In 1995 was dit in die Ellispark-rugbystadion in Johannesburg dat wyle pres. Nelson Mandela en die Bokkaptein Francois Pienaar die harte van ’n nasie gelig het deur die Wêreldbekerrugbytrofee saam omhoog te hou. 

En nou, 25 jaar ná ons eerste demokratiese verkiesing in 1994, het pres. Cyril Ramaphosa op die ewe ikoniese Loftus Versfeld in Pretoria vir ons sy droom van ’n “nuwe daeraad” verwoord – ’n daeraad wat die donker skaduwees van staats­kaping moet verdryf. 

Met sy inhuldiging agter die rug het die land asem opgehou vir die aankondiging oor sy nuwe kabinet.

Sou Ramaphosa van die vrot appels van die vernietigende Jacob Zuma-presidentskap ontslae raak? Sou ons ’n toegewyde kabinet kry wat waarlik ’n nuwe daeraad inlui? 

Ja en nee. Dis ’n kabinet van kompromisse – een wat aandui hy wil verandering bring, maar het steeds nie heeltemal die oorhand in die interne ANC-magstryd teen oorblywende lede van die Zuma-faksie nie. 

“Dit lyk soos roereiers,” meen die politieke kommentator Barney Mthombothi. “Dis nóg vis nóg vlees.”

“Ramaphosa probeer klein treë vorentoe neem sonder om enige ANC-faksies te vervreem"

Daar is vooraf bespiegel Ramaphosa sou die kabinet snoei om koste te bespaar, en daar is nou 28 ministers pleks van die 36 van voorheen. Adjunkministers is van 37 tot 34 verminder. 

Maar daar is nou meer adjunkministers in verhouding tot ministers as in die Zuma-jare, sê Lukhona Mnguni, politieke ontleder en navorser aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. Hy verduidelik Ramaphosa gebruik adjunkministersposte om ANC-faksies te paai. 

David Mahlobo is byvoorbeeld verlede jaar afgedank as minister van energie, “maar is terug as adjunkminister van menslike hulpbronne”.

Ook die politieke kommentator Justice Malala beaam: “Ramaphosa probeer klein treë vorentoe neem sonder om enige ANC-faksies te vervreem.”

Die feit dat sekere departemente nou twee adjunkministers het, “beteken Ramaphosa het nie weggedoen met die burokratiese oormaat soos beloof nie”, sê die politieke ontleder Sanusha Naidu.

Maar al het die regering “ ’n paar honderd miljoen” gespaar met ’n kleiner kabinet, is dit ’n “druppel in die oseaan”, benadruk die ekonoom Dawie Roodt. 

Hy verduidelik die staat se groot uitgawes word bestee aan onder meer gesondheidsorg en onderwys, nie aan die salarise van ministers nie.

“Die politieke werklikheid is dat hy sy teenwoordigheid moes laat geld en kabinetsposte as ’n lojaliteitsbeloning gebruik,” sê Dawie. 

En hoe meer mense die president aan sy kant het, hoe beter is sy kans om die land reg te ruk.

Sy slim aanstellings

Tito Mboweni, minister van finansies

begroting,toespraak,geld
Tito Mboweni. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Hy is die beste man om die land se geldkoffers te bestuur en vertroue onder buitelandse beleggers te skep, meen ons kenners. Sanusha beskou sy aanstelling as ’n “Ramaphosa-triomf”. Die president het onderhandel om hom weer aan te stel en elders ’n kompromis aangegaan.  

Bheki Cele, minister van polisie 

regering,bheki cele
Bheki Cele. Foto: Gallo Images

Cele is vertroud met die polisie ná twee jaar as nasionale polisiekommissaris en die aanvang van sy ministerstermyn aan die begin van 2018, sê Gareth Newham, hoof van geregtigheid en geweldsvoorkoming by die Instituut vir Sekerheidstudies.

“Dis ’n positiewe besluit, want hy hoef nie sy voete te vind nie en kan dadelik ’n hervormingsplan begin.”

Hy moet korrupte generaals vervang met bekame manne en vroue met integriteit. “Vernuwing op topvlak is nodig sodat die polisie kan verbeter.”

Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling 

thoko didiza,regering
Thoko Didiza. Foto: Regering

Dié veteraan se terugkeer is wyd verwelkom. Tussen 1994 en 1999 was sy die adjunkminister van landbou; van 1999 tot 2006 minister van landbou en grondsake.

“Gegewe die onstuimige tyd waardeur die landbousektor tans worstel, het die land iemand met haar kalmte, wysheid, ervaring en kontakte nodig,” meen Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz.

Agri SA sê: “Didiza word wyd erken as ’n senior politikus met ervaring van landbou- en grondsake wat beleid beslis kan bestuur.”

Pravin Gordhan , minister van openbare ondernemings

pravin gordhan,regering
Pravin Gordhan. Foto: Regering

Dis was onseker of hy in die pos sou aanbly ná die openbare beskermer se omstrede bevinding dat hy onregmatig vroeë aftrede aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens-beampte Ivan Pillay toegestaan het. Die bevinding word wyd bevraagteken.

Volpunte aan Ramaphosa, sê Barney. Gordhan is een van die min bevoegde ministers in die land, en die openbare beskermer se verslag “is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie”.

Ramaphosa het ’n belangrike boodskap gestuur deur vir Gordhan te behou, sê Sanusha: “Ek is steeds die president en ek besluit oor die kabinet.”

Dit is Gordhan se taak om ons sukkelende staatsondernemings soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens en Eskom reg te ruk.

Sy omstrede keuses 

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys

angie motshekga
Angie Motshekga. Foto: Regering

Sy het tot dusver niks “skouspelagtigs” gedoen nie, maar word beloon met nog vyf jaar, sê Lukhona. “Dit stuur die boodskap dat hy nie ernstig is oor onderwys nie.”

Barney sê Suid-Afrikaanse skole is onder die swakste presteerders in Afrika – tog behou sy haar werk.

Blade Nzimande, minister van hoër-onderwys 

regering,blade nzimande
Blade Nzimande. Foto: Regering

Lukhona sê onder sy leiding was daar korrupsie by die sektorale onderwys-en-opleidingsowerheid (Seta) en “daar is nog baie waarvoor hy rekenskap moet gee. Sy aanstellings by universiteitsrade laat veel te wense oor.”

Fikile Mbalula, minister van vervoer 

regering,fikile mbalula
Fikile Mbalula. Foto: Regering

Hy het homself nog nooit as bekwaam bewys nie. As sportminister het hy sy posisie misbruik, sê Lukhona.

“Gaan Mbalula reis na bokswedstryde en sokkertoernooie onder die dekmantel van vervoernavorsing?”

Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake

gesondheid,minister,regering
Aaron Motsoaledi. Foto: Regering
 Onder hom het die departement van gesondheid van die een krisis na die ander gesteier, sê Barney. Nou word nog ’n beleërde departement aan sy leierskap toevertrou. “Motsoaledi is geheel en al ongeskik vir stellig die belangrikste werk wat ekonomiese beleid in die land betref,” sê die rubriekskrywer Peter Bruce.

Die geslepe adjunkpresident

adjunkpresident,regering,politiek
David Mabuza. Foto: Regering
 Daar is bespiegel dat David Mabuza die trekpas sou kry om plek te maak vir Naledi Pandor of Nkosazana Dlamini-Zuma as adjunkpresident. Ramaphosa en Mabuza kom nie goed oor die weg nie. 


Dawie glo om Mabuza as adjunkpresident te behou was ’n politieke skuif om sy vyande naby te hou.

“Maar dit was nie Ramaphosa se eerste keuse as aanstelling nie.”

Lukhona meen Mabuza was slim om die parlement te vra om sy inhuldiging as parlementslid uit te stel tot hy sy naam by die ANC-integriteitskomitee skoon kry nadat Ramaphosa hom vroeër daarvan beskuldig het dat hy “die integriteit van die ANC benadeel”.

Die oomblik toe hy wel die groen lig van die komitee kry en ingehuldig word, was Ramaphosa se hande afgekap. “Jy sal waarskynlik nie ’n enkele verslag kry wat sy naam skoonmaak nie,” sê Lukhona. “Maar omdat hy ingehuldig is, is dit nou maar so.”

Sanusha sê Mabuza speel ’n slinkse speletjie om by Cyril oor te neem as president. 

Die blink jong ster

regering
Ronald Lamola. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Op 36 is Ronald Lamola as nuwe hoof van justisie en korrektiewe dienste die jongste minister. Ronald het twee meestersgrade agter sy naam: een in korporatiewe reg en die ander in ekstratiewe bedryfswet­gewing. 

Hy het glo nee dankie gesê toe Rama­phosa hom in 2018 vra om as minister te dien, maar hierdie keer het hy ingestem. Ronald dien in verskeie direkies, in­sluitend dié van die Media Development and Diversity Agency en die nuwe SA ­Express.

Lawson Naidoo, sekretaris van die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet, sê hoewel die nuwe minister tekort skiet aan ervaring in die regering, is hy iemand wat vinnig leer. 

“Ek dink hy gaan ’n impak maak.”Hy voeg by die aanstelling is “uitstekend” en sê: “Hy is baie jonk, baie toegewyd, ken sy storie en kom uit ’n akademiese agtergrond.”

Lamola bring energie en ’n vars perspektief na die justisie-portefeulje, sê Gareth. “Hy het ’n regspraktyk bestuur en is dus vertroud met die gereg en die howe in Suid-Afrika.” 

Sy adjunk, John Jefferies, het voorheen dieselfde pos beklee en sal Lamola vinnig touwys kan maak, sê hy.

“Lamola se belangrikste en dringendste take sal wees om bykomende geld vir die nasionale vervolgingsgesag te verkry om sy 20% ongevulde poste met gepaste kandidate te vul,” meen Gareth.

“Lamola is ’n natuurlike keuse, veral om oor die Ramaphosa-skoonmaak­proses toesig te hou,” sê ’n bron binne die ANC se nasionale uitvoerende komitee aan die Mail & Guardian. “Hy is ’n doener en die president vertrou hom.”

SA se nuwe huisdokter 

Zweli Mkhize,regering
Zweli Mkhize. Foto: Regering

Zweli Mkhize, ons nuwe minister van gesondheid, is self ’n gekwalifiseerde dokter en het in openbare hospitale gewerk voor hy sy privaat praktyk in 1991 in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, geopen het. 

Hy het omvattende ervaring in provinsiale en nasionale politiek en was van Februarie 2018 tot Mei 2019 minister van samewerkende regering en tradisionele sake. Zweli het ook as LUR vir gesondheid en finansies in KwaZulu-Natal gedien en was KZN-premier van 2009 tot 2013.

Umunyana Rugege, direkteur van die waghondorganisasie Section 27, sê sy organisasie, wat bemoei is met openbare dienste, sien daarna uit om met Mkhize te vergader oor gesondheidskwessies.

“Dr. Mkhize moet dringend toesien dat daar ’n goeie strategie vir menslike hulpbronne asook gesondheidsorg­infrakstruktuur in die sektor is.”

Hy moet aandag skenk aan korrupsie en gekwalifiseerde en toegewyde mense aanstel, sê Umunyana.

Aunty Pat is terug 

politiek,patricia de lille
Patricia de Lille. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die grootste verrassing was die formidabele Patricia de Lille se insluiting in die kabinet as minister van openbare werke. 

Die voormalige DA-politikus en leier van die splinternuwe Good Party het 3% van die stemme in die Wes-Kaap gekry en sodoende ’n setel in die parlement gekry. En nou is sy boonop ’n kabinetslid. 

Dit het haar onkant gevang, het De Lille teenoor hoofregter Mogoeng Mogoeng erken toe sy ingehuldig is.“Het jy dit sien kom?” het hy aan haar gefluister.

“Nee. Ek was geskok,” het sy ewe saggies geantwoord. “Dit gaan interessant wees om te sien hoe dit ontvou,” sê Sanusha. “Ek dink sy gaan die DA en die munisipaliteite wat hulle bestuur se sake behoorlik werk.”

Sy het ’n kritieke portefeulje wat betref dienslewering in munisipaliteite, sê Sanusha. 

Lukhona glo dit was ’n slim skuif van Ramaphosa. “As jy ’n minister aanstel wat nie ’n lid van die ANC is nie, en dus nie “comrade-vriendelik” vir enige faksie is nie, maak jy dit moeilik vir mense om toegang tot haar te kry. Dit was ’n goeie aanstelling, maar hoe lank dit gaan hou, is ’n ander storie.

“Dit het baie mense in die ANC ontstel. Dis ’n baie belangrike werk. Elke staats­departement is ’n kliënt van openbare werke, of dit is om behuising te huur, kantore te bou of huur, brûe en dies meer te bou . . . 

“Sy gaan omtrent haar storie moet ken,” sê Lukhona. 

Ekstra bronne: Bloomberg, M&G, Presidency, Sunday Times, Times Select
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.