Brandon Moolman voor die ongeluk. Foto: Verskaf
Brandon Moolman voor die ongeluk. Foto: Verskaf

Die jaar 2020 was veronderstel om ’n groot jaar vir die kranige hokkiespeler en -afrigter, Brandon Moolman (24) te wees. 

Maar dae nadat die goeie nuus gebreek het dat hy sy B.Com-graad in ekonomie en internasionale handel aan die Noordwes-universiteit geslaag het, het hy in die intensiewesorgeenheid van die Life Anncron-hospitaal in Klerksdorp gelê.

Brandon Moolman voor die ongeluk, wat sy lewe sou verander. Foto: Facebook

Nog heeltemal onbewus van wat met hom gebeur het en wat vir hom gaan voorlê.

Brandon, wat altyd met die nommer 6 op sy rug vir die Suid-Afrikaanse Bokkiespan (die junior SA skolespan) uitgedraf en hokkieafrigter aan sy alma mater die Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark was, was Saterdag 8 Augustus vir die langnaweek saam met ’n groep vriende by ’n oord naby Bothaville toe die tragedie gebeur het.

Brandon Moolman in aksie op die hokkieveld. Foto:
Brandon Moolman in aksie op die hokkieveld. Foto: Verskaf

Our hearts and prayers go out for Brandon Moolman, currently in hospital with a very serious back injury. We are keeping...

Posted by NWU Vaal Hockey on Tuesday, August 11, 2020

“Dit was ’n fratsongeluk,” vertel sy ma, Tania, in die feestyd aan Huisgenoot. 

Brandon het vir die pret van ’n brug van sowat 23 m hoog in die Vaalrivier gespring.“Hy het nie kop eerste gespring nie. Hy het ook ’n reddingsbaadjie aangehad, maar ja, hy het verkeerd geval.

”Sy vertel waar Brandon vandag in die Netcare Rehabilitasie-hospitaal in Auckland Park aansterk, het hy nie toegelaat dat dié gebeurtenis hom van stryk bring nie. Die Vaaldriehoekse gemeenskap het intussen laer om hom getrek, en hy word geprys vir sy verstommende deursettingsvermoë en die positiewe gesindheid waarmee hy nou die lewe aanpak.

Brandon Moolman ontvang rehabilitasie om hom voor
Brandon Moolman ontvang rehabilitasie om hom voor te berei vir die lewe vorentoe in 'n rolstoel. Foto: Verskaf

Hulle hoop hy sal teen einde Januarie ontslaan word.

“Hy dra ons, nie ons vir hom nie,” vertel Tania, wat intussen saam met familielede die Facebook-groep Walk by Faith 06 gestig het, om bewusmaking vir spinaalkoordbeserings te skep en fondse vir sy rehabilitasie in te samel.

“Hy het vir my gesê: ‘Ma, ek is in ’n rolstoel. Ek’s nie dood nie.”

’n Fratsongeluk

Tania en Brandon se jonger suster, Tanisha (20), wat saam op die lyn met Huisgenoot is, vertel Brandon het uitgesien om ná die inperking saam met ’n groep vriende na die rivieroord naby Bothaville te gaan.

“Hulle het die dag boot gery en dit was seker net voor sononder toe hulle op die brug ’n foto wou gaan neem. Dit is baie mooi daar.

Die adrenalien het seker oorgevat, want net voor hulle die foto kon neem, toe spring Brandon eerste die rivier in,” vertel Tania.

Sy vriende het gou gesien Brandon beweeg nie en hulle na onder gehaas om hom te gaan help.

Brandon Moolman in die hospitaal. Foto: Verskaf
Brandon Moolman in die hospitaal. Foto: Verskaf

“Please breathe, brother, please breathe!” het een Engelse vriend geskree toe hy hom in die water kry.

“Hy moes weer begin asemhaal het. Ek dink dit was baie traumaties vir hulle,” vertel Tania, wat eers later die tyding by Brandon se pa, Leon, sou hoor. 

“Dit was asof God net beheer geneem het, want hulle het soos een man hulle hande onder sy rug en kop ingedruk en daar uitgehaal. Dit was doodstil, nie eens die meisies het meer geskree nie,” herleef sy sy vriende se vertelling van wat daar lang die oewer van die Vaalrivier afgespeel het."

Brandon Moolman is ernstig beseer nadat hy sy nek
Brandon Moolman is ernstig beseer nadat hy sy nek in 'n fratsongeluk gebreek het. Foto: Verskaf

'n Dokter wat by die oord was, het kom help.

“Hy het dadelik geweet Brandon het ’n spinale – en moontlik lewensgevaarlike – besering opgedoen, en gesê hulle moet dringend die ambulansdienste ontbied. Brandon is eerste na die staatshospitaal op Bothaville gebring, van waar hy dieselfde aand per ambulans na die Anncron-hospitaal oorgeplaas is.

“Hy het dadelik geweet Brandon het ’n spinale – en moontlik lewensgevaarlike – besering opgedoen, en gesê hulle moet dringend die ambulansdienste ontbied."

“Toe ek 23:00 daar aankom, was dit nie vyf minute nie, toe stop die ambulans daar met my kind. Hy was verskriklik verbouereerd en baie deurmekaar,” onthou sy. 

Die dokters het reeds die volgende oggend gemaan Brandon gaan waarskynlik ’n kwadrupleeg wees.

Ná net meer as twee weke is Brandon van die Anncron-hospitaal na die Clayton House-hospitaal in Johannesburg se hoësorgeenheid oorgeplaas, omdat hy steeds aan ’n ventilator gekoppel was om te kon asemhaal. Toe dit lyk asof sy toestand daar versleg, is hy na die Life Bedfordview Gardens-hospitaal oorgeplaas, waar hy nóg vier weke was.

“In totaal was Brandon 65 dae in die ICU,” vertel Tania. Hy is eindelik op 12 Oktober na die rehabilitasiehospitaal in Aucklandpark waar hy van voor moes leer om soos ’n kwadrupleeg te funksioneer.

'n Keerpunt

Tania vertel dit het in Clayton House nie baie goed met Brandon gegaan nie.

“Dit het daar maar baie swaar gegaan,” vertel sy. “Hy het baie gehuil en ook antidepressante begin gebruik.”

Tania vertel toe hy na Bedfordview oorgeplaas word, was dit asof sy gemoed vir die eerste keer begin lig het. 

“Sy geloof het daar sterker geword. Hy het vir my gesê dit is asof hy kan hoor hoe mense vir hom bid. Soms voel dit kompleet asof hy sweef.”

’n Inspirasie

Medies gesproke moes Brandon die gebruik van sy arms verloor het, maar Tania vertel hy kan reeds sy arms beweeg.

“Sy geloof het daar sterker geword. Hy het vir my gesê dit is asof hy kan hoor hoe mense vir hom bid. Soms voel dit kompleet asof hy sweef.”

“Hy kon ook die ander dag toe ek die masker laat val, dit op sy voet voel . . . Ons glo in ’n wonderwerk, want Brandon glo.”

Intussen leer hulle saam een keer per week hoe om hom te versorg wanneer hy die dag huis toe kom.

“Dit is sy droom om toertjies met sy rolstoel te kan doen.”

Brandon Moolman (links) saam met Pieter du Preez.
Brandon Moolman (links) saam met Pieter du Preez. Pieter is reeds 'n geruime tyd 'n kwadrupleeg en het 'n motiveringspraatjie vir die pasiënte by die rehabilitasiehospitaal kom gee. Foto: Verskaf

Sy vertel Brandon was van kleins af stil en teruggetrokke. “Ek glo God het reeds voor sy geboorte bepaal waardeur hy eendag sal moet gaan. Ek het berusting in God se plan met sy lewe.”

Dis vir haar swaar om te weet hulle sou hom nie op Kersdag kan sien nie. Weens die covidmaatreëls is besoektye baie streng en mag hulle net op sekere dae besoek aflê.

“Maar ek dink ons mis hom meer as wat hy ons mis. Hy het klaar gesê ons hoef nie elke dag te bel nie. "

Wat die nuwe jaar inhou, weet hulle nog nie.

“As alles goed gaan met al die covid-dinge sal hy teen 29 Januarie weer kan huis toe kom,” sê Tania.

“As jy met hom gesels besef jy hoe blink en vol geleenthede hy sy toekoms sien, en hy is nie net vol drome nie, maar ook hoe om die drome te bereik,” vertel sy suster, Tanisha.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe