In ’n nuwe studie is bevind die brein is vir ’n ruk aktief ná die dood – en dit beteken jy sal waarskynlik weet wanneer jy sterf.

Die studie is deur ’n span aan die New York-universiteit se Langone- mediese skool gedoen en volgens Mail Online is dit die grootste navorsingsprojek van sy soort.

Independent.co.uk berig wetenskaplikes aan die universiteit het pasiënte bestudeer wat ’n hartstilstand gehad het en bygebring is.

Die pasiënte is gevra om hul “amper-dood”-ervaring te beskryf. Talle het gesê hulle het die gesprekke van die mediese personeel om hulle gehoor, en sommige het selfs gedetailleerde beskrywings van die bewegings van mediese personeel in die vertrek gegee. Die pasiënte se weergawes het met dié van mediese en verpleegpersoneel aan diens ooreengestem.

Wanneer is iemand dus dood?

Volgens dr. Sam Parnia, een van die navorsers, word die dood in mediese terme beskryf as die oomblik wanneer die hart ophou klop en bloedvloei na die brein ophou.

“Tegnies gesproke is dit hoe jy die tyd van sterfte kry – dis alles gegrond op die oomblik wanneer die hart ophou klop,” sê Sam.

“Sodra dit gebeur, sirkuleer bloed nie meer na die brein nie, wat beteken breinfunksie word amper onmiddellik gestaak. Jy verloor al jou breinstamreflekse – jou braakrefleks, jou pupilrefleks, alles is weg.”

Dit beteken egter nie die brein verloor al sy funksionaliteit nie. Sam sê dit kan ’n paar uur duur voor al die breinselle doodgaan.

Die brein se serebrale korteks, wat verantwoordelik is vir denke en inligting van die vyf sintuie verwerk, sterf die oomblik as bloedvloei na die brein stop.

Dit veroorsaak dan ’n kettingreaksie van sellulêre prosesse wat stadig breinselle laat doodgaan, en soos Sam verduidelik, kan dit ure duur voor alle selle sterf; ure waartydens die liggaam leweloos, maar die brein steeds “lewend” is. 

Bronne: Daily Mail, NZherald.co.nz, Independent.co.uk