Op Dinsdagaande is sy die smeulende blon- dine met lang krul- hare, donker lipstiffie en ernstige oë. Dan vertolk Trix Vivier die rol van Kate Myburgh, jongste dogter van ’n ryk bootbouer in die Kaapse Waterfront.

Maar toe sy die middag voor die première van die kykNET-dramareeks Waterfront ’n raserige koffierestaurant in die einste Waterfront binnestap, is haar grimering lig. En haar lang blonde hare hang reguit teen haar rug af.

“Dié plek was maande lank my kantoor,” gesels Trix (29) nadat sy ’n dubbel- latte en vonkelwater bestel het.

Byna drie maande lank het sy elke dag gery van haar en haar man, Frans Hiemstra (30), se huis in Vredehoek in die Kaapse stadskom na die Waterfront, waar die reeks verfilm is.

Die 12-uur-dag op die stel het altyd in die grimeerstoel begin. Dan is die 56 noedelkrullers ook uitgehaal waarmee sy die vorige aand haar hare ingedraai het. “Dit het elke aand omtrent ’n driekwartier geduur om my hare so in te draai. Kate se hare is krullerig,” verduidelik Trix, en beduie met haar hande.

Trix moes haar hare elke aand met krullers indraai om soos haar karakter te lyk.

Sy was al op die kassie te sien: in die kykNET-dramareeks Sterlopers en onlangs in klein rolletjies in Die Boekklub en Die Boland Moorde, ook op kykNET.

Maar Waterfront is haar eerste hoofrol in ’n dramareeks, en sy word nou beskou as ’n nuwe ster om dop te hou.

Die reeks handel oor ’n familietragedie wat drie susters terugneem na die plek van hul kinderdae, die V&A Waterfront. Weens die tragedie word duister familiegeheime oopgevlek. Al het Trix die kans om daarin te speel met albei hande aangegryp, het haar senuwees aan die begin amper die oorhand gekry.

“Toe ek in Junie by die vervaardigers se kantoor opdaag vir ’n repetisie, het al die akteurs om so ’n lang tafel gesit,” vertel sy met groen oë wat blink.

Gesoute spelers soos Neels van Jaarsveld, Dawid Minnaar, Stian Bam, Rolanda Marais en Milan Murray tree saam met haar in Waterfront op.

“Ek het in die deur gestaan en gedink ek gaan omdraai en huis toe gaan. Voor my was al die akteurs saam met wie ek nog altyd graag wou werk. Dit was so oorweldigend om te dink: ‘Sjoe, kyk waar staan jy!’ Ek wou elke liewe oomblik inneem.”

Sy en haar karakter in Waterfront verskil in baie opsigte van mekaar. Trix kom byvoorbeeld uit ’n gelukkige gesin, anders as Kate, wat worstel met haar soeke na aanvaarding en erkenning. Tog kon sy raakpunte tussen hulle vind. “Ek dink die soeke na ware liefde en iemand wat onvoorwaardelik lief is vir jou is iets wat ons gemeen het, hoewel ek nie so erg soos Kate daarna moes soek nie,” sê Trix, wat al byna twee jaar gelukkig getroud is.

Trix op die stel in die Waterfront in Kaapstad.

“Ook die soeke na standvastigheid.”

Sy en Kate is albei spontaan en verpes leuens. Nes Trix is haar karakter een van drie dogters, maar Trix is die ousus, terwyl Kate die laatlam is wat by haar ouer susters om hulp en raad aanklop. Dit was vir haar een van die uitdagings van die rol, want as ousus was sy “die een wat alles moes organiseer en na my jonger susters moes luister”, verduidelik sy.

Haar suster Lea Vivier (25) is ook ’n aktrise en is in Augustus op die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad, vir haar rol in die fliek Wonderlus bekroon. Hul kleinsus, Meije Vivier (20), is ’n mediese student aan die Universiteit Stellenbosch.

Hulle het ook ’n broer, Herman Vivier (32), wat sy eie toerisme- onderneming bedryf. Haar grootwordjare op Melkbosstrand net buite Kaapstad was gelukkig, sorgeloos en propvol dansklasse, konserte, kunswedstryde en -flieks. Haar ma, Adri (56), het ’n dramaskool op Melkbosstrand gehad.

Haar suster, Lea, is ook ’n aktrise.

“Sy is ’n baie kreatiewe mens en ons het altyd konsert gehou,” onthou Trix. Pa Pieter (58) is ’n senior advokaat. “Maar hy het ’n paar killer dance moves,” sê sy en lag spontaan. “Ek dink ek kry dit eintlik by hom,” skerts sy.

Op vier het sy al met ballet begin.

Haar ouers het die kinders altyd saamgeneem wanneer hulle na kunsflieks gaan kyk het.

“Ons het films met onderskrifte gekyk. Ek het dit gehaat. Dan kom ek by die huis en my maatjies wat na flieks soos Ice Princess of Pocahontas gaan kyk het, vra wat ons gesien het.”

Dan moes sy die kunsrolprente se ingewikkelde intriges aan hulle probeer verduidelik. Vandag is sy gaande oor dié soort prente. “Ek gaan na die Labia-teater, koop vir my ’n cappuccino en kyk na Meryl Streep of Judi Dench,” sê Trix, wat droom van ’n rol in ’n buitelandse fliek.

Op skool aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad, wat ook vermaaksterre soos Laurika Rauch, Johan Stemmet en Joanie Combrink opgelewer het, het sy begin toneelspeel.

Sy het ook ses dae per week gedans, van ballet tot klopdanse. “Ek was ’n pynlike presteerder,” erken sy effens verleë. 

“As ek my tienerself nou kon gesien het, sou ek vir haar gesê het om ’n chill pill te drink, want alles gaan nie oor punte nie.”

Sy het die onderskeidings ingeryg en matriek met ’n gemiddelde van 88% geslaag.

“Ek was ongelooflik gedrewe. Ek was mal oor elke skoolvak, en dans was ook iets waaroor ek regtig passievol was.”

Ná matriek het sy aan die Waterfront Theatre School ’n diploma in vertoonkuns verwerf. Daarna het sy op 20 sak en pak Johannesburg toe getrek. Sonder ’n agent of ’n sent op haar naam het sy by familie in die Goudstad gaan woon.

“Ek’t honderde oudisies afgelê. Ek’t baie in kinderteater gespeel, vir ’n kulkunstenaar gewerk en later aangesluit by ’n Duitse dansgeselskap wat in Turkye gebaseer was en op- getree het.”

Trix sê sy het oorsee geleer om op haarself staat te maak en selfstandig te wees.

“Daar was nie toe Skype of video- oproepe nie en die internet was toe nog baie stadig. Ek kon omtrent net een keer per maand met my ouers praat.”

Toe sy twee jaar later terugkom, het sy weer ’n ruk lank in kinderteater gewerk voor sy in 2013 die rol van Vicky in Sterlopers gekry het. “Dit het die bal aan die rol gekry,” sê sy met ’n glimlag.

In dieselfde jaar het sy haar aanstaande op ’n troue raakgeloop nadat ’n gemeenskaplike vriendin hulle die vorige jaar in die Kaap aan mekaar voorgestel het. Sy en Frans het toe albei in Johannesburg gewoon en kort daarna begin uitgaan. Twee weke voor hul troue in Desember 2015 het hulle Kaap toe getrek, waar hy werk aangebied is as bedryfshoof van die taxidiens Uber.

Sy speel teenoor gesoute akteurs soos Dawid Minnaar, Rolanda Marais en Milan Murray.

Al verskil hul werkomgewing hemelsbreed, vul hulle mekaar goed aan, meen Trix.

“Ek is maar ’n emotional roller coaster,” sê sy oor haar kunstenaarstemperament. “Iemand moet standvastig wees. As ons ’n roller coaster was, sou hy die pale gewees het wat alles regop hou en ek die karretjie,” skerts sy.

“Ons het ook al nuwe belangstellings by mekaar gekweek. Hy geniet dit om saam met my teaterstukke te gaan kyk, en ek het by hom leer diepseeduik.”

Wanneer sy ná ’n lang dag op die Waterfront-stel by die huis gekom het, het Frans reggestaan met ’n bord kos en ’n glas rooiwyn. Die twee gaan graag saam met hul basterbrakke, Bibi en Gus-tav, in die Kaapse berge draf. Hulle is gek oor reis en het ná die verfilming van Waterfront in die Maledive vakansie gehou.

Wat wag nou in haar loopbaan?

“As aktrise weet ’n mens nooit wat volgende oor jou pad kom nie,” sê Trix, wat klaar weer oudisies aflê vir ’n volgende rol. “Wanneer ’n kans opduik, benut jy dit ten volle,” voeg sy by.

“Ek dink ek absorbeer nou nog wat gebeur het, hoe ’n groot debuut Waterfront vir my was.”

  • Waterfront word Dinsdae om 20:00 op kykNET (kanaal 144) uitgesaai.