Waar sy op die verhoog staan, straal die tienermeisie se gesig naakte woede en veragting uit. “Julle het my drome en jeug met jul leë woorde gesteel. Mense ly; hulle is besig om dood te gaan.”

Dié woorde van die 16-jarige Sweed Greta Thunberg is gerig aan die wêreldleiers en ander gesiene afgevaardigdes by die Verenigde Nasies (VN) se onlangse klimaatsberaad in New York waar sy namens die kinders van die wêreld praat.

En dis vir pres. Donald Trump wie sy so aangluur. As sy die son en hy ’n stuk poolys was, was Trump nou ’n plas water. 

Greta gluur die Amerikaanse president, Donald Trum
Greta gluur die Amerikaanse president, Donald Trump, aan. Foto: Reuters

“Hele ekosisteme stort ineen. Ons is aan die begin van ’n massa-uitsterwing, en al waaroor julle kan praat, is geld en sprokiesverhale van ewige ekonomiese groei,” gaan Greta voort.

“Die oë van alle toekomstige generasies is op julle gerig. As julle ons in die steek laat, sal ons julle nooit vergewe nie.”

Dit gons steeds in die sosiale media en televisiegeselsprogramme oor daardie oomblik tussen die tienermeisie en die magtige Amerikaanse president.

Te midde van ongekende wêreldwye protes­optogte teen die klimaatskrisis is sy immers die gesig van die jeug – en dis 'n woedende gesig.

Maar wat het op die beraad na vore gekom? Word vordering gemaak teen wat kenners as die grootste bedreiging vir die mensdom beskryf?

Skoolstakings vir die klimaat

Greta – wat twee weke lank oor die Atlantiese Oseaan na New York geseil het omdat sy teen die koolstofvoetspoor van die lugvaartbedryf gekant is – is die aktivis agter 'n Sweedse skoolprotes teen ­die klimaatskrisis wat mettertyd tot 'n wêreldwye beweging onder jonk en oud gegroei het. 

Met haar aankoms in New York is sy deur duisende aktiviste begroet, onder wie Alexandria Villaseñor (14), die leier van Earth Uprising.

 Greta (voor, middel) en haar medeprotesleier, Ale
Greta (voor, middel) en haar medeprotesleier, Alexandria Villaseñor (tweede van regs), betoog in New York oor die klimaatskrisis. Foto: Reuters

“My generasie kon tot dusver 'n uitwerking op die klimaatsbeweging hê omdat ons ons ­organiseer buite die strukture waarin volwassenes werk,” het Alexandria op­gemerk.

Greta se bedrywighede het 'n wêreldwye Fridays for Future-beweging ­geïn­spireer. Tydens die VN-beraad het volwassenes wêreldwyd die jonges se voorbeeld gevolg en saam “gestaak”.

Duisende maatskappye het hul webtuistes tydelik gesluit en besoekers na 'n globale klimaatstaking-webtuiste (global­climatestrike.net) herlei:

“Jong mense het 'n groot deel van die wêreld wakker geskud. Miljoene volwassenes sluit nou aan by 'n reusegolf wat hernude aksie oor die hele wêreld stukrag gee. Die dringendheid van die klimaatskrisis verg 'n nuwe benadering,” word hiermee verklaar.

In die weke om die VN-klimaatsaksieberaad alleen het miljoene mense in 150 lande stem dik gemaak.

VN se klimaatsaksieberaad: Steeds baie praat, min aksie?

Met die beraad wou die VN-sekretaris-­generaal, António Guterres, staatshoofde tot nuwe planne teen die klimaatskrisis aanspoor. Die teiken: om die vrystelling van aardverwarmende kweekhuisgasse teen 2030 met 45% te sny.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die beraad is voorgehou as 'n geleentheid vir die internasionale gemeenskap om eindelik met klimaatsaksie op koers te kom. Maar dalk was die verwagtings te hoog.

Die VN wys nou daarop dat 65 lande hulle op die beraad tot nuwe teikens verbind het en dat 70 lande harder gaan probeer om kweekhuisgasvrystellings te verminder. 

Maar António erken: “Ons het 'n lang pad om te stap. Ons het meer konkrete planne en groter ambisie van meer lande en ondernemings nodig.” 

Die algemene siening onder omgewingswaarnemers is dat die beraad maar teleurstellend was.

Die rede?

Amerika, China en Indië, wat tussen hulle verreweg die meeste tot kweekhuisgasse en dus aardverwarming bydra, is steeds halfhartig. 

Trump, wat talle Amerikaanse omgewingsregulasies vir die bekamping van kweekhuisgasvrystellings uit motor­uitlaatpype, steenkoolkragstasies en olie- en gasvelde gekelder het, het net 15 minute lank geluister na wat enkele ander groot lande beloof.

Maar Amerika self was tjoepstil.

Dr. Anthony Turton, 'n gerekende water- en omgewingskenner verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat se sentrum vir omgewingsbestuur, dink tog ons sien nou 'n keerpunt waar die publiek vir regerings kwaad raak. 

'n Paartjie waad deur vloedwater te midde van groo
'n Paartjie waad deur vloedwater te midde van groot sikloonskade in Mosambiek. Foto: Reuters

“En daardie woede word deur kinders gedryf,” vertel hy aan Huisgenoot. “Dit gebeur wêreldwyd waar dit blyk demokrasieë nie in staat is om die eise van klimaatsverandering te hanteer nie. 

“Maar ongelukkig word misleidende inligting nou ook as 'n wapen ingespan deur entiteite wat nie wil verander nie. “Hulle ondermyn die geloofwaardigheid van die wetenskap en verwar die publiek.”

Hy sê die Donald Trump-administrasie hou 'n groot gevaar vir klimaatsveranderingsreaksie in. 

“Hy het instellings wat verandering dryf, afgetakel en ’n sistematiese aanval op wetenskaplikes gelei . . . Maar die wetenskap is onaanvegbaar. Die weer raak ál ekstremer en mense versnel hierdie proses,” sê hy. 

Indië se premier, Narendra Modi, het onderneem om sy land se hernubare energievermoëns binne enkele jare te verdubbel, maar wou geen beloftes maak om hul afhanklikheid van fossielbrandstowwe soos steenkool binnekort te verminder nie. 

Ook China het geen voornemens aangekondig om van fossielbrandstowwe weg te beweeg nie.

Hoe groot is Moeder Aarde se nood?

Seeys wat smelt, bedreig talle spesies – insluiten
Seeys wat smelt, bedreig talle spesies – insluitend ysbere. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die tempo van aardverwarming het be­duidend toegeneem, wys die jongste navorsing. 

Die vyf jaar tussen 2014 en 2019 was die warmste in die aangetekende wêreldgeskiedenis. 

Die gemiddelde wêreldtemperatuur is reeds 1,1 °C hoër as teen die middel- 19de eeu, en CO2-vrystellings is tans die hoogste ooit. Sou die huidige aardverwarmingstempo voortduur, kan die aarde teen die einde van die eeu ’n rampspoedige 3 °C warmer wees as voor die nywerheidsera. 

In 'n verslag, “The human imperative of stabilizing global climate change at 1.5 °C”, waarvan die Wits-klimaatsweten­skaplike prof. Francois Engelbrecht ’n medeskrywer is, word aardverwarming as die “grootste bedreiging vir die mensdom en globale ekosisteme in die komende jare” beskryf.

Al is 'n toename van 2 °C eens as draaglik beskou, lyk dit nou onbeheerbaar en gevaarlik vir natuurlike en menslike sisteme, lui die verslag.

Intussen sê prof. Mark New van die Universiteit van Kaapstad se African ­Climate and Development Initiative die feit dat mense die oorweldigende oorsaak van langtermynklimaats­veranderings is, is reeds vir amper alle klimaats­wetenskaplikes bewys.

“Hierdie saak moet dus gesluit wees.” 

Volgens Mark neem aardverwarming teen “voortdurend vinniger tempo’s” toe, tans 0,2 °C per dekade, omdat die konsentrasies van kweekhuisgasse in die ­atmosfeer self ál vinniger toeneem.

Die oseane, wat omtrent 90% van die ekstra hitte absorbeer wat kweekhuisgasse in die atmosfeer vasvang, kan ook nie voorbly nie. 

'n Warmer atmosfeer en warmer oseane veroorsaak drastiese veranderings soos skerp afnames in Arktiese somer-­seeys – wat 'n geweldige uitwerking op mariene ekosisteme het – toenemende seevlakstygings wat laagliggende kusgebiede en eilandgroepe kan oorstroom en ’n toenemende voorkoms van klimaatsuiterstes soos droogtes en swaar reën, wegholbrande, vloede en modderstortings. 

Volgens Mark dui een studie daarop dat die waarskynlikheid van die Wes-­Kaapse droogte van 2015 tot ’18 verdrievoudig is weens die menslike invloed op die natuur.

“In Suid-Afrika sien ons 'n verandering in reënval, met 'n droër as gemiddelde tydperk ná 1982, en 'n opvallende ver­skuiwing in winterreënval,” sê Anthony.

Hy noem nog voorbeelde van die uitwerking van die klimaatskrisis: “Verlede somer het ons 'n verwoestende sikloon met lewensverlies in KwaZulu­Natal gesien wat ook Mosambiek beïnvloed het.

"Dit terwyl die Karibiese streek ongehoorde orkaanaktiwiteit ervaar het met ­kategorie 4- en 5-gebeure wat eiendom verwoes en lewens geëis het.

"In Australië sien ons bleiking van die koraal op die Groot Koraalrif weens stygings in seetemperatuur. Daardie selfde area is verwoes deur tifone wat ook baie van die koraal vernietig het.”

Benewens die implikasies vir seelewe en kus-ekonomieë verloor koraalriwwe ook hul vermoë om groot hoeveelhede koolstof vas te vang, sê Anthony. 

“En twee gletsers is onlangs dood verklaar. Ys speel 'n groot rol in die tempering van globale temperatuur. As dit dus eers weg is, betree ons 'n nuwe era van uiterste hitte, wat moontlik met massa-­uitsterwing vereenselwig sal word.”

En klimaatsverandering hou dikwels 'n groter gevaar in vir ontwikkelende lande soos Suid-Afrika.

“Onthou, dis nie net langtermynseevlakstygings wat saak maak nie; stormstuwings wat deur weer­uiterstes soos orkane, tornado’s of siklone veroorsaak word, kan seevlakke tydelik met meters laat styg.” 

  • Ekstra bronne: un.org, theconversation.com, sciencemag.org, reuters, bbc
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.