Maar twee jaar ná Lunelle se lewe onherroeplik verander het, het sy ’n nuwe liefde in haar lewe en probeer sy vorentoe kyk.

Sy mis en rou steeds oor Danie Breytenbach (33), Melisha (4) en Duncan (8) en haar eie seun Luan (16). Lunelle was die enigste wat dié gru-ongeluk oorleef het danksy haar veiligheidsgordel wat vas was.  

“My slagspreuk in die lewe nou is moenie ’n vraagteken sit waar God ’n punt sit nie. Dit is moeilik om soms sy besluite te aanvaar maar ek werk elke dag daaraan,” sê Lunelle aan Huisgenoot.

Sowat ’n jaar gelede sy Johann Viljoen ontmoet en sy het ’n tweede kans op die liefde gekry. Hy help haar baie om nie te veel terug te kyk na al die seer van die verlede nie.

“Ek was glad nie op die uitkyk daarvoor nie. Glad nie, maar Johann het oor my pad gekom en hy is presies reg vir my,” vertel die tingerige donkerkop.

Johann, ’n fiksheidsinstrukteur, ondersteun haar goed. Daar is baie dinge aan hom wat haar aan haar liefste Luan herinner. Soos die manier waarop hulle oor dinge dink en dat hulle albei gek is oor oefening.

“Hy laat my huil as ek moet huil en lag wanneer ek moet lag. Ek het vir my sussies gesê as daar ooit weer iemand oor my pad kom, moet hy nie kinders hê nie. Gelukkig het Johann nie kinders nie. Ek kan nie weer . . . Ek het nie plek in my hart daarvoor nie,” sê sy.

Lunelle sê Melisha en Duncan was soos haar eie kinders.

Lunelle het 'n gedenkhoekie in haar huis en elke maand op Luan se dood se herdenking steek sy vir hom 'n kers aan. Foto verskaf
Lunelle het 'n gedenkhoekie in haar huis en elke maand op Luan se dood se herdenking steek sy vir hom 'n kers aan. Foto verskaf

“Elke keer as ek my grimering aan sit, dink ek aan klein Melisha. Sy was gek daaroor en wou ook haar eie doen. Sy het dan gesê sy wil soos ek lyk,” vertel Lunelle.

Maar dit is veral Luan oor wie Lunelle steeds elke dag rou. In haar huis in Heidelberg, Gauteng, is daar ’n spesiale herdenkingshoekie ter nagedagtenis aan hom.

Elke maand op die derde steek sy ’n kers aan vir haar enigste biologiese kind.  

“Daar is dae wat dit maar nog baie moeilik is maar daar is ’n lig aan die einde van die tonnel. Ek sou nooit deur hierdie moeilike tyd gekom het as dit nie vir my familie was nie,” sê sy.

’n Tweede tragedie

Lunelle het ook vanjaar haar ma, Nellie aan die dood af gestaan.
Lunelle het ook vanjaar haar ma, Nellie aan die dood af gestaan. Foto verskaf

Nog ’n tragedie het egter die familie vanjaar getref.

Die matriarg, Lunelle se ma, Nellie Lourens (63) is skielik dood ná ’n maagsweer gebars en haar liggaam in septiese skok gegaan het.

“Dit was weer verskriklik moeilik. Ons het regtig twee baie slegte jare agter die rug, so 2020 kan net beter.

“Vanoggend, toe ek weer my sielkundige sien, het ons gepraat oor dié tyd van die jaar. Dit is, en gaan, vreeslik moeilik wees vir my. Maar ek hou moed en ek kyk op na Hom (God) vir leiding,” sê sy.

Sy sê die pyn om haar seun te verloor, gaan nooit weg nie.

“Ek weet egter my ma en Luan sit daar bo in die hemel en kyk af op ons. Darem is hulle nou by mekaar. Dit maak my hart rustiger.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.