Daardie aand het die pragtige driejarige dogtertjie van Gerry en Kate McCann spoorloos verdwyn tydens die McCanns se gesinsvakansie in Praia da Luz, Portugal, terwyl haar sibbe, die tweejarige tweeling Sean en Amelie, rustig voortgeslaap het . . .

Sedertdien het hofsake, beskuldigings, ontkennings en samesweringsteorieë hoogty gevier. Duisende ponde is ook reeds vrugteloos in die soektog na klein Maddie bestee. Die fondse het onlangs opgedroog. Nou is daar nuwe hoop om die soektog na Maddie voort te sit.

Meer fondse

Dinsdag laat is die nuus bekendgemaak dat Scotland Yard ’n bedrag van £150 000 ontvang het om tot Maart 2019 die soektog na Maddie voort te sit.

Sover bekend het Scotland Yard vanaf 2011 tot nou reeds £11,75 miljoen aan die ondersoek, wat hulle Operation Grange gedoop het, bestee. Volgens prosedure het speurders verbonde aan Operation Grange elke ses maande versoeke gerig vir meer fondse, waarvan die mees onlangse bydrae van £85 000 op 30 September opgedroog het.

Daar is ook die Leaving No Stone Unturned-fonds opgerig in die hoop om Maddie te vind. Dié fonds het binne enkele maande £1,8 miljoen bereik.

Maar in 2009 het dit bekend geword dat die geld in daardie fonds aansienlik uitgeput is. Kate en Gerry, wat in Rothley, Leicestershire in Engeland woon, het boonop twee betalings vir hul huisverband uit die fonds betaal.

’n Verdere £250 000 is aan privaat speurders betaal, terwyl £123 573 aan die bestuur van die veldtog om Maddie op te spoor, betaal is. ’n Deel van daardie geld was glo aan die McCanns se tydelike woordvoerder, Justine McGuinness, en aan ’n skakelmaatskappy betaal.

Met die nuwe fondse wat nou aan Scotland Yard beskikbaar gestel is, is daar weer nuwe hoop vir Maddie se ouers dat die soektog na hul dogter voortgesit kan word.

'Die vrou in pers'

In November verlede jaar het die speurders gedink hulle het eindelik die vrou in pers opgespoor wat tydens Maddie se verdwyning deur ooggetuies naby die McCanns se vakansiewoonstel gewaar is. Die kriminoloog Heriberto Gonzalez is daarvan oortuig dis ’n Bulgaarse kelnerin Luisa Todorov wat by die Ocean Club-oord gewerk het toe Maddie verdwyn het.

Maar aikôna, sê Luisa.

“Dit was nie ek nie. Ek het lank gelede met die polisie oor die saak gesels en ek wil nie regtig weer daaroor praat nie. Niemand hier wil nie, dit bring nare herinneringe terug.”

Bronne: dailymail.co.uk, theguardian.com, findmadeleine.com, thesun.co.uk, bbc.com, theweek.co.uk