Die blondekop kleuter se lewe het op 25 Oktober 2016 op ’n plaas buite Brits, Noordwes, tragies tot ’n einde gekom toe haar ma Louisa Koekemoer en haar man Kobus haar aangerand het. 

Louisa en Kobus is in Mei 2018 lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op Poppie. 

“Hier was vir my ’n passie-projek,” vertel Francois Nolte, regisseur van die rolprent. 

“Ek het die rolprent self befonds omdat ek gevoel het dit is belangrik om Poppie se storie te vertel.” 

Die kortfilm, Porselein, volg die speurder, Johan Bezuidenhout (Staan Bam), terwyl hy die gebeure rondom Poppie se grusame dood moet probeer ontrafel. 

Poppie
Porselein wys by die kykNET-Silwerskermfees in Kaapstad. Foto: Verskaf

“Dié fliek beklemtoon hoe die stelsel ’n weerlose dogtertjie gefaal het. Die plek waar Poppie die veiligste moes wees, is die plek waar sy uiteindelik vermoor is.” 

Francois, wat self twee kinders het, sê dit was vir hom en baie van die mense op die stel ’n baie intense en swaar proses om die rolprent te maak. 

“Dit was emosioneel uitputtend om die rolprent te maak, veral as jy begin dink dit kon jou kinders gewees het.” 

Hy meen dit is belangrik om ’n klein dogtertjie soos Poppie se verhaal te vertel. 

“Dit is ons verantwoordelikheid as storievertellers om die onreg in die wêreld uit te wys. As daar meer hulpbronne was, as mense ingegryp het, sou dié blondekop dogtertjie die kans gehad het op ’n regverdige lewe.”  

Francois verklap ook dat hy beplan om van Porselein ’n vollengte film te maak. 

  • Die kykNET-Silwerskermfees vind van 21 tot 24 Augustus by The Bay Hotel in Kampsbaai plaas.