Dr. Wim de Beer (links) en dr. Zak Schabort wat vi
Dr. Wim de Beer (links) en dr. Zak Schabort wat vir Georgie se transformasie verantwoordelik was. Foto: Verskaf

Sy verhaal van verlies, geloof, deursettingsvermoë en ’n nuwe begin het mense twee jaar gelede aan die hart gegryp toe Georgie van Zyl, toe nog sonder tande, in die eerste seisoen van VIA (DStv-kanaal 147) se program Wraak my mooi verskyn het.

Nadat hy ’n nuwe stel skitterwit tande en ’n nuwe voorkoms voor die TV-kameras gekry het, het hy weer hoop vir die toekoms gehad.

Intussen het hartseer weer toegslaan: Hy het onlangs gehoor DNS-toetse het gewys die man wat hy gedink het sy biologiese pa is, is nie bloefamilie van hom nie. En dit nadat hulle mekaar in 2001 ontmoet het, en Georgie oortuig was hy het eindelik sy langverlore pa gevind.

Daarby het die gehoorgestremde Georgie (40) ook tydens die inperking sy werk by ’n lodge in Hectorspruit verloor.

Soos die Bybelse Job sit hy nou in sak en as. Ook sy biologiese ma wat hy byna 20 jaar gelede met die hulp van Huisgenoot se susterstydskrif YOU opgesproor het, moes hy ’n paar jaar later aan die dood afstaan.

“Ek weet nie meer wie my pa is nie,” vertel Georgie via Messenger vanuit Mbombela, Mpumalanga. “Dis ’n hoofstuk in my lewe wat ek afsluit. Ek moet aangaan met die lewe. My eerste wonderwerk was 19 jaar gelede toe ek met my biologiese ma en familie herenig is.”

Sy biologiese ma, Dawn van Zyl, is in 2008 op 45 aan hartversaking oorlede. As 15-jarige tienerma moes sy Georgie destyds laat aanneem.  

Georgie en sy biologiese ma, Dawn, toe hulle met b
Georgie en sy biologiese ma, Dawn, toe hulle mekaar met die hulp van YOU ná twintig jaar weer gevind het in 2001. Foto: Argief

Hy was by pleegouers wat hom mishandel het, en sy grootste hartsbegeerte was om sy biologiese familie op te spoor. In 2001 het hy na die destydse rubriek “Desperately Seeking” in YOU geskryf, en gevra dat hulle hom moet kontak. Toe ’n 21-jarige familielid dit raakgelees, het Georgie se droom waar geword. 

“Daar het nie ’n dag verbygegaan dat ek nie aan hom gedink het en gewonder het watter soort man hy geword het nie,” het Dawn (toe 38) ná haar herontmoeting met haar seun vertel.

Maar een brokkie van die legkaart oor sy herkoms het nog ontbreek: Georgie wou ook sy biologiese pa opspoor. As tiener het hy inligting van kinderwelsyn gekry dat ’n man wat Portugese en Suid-Afrikaanse burgerskap het, moontlik sy biologiese pa is.

Sy biologiese ma was ook seker dat die man, wat toe al na Amerika emigreer het, Georgie se pa is nadat sy foto’s van hom gesien het. Weer het YOU se rubriek “Desperately Seeking” gehelp. Die man se swaer in Suid-Afrika het dit gelees en via e-pos met Georgie kontak gemaak.

Die man en sy dogter het Suid-Afrika toe gekom nadat ’n tante van Georgie hom laat weet het hy het dalk nog ’n seun in Suid-Afrika. In Desember 2001 het Georgie drie weke saam met die mense deurgebring wat hy geglo het sy familie aan vaderskant is.

Ná hul terugkeer na Amerika het hy kontak met hulle verloor. Toe, drie maande gelede, kry Georgie uit die bloute ’n e-pos van die man wat hy as sy pa beskou het.

Die man het vir ’n DNS-toets gevra en Georgie het ’n monster van sy weefsel wat hy met ’n oorstokkie aan die binnekant van sy mond afgeskraap het, stukkies van sy naels en hare in ’n klein koevertjie oorsee gestuur sodat vaderskap bewys kon word.

Hy hoor toe ná twee weke dat daar ’n kans van nul persent is dat die man sy biologiese pa kan wees. Daarna het die mense wat hy as sy familie bekou het, hulle aan hom onttrek.

“Ek kan hulle nie kwalik neem nie,” sê Georgie. Tog maak dit seer.

“Daar is nou niks wat ek kan doen om my onbekende pa te vind nie,” meen hy. “Ek moet dit aanvaar en uitsien na nog ’n nuwe begin en hoofstuk,” voeg hy moedig by.

Georgie van Zyl nadat hy deur die towenaars van Wr
Georgie van Zyl nadat hy deur die towenaars van “Wraak my mooi” onder hande geneem is.

Die selfvertroue wat hy danksy die oormaaksessie op die kassie in 2018 gekry het, is steeds daar.

“Ek is ’n nuutgebore persoon. Dit het my laat glimlag en my selfbeeld gepoets; kommunikasiegrense afgebreek en dit makliker gemaak om mense en kliënte te hoor,” sê Georgie wat van sy geboorte gehoorgestrem is en liplees.

Die tandelose Georgie het twee jaar gelede ’n gedaanteverwisseling voor die kameras ondergaan. Hy het sy tande verloor nadat hy ’n tandvleisinfeksie opgedoen het en sy mediese fonds nie vir die behandeling wou betaal nie. Hy het daarna sy lidmaatskap van die fonds gestaak en vir 12 jaar nie weer ’n tandarts besoek nie. Sy tande het in hierdie tyd heeltemal verbrokkel en uitgeval.

So lyk Georgie nou. Foto: Verskaf
So lyk Georgie nou. Foto: Verskaf

Een van die prosedures wat in Wraak my mooi op hom uitgevoer is, was inplantate om sy boonste en onderste tande te vervang. Sy vel is ook chemies afgeskilfer, en lip- en wangbeen-vullers het sy voorkoms verder verbeter.

Destyds het hy al vertel: “Ek sal altyd bly wees as mense wat my vir ’n lang tyd nie gesien het nie, my nou weer sien soos ek nou lyk. Al het ek oor die jare kontak met baie vriende verloor, het ek ook weer kontak gemaak met baie, en ek word omring deur liefdevolle mense.”

Georgie het 13 jaar lank by ’n private versekeringsmaatskappy in Randburg gewerk en is vier keer bevorder voor hy in 2013 weens herstrukturering afgelê is. Hy het daarna Kaapstad toe getrek en by ’n vriend in Parklands gebly en werk gesoek, maar sonder sukses. Hy was van Desember 2013 tot Julie 2017 werkloos.

Terug in Johannesburg het ’n vriend hom gehelp om ’n werk in Hectorspruit, Mpumalanga, as opmeter en algemene assistent by ’n lodge te kry

“Ek is nou al drie maande weer werkloos,” vertel Georgie. Hy het sy werk verloor nadat die inperkingsregulasies weens die covid-19-pandemie die toeristebedryf swaar getref het.

Tog, soos twee jaar gelede, bly hy vashou aan die moontlikheid van ’n uitkoms. Ondanks al die terugslae kan hy steeds vol selfvertroue vir die lewe glimlag.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe