’n Mens se oë is die vensters na jou siel, lui die gesegde.

Maar steek daar enige waarheid in? Glo jy die beginsels van die nuwe sielkundeterapie brainspotting, is dit wel die geval.

Sielkundiges wat dié terapie toepas, gebruik dit om deur die retina in jou oog onverwerkte trauma tot in jou oerbrein na te spoor, waar dit, volgens hulle, verborge lê.

Ek sit in die spreekkamer van dr. Hermann Liebenberg, ’n sielkundige van Centurion, om die brainspotting-terapie as’t ware deur my eie oë te ervaar. Sielkundiges span dié terapie nou in om verborge trauma op te diep en jou dit te help verwerk.

Omdat die verskuilde pyn glo op ’n spesifieke kol in die brein “gevind” sal word – vandaar die naam brainspotting – en die terapie dan op dié plek fokus, lewer dit vinnig resultate, volgens die kenners wat dit aanhang.

“Nes ’n akkedis se stert wat afval om ’n roofdier se aandag af te lei,” vertel Hermann, “is jou liggaamselle geprogrammeer om trauma ter wille van oorlewing iewers in die lyf weg te bêre. Maar as dit jou aan bande lê, moet dit verwerk word.”

Hy is een van net 44 opgeleide praktiserende brainspotting-terapeute in Suid-Afrika.

Hermann span ’n wysstokkie in om die pasiënt se oë te volg en so te bepaal op watter kol in die brein die trauma gesetel is; vandaar die naam. Foto: Verskaf

Wêreldwyd is daar 13 000. Hermann en Marise Swart, ’n sielkundige van Pretoria, is al Suid-Afrikaners wat gevorderde opleiding in dié terapie in New York ontvang het by die skepper daarvan, dr. David Grand.

Hulle kan nou ander sielkundiges daarin oplei. Hermann haal ’n silwer wysstokkie uit, die soort waarmee ’n onderwyser iets op ’n bord sal uitwys. Hy gaan dit heen en weer in my gesigsveld beweeg, verduidelik hy.

“Volg die punt daarvan met jou oë. Wanneer ek op ’n punt kom waar ’n spesifieke emosionele of fisiologiese reaksie is, sal ek die reikwydte bepaal en jy sal my die spesifieke punt of punte help vind (waar die reaksie die sterkste is).”

Dit is volgens hom die “ingangspunt” in jou retina na die verborge emosies in jou oerbrein.

Dan plaas Hermann oorfone op my kop waardeur instrumentale musiek net-net hoorbaar is. Die klank beweeg van die een oor na die ander, maar volgens geen voorspelbare patroon nie.

“Dit stimuleer albei breinlobbe,” sê hy.

Nou is ek gereed om hierdie eiesoortige soort terapie te beproef . . .

Hermann sê ek moet aan iets dink wat ongemak in my lewe veroorsaak. Finansies, dink ek.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

“Watter prominente emosie kom by jou op?”

“Kommer,” erken ek.

“Is daar ’n plek in jou liggaam waar daardie emosie sterker voorkom?”

“Dit klink dalk weird,” antwoord ek, “maar in my linkeroor. Dis al lank bottoe.”

Ek volg die wysstokkie met my oë en ná vier minute sê Hermann: “Van hier af ervaar jy ’n hartseer emosie.

"En hier rond is sterk ongemak. Lei my nou na die punt waar jy dit die sterkste ervaar.”

“Daar,” stop ek hom. Die punt van die wysstokkie is sowat 10 cm van die linkerkant van my gesig.

“Laat jou gedagtes gaan,” sê Hermann. “Moenie nou daaruit probeer sin maak nie. Jou primitiewe brein het geen logiese of chronologiese volgorde nie.”

In die volgende vyf minute is dit ’n warboel gedagtes. Voortrekkerkampe, om die een of ander rede. Skoolgange. My pa op die kansel en in die hospitaal.

“Declined” wat op ’n OTM se skerm verskyn. ’

n Gekrap van syfers op ’n swartbord . . .

Ek kom nie eens agter nie dat my asemhaling versnel, my hande begin vroetel en my regterbeen beweeg, maar Hermann wys my agterna daarop.

“Dis alles sensoriese aktiwiteite wat geaktiveer is,” verduidelik hy.

“Wat ook al in hierdie spektrum (van die brein) was, het ’n regstreekse uitwerking op jou liggaam gehad. Wat het met die sensasie in jou linkeroor gebeur?”

“Dit voel steeds bottoe,” antwoord ek.

“Iets wat met jou gebeur het, het dus ’n sensasie in jou liggaamselle veroorsaak. Dalk ’n hou teen jou kop. Iets wat die brein nie bewustelik kan onthou nie.”

“Wat is daardie verborge trauma? En wat beteken al daardie beelde en my toe oor?” bly ek ná die sessie wonder.

Ek bel my ma en vertel van die swartbord en dat iemand my dalk teen my kop geklap het.

“Onthou jy nie daardie wiskundeonderwyseres wat julle so oor elke fout geslaan het nie?” vra sy.

Ek was in st. 1 (gr. 3) toe dit gebeur het. Dit het so erg geword dat my ouers my later uit haar klas gehaal het.

Daardie herinnerings het ek blokkeer, maar nou kom staan dit helder voor my.

“Het sy my teen die kop geklap?” vra ek.

“Dis moontlik,” sê my ma.

Hoe meer ek onthou, hoe minder raak die drukking in my linkeroor. Ná sowat twee jaar waarin ek af en toe daarmee gesukkel en my dokter geen verklaring daarvoor gehad het nie, is dit nou weg.

Kan dit regtig wees omdat ek daardie verborge trauma opgediep het?

Hermann het juis verduidelik die liggaam se reaksie vertel dikwels die “verhaal” wat die brein nie wil of kan nie omdat die herinnering te pynlik is.

Daarom word brainspotting, volgens hom, met groot sukses gebruik in gevalle van trauma, chroniese pyn weens fibromialgie en ander psigosomatiese siektes (dié wat deur emosies en die psige veroorsaak word).

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Hy wil hê alle Suid-Afrikaners moet toegang kry tot dié terapie as hulle dit nodig het, sê David Grant aan Huisgenoot uit München, waar hy gevorderde opleiding aan terapeute bied.

Die Amerikaanse traumakenner wat dit ontwikkel het, wil hê sy terapie moet help voorkom dat mense trauma weens jare van diskriminasie en geweld aan hul kinders of lewensmaats oordra, sê hy.

“Dis belangrik vir my om die kringloop van trauma te beëindig. Dis pynlik om te sien dat mense trauma probeer oplos met drankmisbruik of nog geweld.”

David vertel hy het ’n ander, ouer vorm van psigoterapie, Eye Movement Desensitisation and Repositioning (EMDR), gebruik toe hy ’n ontdekking doen wat hom op brainspotting se spoor gebring het.

EMDR behels dat terapeute hul vingers, klank of beelde gebruik om ’n pasiënt se oë heen en weer te laat beweeg. Dit ontlok soortgelyke breinaktiwiteite as in die slaapfase van vinnige oogbewegings wanneer ’n mens jou emosies in drome verwerk.

Toe David in 2003 dié tegniek toepas op ’n 16-jarige ysskaatser van Long Island, New York, het hy agtergekom sy toon sekere reaksies op sekere plekke op die lyn wat sy met haar oë volg.

“Sy kon elke drievoudige sprong doen,” vertel hy, “behalwe die verpligte drievoudige lus.

"Sy het aan ernstige prestasieangs gely. Ek het ’n jaar lank met haar gewerk; toe besef ek terwyl haar oë my vingers gevolg het, het dit begin wiebel toe my vinger op ’n plek aan die linkerkant van haar neusbrug was, en toe in ’n staar gevries.

“Ek het my vinger 11 minute lank daar gehou. Haar emosies het uitgestroom oor ’n traumatiese gebeurtenis in haar kinderjare. Binne 10 minute het meer gebeur as in die jaar van gereelde 90 minute lange sessies. Daarna kon sy die sprong sonder probleme uitvoer.”

Weke later, toe ek hierdie artikel finaliseer, is my linkeroor steeds oop.

Wat sê die kenners?

Brainspotting word nie in hierdie stadium as deel van die hoofstroomsielkunde in Suid-Afrika erken nie.

Die terapeute wat hierdie tegniek in Suid- Afrika toepas, is hoofsaaklik voorligting- en kliniese sielkundiges.

By navraag het Graeme Hayes van die Suid-Afrikaanse Kollege van Toegepaste Sielkunde in die Kaap gesê hul akademiese span wil eers navorsing doen voor hulle kommentaar lewer oor ’n terapie soos brainspotting.

Woordvoerders van die Sielkundevereniging van Suid-Afrika en van die Kliniesesielkundeforum wou om dieselfde rede nie kommentaar lewer nie.