Nou het dit bekend geword van die inligting wat aan die twee vroue se familie verskaf is, halwe inligting is . . .

Tot in April vanjaar is geglo die oorskot wat einde Desember in 'n streepsak in 'n oop stuk veld gevind is, was dié van Joey en dat daar nog na Anisha se oorskot gesoek word.

Maar nou is bevind die beendere waarop DNS-toetse gedoen is, dié van Anisha, Joey se lewensmaat, is, sê die ondersoekbeampte, ao. Mpeile Talane.

Joey se familie is Vrydag ingelig dat die polisie ’n fout gemaak het en dit nie Joey se beendere is nie, maar dié van Anisha.

Verdwyn

Joey en Anisha het op 10 Desember 2017 verdwyn. Hulle was veronderstel om van hul plaas in Mooinooi na Pretoria te ry nadat Joey se pa, Kallie Erasmus, op 4 Desember oorlede is. Die egpaar se uitgebrande motor is naby Magaliesburg gekry.

’n Man wat sy duikkloponderneming op die Van Niekerks se plaas bedryf het, is saam met vyf ander mans en twee vroue in hegtenis geneem in verband met die vroue se verdwyning en moorde. Omdat hulle van verkragting aangekla word, mag hulle ingevolge die Strafproseswet nie geïdentifiseer word voordat hulle gepleit het nie.

Die staat voer aan die “baasbrein” agter die moorde wou die Van Niekerks se plaas wou hê. Albei slagoffers is na bewering ontvoer, aangerand, beroof, verkrag en gedwing om ’n koopkontrak te teken voor hulle glo gehang is.

Volgens Willem was die byl "skerp genoeg om deur 'n tuinslang te sny". Foto: Onkgopotse Koloti.
Die huis waar Willem saam met die sogenaamde meesterbrein en sy gesin gewoon het. Foto: Sharon Seretlo.

“Die ondersoek duur voort en ons gaan nog toetse op die res van die beendere doen om te bepaal of dit nie dié van Joey is nie,” sê Talane.

Hy sê hulle kon nog nie bepaal of die oorskot dié van net een of twee persone is nie.

Drie van die beskuldigdes, die vermeende “baasbrein” se 21-jarige vrou, sy 28-jarige seun en dié se 18-jarige meisie het op 26 April borgtog gekry. Die res van die beskuldigdes is nog in aanhouding.

Die man wat die saag en byl gekoop het

Een van die mense wat die twee vroue sover bekend die laaste voor hul verdwyning gesien het, is Willem Smith (36).

Hy het saam met vier van die agt beskuldigdes op die eiendom gewoon waar Joey en Anisha na bewering vermoor is.

Willem het ook twee van die vermeende baasbrein agter die moorde se minderjarige kinders, 'n 9-jarige en 14-jarige seun, op dié kleinhoewe opgepas en ander los werkies vir hom gedoen.

Hy beweer die man het hom die oggend van die egpaar se verdwyning gevra om ’n byl en ystersaag op die dorp te gaan koop — “ ’n ligte maar sterk byl, een wat sal hou,” het hy in Februarie aan Huisgenoot gesê.

Hy het gedink die byl is vir houtkap op die plot en die saag vir werk by die paneelklopper. Die “baasbrein” se vrou het volgens hom saamgery toe hy dit gaan koop het.

“Later die Sondagoggend het (die man) en ’n paar van die ouens daai byl vlymskerp gemaak,” vertel Willem.

“Dit was so skerp, dit kon ’n tuinslang sny.”

— Carla Coetzee