ons ­onderhoud.

As kinders in die Duitse stad Kassel moes sy en haar suster met ’n pa saamleef wat getraumatiseerd was deur die oorlog en die verwoesting van die Nazi-­party se rassistiese droom oor ’n ryk van wit supermense – ’n droom wat hy en die Nazi’s gedeel het.

“Na sy mening was dit ’n edel etiek,” sê sy. “Dit was nodig om die verskriklike oorlog deur te maak om dié hoër, suiwer matriks te bereik.”

Die tweeling het ná skool kuns studeer en aangesluit by die plaaslike tak van die kommunistiese KPD, die teelaarde vir die Rooi Leër, oftewel die geweld­dadige Baader-Meinhof-bende van 1968 tot 1972.

Nadat die tweeling ’n internasionale rolprentwedstryd gewen het, het hulle na Berlyn verhuis. Hier het albei vinnig getrou, maar is hulle ook net so vinnig ontnugter.

“Ek en my suster het radikaler geword, maar ons mans het meer in die kulturele revolusie belanggestel. Ons wou meer polities wees.”

Die tweeling het die mans dus gelos. En toe Gisela haar tweede man ontmoet en hy voorstel dat hulle na Rome verhuis, het die tweeling die geleentheid aan­gegryp.

“Ons het besef ons voel te in­geperk in Berlyn. Ons wou onsself en daarmee saam die hele wêreld bemagtig. Ons wou ons horisonne verbreed. Ons was soekers.”

Gisela (links) en Jutta op ’n foto wat deel uitgemaak het van ’n uitstalling oor hulle. Die foto is in 1973 in Rome geneem.

Nadat Gisela haar eerste kind gehad het, is sy vir ’n rukkie terug na Duitsland as ’n enkelma. Daar het sy haar dogter, Anna, aan haar ouers oorhandig en sy is toe weer terug na Rome.

Die tweeling het by ’n onortodokse groep akteurs, transvestiete en radikales aangesluit en bekende gesigte in Rome geword. Paul het Jutta ontmoet en was dadelik geboei. Paul se woonstelmaat, Marcello Crisi, wou toe ook die tweeling ontmoet.

“Ons het saam met ons vriende ge­kuier. Paul en Marcello het ingekom en daar was dadelik ’n vonk. Ons was die soort metgeselle waarna Paul gesmag het. Vanweë sy agtergrond het ons gevoel asof ons van dieselfde planeet kom.

“Hy het so ’n uitsonderlike agtergrond gehad; hy het soos ’n frats, ’n buitestander gevoel. As ’n tweeling en as Hitler se kinders het ons ook soos buitestanders gevoel.

“Paul was baie mooi, skerp, waaksaam en intelligent. Hy was ’n mengelmoes: innemend met ’n skuheid wat deur ’n tikkie sinisme en arrogansie gebalanseer is. Daar was ’n roekeloosheid aan hom: ‘Ek doen wat ek wil. Ek is slimmer as almal.’

“En op ’n manier het hy die wêreld verag. Hy het baie woede en teleurstelling onder die sjarme gehad. Hy was beslis nie soos ’n 16-jarige nie.” Maar hy was . . . ”

John Paul Getty by een van Anday Warhol se partytjies, Junie 1976. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ongelooflik genoeg is John Paul Getty III, om sy volle titel te gee, uit die skool geskors en het hy sy familie agtergelaat.

Sy pa, John Paul Getty II, ook bekend as Big Paul, se oorheersende, afsydige en uiters genadelose pa het hom na Italië gepos om die familiewinkel te bestuur. Big Paul se verval in drank- en dwelm­misbruik het net vererger toe sy huwelik met Gail, Little Paul se ma, misluk.

Later het Little Paul saam met Marcello, ook ’n aspirantkunstenaar, begin werk.

Dié twee het gekonkel vir ’n lewe  – Paul het Marcello se skilderye as sy eie onderteken, want kopers was gretig om hul deel van die Getty-naam te kry.

“Die volgende dag het ons by sy blyplek ingetrek,” sê Gisela.

LSD in die water

“Ons het dit die Dungeon genoem. Dit was ’n ou huis en het ’n kelder sonder vensters gehad. Dit was ’n groot ruimte. Philip (’n Britse huismaat) en Marcello het onder geslaap en ek, Paul en Jutta het ’n slaapkamer gedeel. Dis hoekom koerante dit ’n ménage à trois genoem het, maar geen seks was betrokke nie.

“Ons het dinkskrums begin hou oor hoe om die wêreld te verander en wat ons kon doen. Ons wou rolprente en dokumentêre saam met ons vriende maak om ’n platform te skep waar ons ons idees kan verkondig. Om ’n soort sentrum te skep waar ons ’n groot gemeen­skap visioenêre kon betrek.

“Ons wou LSD in die watertoevoer sit sodat almal dieselfde ervaring het en verandering aanmoedig.”

Die bloudruk was Big Paul se plesierpaleis in Marokko, waar ’n uitsonderlike en losbandige groep – onder meer die Rolling Stones en Marlon Brando – uitgehang het. Die groot, uitgestrekte palazzo in Marrakesj het Little Paul bloot­gestel aan ’n teenkultuur waar dwelms en seks altyd op die spyskaart was.

“Paul het dit beskryf as die gelukkigste tyd van sy lewe,” vertel Gisela.

Ontvoering: 'n Plan uit (geld-)nood saamgeflans?

Die probleem was dat hulle ouwêreldse geld nodig gehad het om hul nuwe wêreld te bou.

“Eendag het Paul gesê: ‘Ek het met mense gepraat. Ek het ’n idee om myself te laat ontvoer en dan ’n plek in Marokko te kry.’ Hy het gesê: ‘Ek sal nooit weer hieroor praat nie. Julle mag dit aan niemand noem nie.’ ”

Toe hulle vir Jutta vertel, was sy onwrikbaar teen die plan gekant.

“Paul het gesê: ‘Ek is sy gunstelingkleinseun. Dit sal alles in ’n kwessie van ’n week of wat verby wees.’ Ons het getwyfel, maar het ook van die idee begin hou. Ons het dit egter nie juis ernstig opgeneem nie. Ek dink nie Paul het dit eens ernstig op­geneem nie.”

Maar die probleem was een deel van Paul se vriendekring.

“Marcello het duidelik die malavita genader.” Die malavita was Rome se Mafia.

“Hulle was sy vriende,” sê sy.

“Hulle het na die woonstel gekom en dwelms gebring en hy het klein ooreenkomste met hulle aangegaan. Hy het skilderye gemaak en dit vir die malavita gegee in ruil vir dwelms.”

Toe Gisela en Jutta na geld soek vir ’n “guerrilla-rolprent” gegrond op werk van Oscar Wilde, het hulle ’n boodskap van Paul gekry dat Ciambellone, ’n Mafiabaas wat hulle geken het, bereid was om die geld voor te skiet. Hulle het toe na ’n ontmoeting saam met hom gegaan.

“Ons het by ’n klein woonstel met een vertrek, rooi mure en ’n reusebed aan­gekom. Ciambellone het skuins op die bed gesit saam met Marcello, Paul en 10 ander ouens wat ons nie geken het nie,” vertel sy.

“Paul en Marcello het geloop en ons het gesien hoe hulle die deure toemaak. Ons het gedink dit was vreemd, maar ons was nie bang nie, want ons het Ciambellone geken.

“Ciambellone het vir ons ’n rol note gegee en gevra ons moet hom die storie vertel. Toe raak die hele situasie vreemd.

“Hulle het al hul klere behalwe hul onderklere begin uittrek, hulself met dwelms begin inspuit en pornoflieks aangesit. Ons het toe nog nooit porno gesien nie. Hulle het ons aangesê om dit te kyk. Ons het geweier, maar hulle het aangedring.

“Hulle het ons twee dae lank aan­gehou. Hulle het kokaïen gesnuif. Party van die mans wou ons verkrag.”

Die tweeling het dit later reggekry om te ontsnap, en toe Gisela met Paul herenig is, het sy geëis dat hy alle kontak met die bendelede verbreek.

“Die ontvoeringidee is nooit genoem nie,” sê sy.

“Ek het gedink dit was net dwaasheid. Maar Paul was paranoïes en elke aand het twee ouens buite ons nuwe woonstel gewag.”

Die ja-woord, toe verdwyn hy

Die paranoia het nie verhoed dat Paul Gisela in Julie 1973 by die Piazza Navona gevra het om te trou nie. Sy het ja gesê. Dit was die laaste keer in vyf maande dat die jong verliefdes mekaar gesien het. Paul het in die vroeë oggendure van 10 Julie in die Piazza Farnese in Rome verdwyn.

Eers het Gisela en Jutta deur die strate van Rome gesoek, maar ná twee dae het hulle Paul se ma omtrent sy verdwyning ingelig.

Gail het dit nie ernstig opgeneem nie. Gisela het nie vir haar gesê Paul het die idee van sy eie ontvoering geopper nie. Hulle het ook nie die polisie genader nie.

“Dit was ’n groot dilemma. Het hy dit self gereël? Kon ons hom in die gevaar stel? Ons het nie gedink mense sou verstaan nie. Ons het gehoop Paul het dit gedoen en iets goeds sou daarvan kom. Ons kon nie sy plan opneuk nie.”

Wat ontvou het, was ’n tragiese klug, met Paul se miljardêr­oupa wat geweier het om ’n sent te betaal en sy kluisenaarpa wat hom aan die situasie onttrek het.

Dis aan Gail (met die hulp van ’n voormalige agent van die Amerikaanse Intelligensiediens) en die Italiaanse polisie oorgelaat om te probeer uitpluis wat regtig gebeur het – en wie vir die ontvoering verantwoordelik was.

In November 1973 is ’n lok rooi hare en die oor van ’n mens in ’n koevert by ’n Italiaanse koerant afgelewer. Die dreigement dat nog stukke van Paul Getty afgelewer sou word, het J. Paul Getty en sy seun, Big Paul, gedwing om aandag te gee.

'Betaal terug'

Al het die oorspronklike losprysbrief sowat R12 miljoen geëis, het oupa Getty net sowat R1,5 miljoen opgedok – die maksimum bedrag wat belastingaftrekbaar was – en nog sowat R700 000 aan sy seun geleen, met die voorwaarde dat hy dit met 4% rente terugbetaal.

Little Paul is op 15 Desember 1973 op ’n hoofweg sowat 200 km suid van Napels gekry. Dit blyk hy is in ’n grot in die suide van Italië aangehou. Gisela is met hom herenig in ’n kliniek waar hy behandel is. Hier het hy die indruk gewek dat hy geestelik sterk is.

Nege mans is weens sy ontvoering in hegtenis geneem, maar net twee is skuldig bevind. Paul is deur sy oupa vermy en het in die nasleep van die ontvoering ’n uitval met sy pa gehad.

Sy enigste troos was sy troue in Toskane nege maande later toe Gisela reeds hoogswanger met Balthazar (nou 44 en bekend as 'n akteur) was.

Amper ’n halfeeu later probeer Gisela steeds verstaan wat gebeur het en hoekom.

Sy sê: “Nadat Paul vrygelaat is, het hy nooit met enigiemand gepraat oor hoekom dit gebeur het nie. Hy het oor sy ­ervarings gepraat, maar nooit gesê of hy betrokke was of nie of wie die mense was nie. Niks. Ek dink Paul het met die malavita gepraat en in 'n mate gedink dis 'n goeie idee.

Jy kan nie die Mafia verlaat nie; jy moet jou woord hou.

“Danny Boyle sê Paul het geld geskuld en dat ons rekeninge opgehoop het. Maar dit was nie so nie. Toe maak hy ’n toneel op waar Paul vir Ciambellone sê: ‘Jy kan my ontvoer en die geld by my oupa kry.’

“Ek dink Paul het die ontvoer-idee laat vaar, maar hy was reeds so betrokke dat hy nie kom uitkom nie. Hulle het waar­skynlik vir Paul gesê: ‘Jy kan nie die Mafia verlaat nie; jy moet jou woord hou.’

“Ek dink hy is teen sy sin ontvoer. Dalk is dit hoekom hy so paranoïes was. Hulle het vir hom gesê: ‘Jy gaan jou kant van die ooreenkoms moet nakom.’ Maar ek kan net die agtergrond gee.”

In die weke voor die ontvoering het Gisela en Paul agtergekom hulle word agtervolg en dopgehou, al het hulle nou in ’n ander woonstel gewoon. Paul het ál meer paranoïes geword.

“Uit die oogpunt van die sinici was ons dwaas,” sê sy.

“Ons wou iets beters met die geld doen as wat hulle gedoen het – om ’n beter wêreld te skep, maar dit het ons in die moeilikheid laat beland. Dit was ons fout om te dink ons kon geld en mag in die ou wêreld gebruik om die nuwe wêreld te finansier. Ons het daarvoor betaal.”

Ridley Scott se rolprent sowel as Danny Boyle se reeks probeer die ontvoering verklaar, maar terwyl Ridley die kwessie van medepligtigheid grootliks vermy, doen Danny dit nie. Gisela het bedenkings oor albei weergawes.

“Ridley beeld Paul as ’n slagoffer uit,” sê sy.

“Maar hy was nie en sou daarteen geveg het, want hy was altyd baie trots daarop dat hy enigiets kon vermag. ’n Mens verstaan nie die hele storie nie, want Ridley laat daardie kant van hom heeltemal uit.”

Danny sluit wel die tweeling in.

“Maar ek voel ons is as twee flerries uitgebeeld. Daar is ’n gebrek aan kompleksiteit. Dis alles baie eendimensioneel en ’n cliché.”

Wat die waarheid oor die ontvoering ook al was, Paul en Gisela moes die breekspul herstel.

“Ná die ontvoering het ons geweet die somer van liefde is verby. Ons was in ’n trauma vasgevang: Wat gaan gebeur, hoe kan ons aanhou liefhê, hoe kan ons met ons visies voortgaan? Ons is seer­gemaak deur die ontvoering en het al die idees laat vaar wat ons voorheen gehad het.”

Toe Paul in heroïen vertroosting vind, was die koeël deur die kerk.

“Hy kon nie geluk vind nie,” sê Gisela.

“Paul het homself vernietig, want hy kon nie na die ou stelsel terugkeer wat hy nie as waardig beskou het nie. Hy het net ­geweld in daardie wêreld beleef.

“In sy briewe wat hy tydens die ontvoering geskryf het, vra hy: ‘Hoekom verlaat julle my?’ Sy oupa en pa het nie betaal nie, dit het baie lank gevat; die ontvoerders het sy oor afgesny; hy is gemartel, getraumatiseer.

Toe Paul eindelik vry­gelaat is, was hy een van sy ore kwyt. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Sy familie het hom duidelik in dié haglike toestande gelos. Dit maak nie saak of hy daarvan deel was nie. Dit was ’n tragiese ervaring.”

Paul, Gisela en haar dogter, Anna, het later na Los Angeles getrek, waar Balthazar gebore is. Maar die huwelik het verbrokkel lank voor Paul in 1981 die do­delike mengsel van dwelms en drank ingeneem het wat ’n beroerte veroorsaak het.

Hy was daarna ’n kwadrupleeg, deels blind en kon nie praat nie. Hy is in 2011 in Engeland dood.

Gisela sê Paul het aanvaar dat hy ’n kwadrupleeg was.

“Ek het altyd met hom daaroor gepraat,” sê sy.

“Dit het hom uitgehaal uit ’n wrede wêreld wat hom kwaad aan­gedoen het.” 

© Adam Luck / The Sunday Time Magazine / News Syndication