7de Laan-aanhangers se doodnormale Sondagmiddag het gister in ’n fiasko ontaard toe SABC2 glo die verkeerde episodes in die plek van die omnibus uitgesaai het.

Pleks daarvan om die vorige week se episodes uit te saai, is kykers verras met ’n voorsmaak van die komende week se episodes.

Buiten dat baie kykers vreeslik verward was, het talle ander gejuig oor die nuus dat Hilda de Kock, wat deur Annelisa Weiland vertolk word, die ma is van die snobistiese Mariaan Welman (Deirdre Wolhunter). Sedert Deirdre se karakter haar voete in die Laan gesit het, het sy al vir hope onrus en drama gesorg. 

“Ek is so lief vir 7de Laan ek gee nie eers om nie, ek kan dit die hele dag lank kyk. Ek is mal oor al die karakters. #hugefan,” lees een aanhanger se inskrywing op die 7de Laan Facebook-blad.

“Geen wonder Hilda en Mariaan kom so goed oor die weg. Wanneer Mariaan ’n probleem het voel sy altyd gemaklik om dit met Hilda te deel,” het ’n ander opgewonde geskryf.

“Ons sal nou maar moet wag en sien wat kom die week op. Regtig 'n vrugteslaai-omnibus gewees. Ek het net 1 episode gemis, maar elke episode was onbekend. LOL nou het ons 'n kykie in die toekoms gekry,” skryf nog ’n aanhanger.

Die 7de Laan-span het gistermiddag (Sondag) laat om verskoning vir die omnibus-oepsie gevra en verduidelik dit is die verantwoordelikheid van die SAUK om die korrekte episodes uit te saai.  

“Liewe 7de Laan-aanhangers, ons is bewus die verkeerde episodes is vandag tydens die omnibus uitgesaai. Die SAUK is verantwoordelik vir die episodes wat uitgesaai word. Ons het hierdie voorval onder hul aandag gebring. Hopelik sal dit nooit weer gebeur nie. Asseblief aanvaar ons verskoning vir die ongerief. #7delaan,” het die bemarkingsafdeling van die sepie op die 7de Laan Facebook-blad geskryf.