Die Suid-Afrikaanse weergawe van die gewilde BBC Worldwide se Dancing with the Stars (DWTS) sal plaaslike talent die kans bied om die wêreld aan die brand te dans met hul fynste en elegantste danspassies.

Die sjarmante Tracey Lange (Heart FM- en Bravo!-aanbieder) en Chris Jaftha (wat as Mzansi se sexieste man aangewys is en ook sy lyf model en akteur hou) sal selfs meer luister aan die reeks verleen.

Tracey sê DWTS South Africa is beter as enige droom wat sy nog ooit kon droom om waar te word.

’n Opgewonde Chris sê hy dink nie hulle besef die omvang van die reeks nie. Hy kan nie wag om saam met Tracey die reis aan te pak nie.

Lani Lombard, M-Net se publisiteitshoof, sê M-Net doen bokspronge van pure opgewondenheid oor die reeks wat voorlê.

“Tracey en Chris is die perfekte paar om regstreekse uitsendings teen ’n vinnige pas te hanteer.”

Ses plaaslike manlike en ses vroulike sterre gaan vanaf 4 Februarie 2018 saam met beroepsdansers wat in Latynse en baldanse geskool is, mekaar die stryd aansê.

Die gewilde danskompetisie is reeds in 50 lande gelisensieer. Joel Churcher, adjunk-president en algemene bestuurder vir BBC Worldwide Africa, beskryf die formaat as een van die suksesvolste internasionale televisiereekse. Dit word van Brasilië tot in Swede uitgesaai, en nou in Suid-Afrika.